Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Volhoubare houthuismark is moontlik in SA
Die eerste voorstel van ’n houthuis.
Met huise soos dié is dit moeilik om te glo dat dit alles van hout gemaak is.
’n Voorstelling van hoe die huise gebou sal word.

Huise in Suid-Afrika kan in die toekoms eerder met hout as met sement en pleister gebou word.

Nie net sal dit die denke rondom die boubedryf verander nie, maar dit is ook meer omgewingsvriendelik, meen navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) wat ’n studie daaroor in die South African Journal of Science gepubliseer het.

Die US sê in ’n verklaring dr. Philip Crafford van die US se departement bos-en-houtkunde en dr. Brand Wessels, ’n kollega, het die land se houtbronne en die uitwerking op aardverwarmings indien die bedryf in die toekoms groei, ondersoek.

Tans word slegs 1% van nuwe huise in Suid-Afrika met hout gebou teenoor lande soos die VSA, Kanada en Australië, waar reeds 90% van nuwe huise met hout gebou word.

Dit terwyl Suid-Afrika oor genoeg houtbronne beskik om ’n volhoubare houthuisbedryf te kan hê.

“Ons studie toon dat deur die houtbronne te gebruik wat tans as spaanders uitgevoer word, tesame met die aanplanting van bome in gebiede wat vir bebossing geoormerk is, sal dit (op die lange duur) moontlik wees om ’n toekomstige houthuisboubedryf aan die gang te hou,” sê Crafford.

Hy sê hulle wou vasstel of daar plaaslik genoeg hout is om die bedryf te ondersteun. Om dit te kon doen, het hulle die woonhuis-voetspoor in die land, asook beskikbare houtbronne vir houthuise en hierdie tipe boumetode se moontlike effek op die omgewing ontleed.

“Weens die beperkte bosdekking in Suid-Afrika is daar dikwels ’n siening dat ’n aansienlike groei in die markaandeel van houtgeboue nie moontlik is nie (ten minste nie van plaaslike houtbronne nie). Ons studie toon egter dat hierdie siening nie korrek is nie.

“Indien ons slegs die houtspaanders wat tans beskikbaar is as ’n bron oorweeg, kan 39 646 houtwonings (30 523 huise en 9 123 woonstelle) jaarliks gebou word. Met die bebossingshulpbronne sal 55 314 wonings (42 586 huise en 12 728 woonstelle) jaarliks gebou kan word. Dit is 1 203 meer as die gemiddelde nuwe geboue in die afgelope 17 jaar.”

Ons studie toon dat deur die houtbronne te gebruik wat tans as spaanders uitgevoer word, tesame met die aanplanting van bome in gebiede wat vir bebossing geoormerk is, sal dit (op die lange duur) moontlik wees om ’n toekomstige houthuisboubedryf aan die gang te hou.

Hulle het bevind nagenoeg 95 000 houthuise sal jaarliks gebou kan word.

Crafford sê dat indien invoere en huidige pulp-, bord- en ander houtbronne uitgesluit word, kan daar in die toekoms na raming 6,23 miljoen m³ houtbronne beskikbaar vir houthuiskomponente wees.

Hierdie hoeveelheid houtbronne sal 6 019 Boeing 747’s of 55 377 dubbeldekkerbusse kan vul.

Ná verskeie studies oor dié bedryf blyk dit dat hout nie alleen hernubaar is nie, maar uit ’n omgewingsperspektief ook die beste vertoon, vergeleke met ander boumateriaal soos staal en beton, en dit het veral goed ten opsigte van die vrystelling van kweekhuisgasse presteer.

Die navorsers se voorspelling is dat indien 20% van alle nuwe huise met hout gebou sou word, sal die hoeveelheid energie/fossielbrandstof wat vir produksie benodig word en die aardverwarmingspotensiaal van die residensiële boubedryf met 4,9% verminder. Indien alle nuwe konstruksie op hout gebaseer sou wees, kan dit tot 30% verminder. Tans is dié bedryf vir 27% van die land se mensgemaakte koolsuurgasvrystellings verantwoordelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.