Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Voorspellings vir eiendom in 2019

Dit is bekend dat 2018 tot dusver ’n uitdagende jaar vir die Suid-Afrikaanse eiendomsmark was. Wat kan ons vir die laaste paar maande in Gauteng verwag en wat is kenners se voorspellings vir vroeg 2019?

Dié vierslaapkamerhuis in ’n veiligheidskompleks in Douglasdale word vir R3 699 000 verkoop. Foto: Seeff

Seeff se kenners in prominente areas in Gauteng stem saam dat hoewel ons waarskynlik nog vir ’n hele ruk in ’n kopersmark gaan bly, is geen mark sonder geleenthede nie. Ernstige verkopers wat hul eiendom reg prys, sal altyd ’n koper vind, ten spyte van moeilike omstandighede.

Gerhard van der Linde, Seeff se besturende direkteur in Pretoria-Oos, sê dié tak het in Julie 2018 ’n teleurstellende verkoopmaand beleef, maar sedert September het skouhuis-bywoning en navrae deur eiendomswebtuistes die hoogte ingeskiet.

“Histories is September en die koms van die lente nog altyd die begin van ’n positiewer tydperk. Dit is nie slegs die seisoensverandering en tuine wat blom wat hierdie verandering teweegbring nie, maar ernstige verkopers besef hoe noodsaaklik dit is om hul eiendom mededingend te prys.

“Ons glo ook dat mense toenemend besef dat alles wat hulle oor die eiendomsmark lees nie noodwendig die heilige waarheid is nie. Die ophef wat oor huidige kwessies gemaak word en ’n negatiewe uitwerking op die eiendomsmark het, is in die meeste gevalle nie van toepassing op die gemiddelde huiseienaar nie.

“Pretoria-Oos bly ’n gesogte area en die aanvraag na eiendom onder R4 miljoen is steeds hoog. Wanneer eiendom meer as R4 miljoen beloop, is daar egter ’n duidelike afname in aanvraag.”

Charles Vining, Seeff se besturende direkteur in Sandton, sê hier verwag hulle dat die vraag na eiendom geleidelik sal toeneem namate kopers meer vertroue in die mark herwin.

Die toename in lewenskoste en die impak van belastingverhogings (soos BTW en munisipale belasting) en ekonomiese onsekerheid het kopers skrikkerig gemaak, maar dit word gelukkig teengewerk deur goed geprysde eiendom deur ernstige verkopers en die banke se gewilligheid om lenings toe te staan.

Vining sê verkope in die prysklas van R4 miljoen tot R8 miljoen beweeg egter steeds stadiger as gewoonlik, maar markvertroue is aan die toeneem.

“Belangstelling in eiendom wat tussen R8 miljoen en R25 miljoen beloop, is op die oomblik hoër as wat dit oor die laaste 18 maande was. Die rand wat swak verhandel, dien as ’n aansporing vir buitelandse kopers om te belê, want hul koopkrag is ongeëwenaard.

“Ons verwag meer verkope in die luukse mark in die laaste kwartaal van 2018 en vroeg in 2019. Sodra die verkiesing afgehandel is, verwag ons verdere verbetering, omdat kopers dan meer duidelikheid sal hê.

Oor die afgelope drie jaar het verkope in Centurion met 40% afgeneem en dit sal waarskynlik nie optel voor die einde van die jaar nie.

Die afgelope dekades het bewys die Sandton-area bied goeie beleggings. Daar is baie wat in en om Melrose en Rosebank gebeur, wat eiendomsbelegging hier en in die “Parks-areas” uiters gesog maak.

“Sodra konstruksie in Fourways voltooi is, gaan die Noord-Johannesburgse voorstede ook in hoë aanvraag wees. Hierdie voorstede bied iets vir almal.”

Die ontwikkeling in en om Midrand (Waterfall en Mall of Africa) beteken dat Midrand-inwoners nie meer na Sandton, Fourways of Pretoria toe moet reis vir inkopies en vermaak nie.

“In die laaste tyd sien ons beslis dat kopers meer positief is.”

Steve van Wyk, Seeff se besturende direkteur in Centurion, voorspel die eiendomsmark hiér sal stadig bly tot die nuwe jaar, en waarskynlik totdat die verkiesing volgende jaar verby is.

“Oor die afgelope drie jaar het verkope in Centurion met 40% afgeneem en dit sal waarskynlik nie optel voor die einde van die jaar nie. Die grootste uitdaging is dat Centurion meer as 9 000 eiendomme te koop het, terwyl kopersnavrae met meer as 50% gedaal het.

“Een- en tweeslaapkamer-meenthuise verkoop egter binne ses weke (42 dae) – die helfte van die tyd as in die res van Gauteng. Eerste kopers in Centurion kan eenhede in nuwe komplekse wat naby belangrike paaie en die Gautrein-stasie geleë is, vir tussen R700 000 en R1,5 miljoen vind.”

Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.