Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Vukile brei uit onder Spaanse son
Die Parque Oeste-kleinhandelpark in Alcorcón van 13 604 m², een van die bates in Spanje wat deur Vukile verkry is.

Die Vukile Property Fund het ’n portefeulje van nege nuwe kleinhandelparke in Spanje aangekoop deur sy nuwe Spaanse filiaal Castellana Properties, waarvan hy 98,3% besit.

Dié bates is soortgelyk as die waardesentrums in Suid-Afrika.

Dié verkryging teen R2,8 miljard stoot Vukile se buitelandse blootstelling tot sowat 21% van sy totale bates op en verhoog sy Spaanse bates tot elf.

Vukile hou ook ’n belang in Atlantic Leaf, wat ’n portefeulje eiendomme in Brittanje het.

Die koopsom verteenwoordig ’n aantreklike aanvangsopbrengs van 6,2%.

Vukile bied nou die mees gefokusde blootstelling aan Spanje van al die rolspelers in die Suid-Afrikaanse sektor vir genoteerde eiendomsbeleggingstrusts (reits).

Laurence Rapp, uitvoerende hoof, sê die strategie om in die ontwikkelde markte van Wes-Europa te diversifiseer, onderskei Vukile van die talle ander Suid-Afrikaanse eiendomsfondse wat grootliks op die ontluikende markte van Oos- en Sentraal-Europa fokus.

“Omdat Vukile uit ’n ontluikende ekonomie afkomstig is, het dit vir ons sin om eerder op ontwikkelde markte vir groei te fokus.”

Die Kinepolis-kleinhandelpark in Granada van 18 508 m².

Hy sê die transaksie voorsien Vukile van ’n stewige groeiplatform in een van die oortuigendste beleggingsgebiede in die Eurosone. “Die Spaanse ekonomie het in 2016 teen 3,2% gegroei en groei van 2,2% word vir 2017 verwag, vergeleke met 1,5% vir die Eurosone. Spanje se ekonomiese groei word aangedryf deur ’n afname in sy werkloosheidsyfer wat op sy beurt kleinhandelbesteding aanmoedig.

Die nege kleinhandelparke het ’n gesamentlike bruto verhuringsruimte van ongeveer 117 670 m² en ’n lae leegstaansyfer van 2,7%.

Rapp sê die parke het ’n diverse huurdersmengsel met ’n totaal van 73 winkels, waar 95% van die inkomste afkomstig is van plaaslike nasionale huurders. Die geweegde gemiddelde huurkontrak is 15,6 jaar. Die huurders sluit in Sprinter, die grootste sportklere-kleinhandelaar in Spanje, Worten ’n huisware-kleinhandelaar en Kiwoko, ’n troeteldierversorgings-kleinhandelaar.

Die transaksie is moontlik gemaak deur Vukile se verbintenis met Lee Morze, ’n suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur wat nou in Madrid woon. Die Morze-familie is Vukile se vennoot in Castellana Properties.

Om die verkryging te finansier het Castellana skuldfinansiering van 94,8 miljoen van Spaanse leningsinstellings verkry. Die oorblywende 103,3 miljoen word gefinansier deur Castellana se beduidende krygskas vir internasionale uitbreiding.

Vukile het totale bates van R18,7 miljard, waarvan R14,8 miljard of 79% Suid-Afrikaanse eiendomsbates is.

Die kleinhandelparke is:
  • Parque Oeste in Alcorcón van 13 604 m²

  • Parque Principado in Asturias van 16 246 m²
  • Kinepolis in Granada van 18 508 m²
  • Marismas del Polvorin in Huelva van 20 000 m²
  • La Heredad in Mérida van 13 447 m²
  • La Serena in Villanueva de la Serena van 12 405 m²
  • Mejostilla in Cáceres van 7 281 m²
  • Retail Park Motril in Motril van 5 559 m²
  • Ciudad del Transporte in Castellón van 3 250 m²

Meer oor:  Vukile Property Fund  |  Spanje  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.