Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Vuurwarm huismark in Kaap sal moet afkoel
Die luukse vierslaapkamer-villa in Clifton met twee sitkamers en twee eetkamers word deur Seeff bemark vir R60 miljoen. Foto: Seeff

Die huismark aan die Atlantiese kus in Kaapstad, die peperduur enklave vir superrykes, is oorverhit en sal moet afkoel.

Huispryse in die gebied het die afgelope vyf jaar, tussen die tweede kwartaal van 2012 en die tweede kwartaal van 2017 kummulatief met ’n astronomiese 143,1% toegeneem, blyk uit die nuutste eiendomsbarometer van First National Bank (FNB).

In die tweede kwartaal van vanjaar alleen is groei van 29,9% op ’n jaargrondslag in die gebied gemeet.

“My gevoel is daar gaan een of ander tyd ’n regstelling kom in die vorm van ’n reële daling in pryse,” sê John Loos, verbruiker- en eiendomstrateeg van FNB. ’n Reële daling is wanneer die uitwerking van inflasie in berekening gebring word.

Lees ook: ‘Borrels’: Die prys wat jy betaal, maak saak

Loos sê in tye waar daar sulke sterk groei plaasvind, is dit gewoonlik ’n geval van té uitbundige aankope. Kopers raak entoesiasties oor ’n gebied se onlangse sterk groeivertoning en klim dan in. Dié gebied is veral gewild onder superrykes vanuit die buiteland en uit Gauteng.

Hy glo die vlakke van buitelandse aankope is nie volhoubaar nie omdat die beleggersentiment jeens Suid-Afrika aansienlik verswak het.

My gevoel is daar gaan een of ander tyd ’n regstelling kom in die vorm van ’n reële daling in pryse.
John Loos van FNB

Grondtekorte in die gebied speel ook ’n kernrol, maar kan net sóveel doen om prysvlakke ’n hupstoot te gee voordat die aanvraag begin kwyn, sê hy.

Semigrasie

Billy Rautenbach, Seeff se verkoopsdirekteur aan die Atlantiese kus, sê hoewel buitelandse aankope die afgelope jaar noemenswaardig afgeplat het, word die mark steeds ondersteun deur die semigrasie van kopers uit ander provinsies.

“Daar is veral lewendige belangstelling in nuwe ontwikkelings soos Clifton Terraces, waar kopers meer as R100 miljoen moet uithaal vir ’n weelderige villa.”

Sy sê die volgende vuurwarm ontwikkeling waarna met groot afwagting uitgesien word, is die hotelmagnaat Sol Kerzner se komende projek op sy Klein Leeukoppie-landgoed tussen Houtbaai en Llandudno.

Duurste strate

  • Die eksklusiefste strate in die land met die hoogste prys per vierkante meter is The Ridge- en Cliff-weg in Clifton, waar kopers R95 000/m² of $7 280/m² gaan opdok, volgens die nuutste syfers vir Junie 2017 van die welvaartkonsultasiefirma New World Wealth (NWW).
  • Dock-weg in die V&A-marina is ’n kortkop agter met R91 000/m² ($6 973/m²), gevolg deur Nettletonweg in Clifton met R86 000/m² ($6 590/m²).
  • Dit kom egter steeds nie naby die prys van $50 400/m² vir ’n blyplek in Monaco, die duurste eiendomsbestemming ter wêreld nie. Londen, die Britse hoofstad, is die naasduurste met $41 500/m² gevolg deur St Tropez aan die Franse Riviera met $34 500/m². Dié syfers is gegrond op ’n nuwe wooneenheid of ’n villa van 200 m².

“Ondanks die feit dat die rand in 2017 tot sowat R13 teenoor die dollar verswak het, van sowat R7 teenoor die dollar in 2007, het talle Suid-Afrikaanse gebiede positiewe prysgroei in dollarwaarde oor die tien jaar gelewer,” sê Andrew Amoils, hoofnavorser by NWW.

Dit sluit in Nature’s Valley aan die Tuinroete met prysgroei per vierkante meter van 12% in dollar tussen Junie 2007 en Junie 2017, gevolg deur Franschhoek in die Wynlande met 10% en Noordhoek in Kaapstad met 8%.

“In randwaarde het pryse in die gebiede met meer as 100% toegeneem oor die afgelope tien jaar.”

Dit is in kontras met die res van die land waar gemiddelde huispryse in dollar/m² die afgelope tien jaar met 10% gedaal het, sê hy.

Meer oor:  Fnb  |  New World Wealth  |  Seeff  |  John Loos  |  Tuinroete  |  Houtbaai  |  Kampsbaai  |  Franschhoek  |  Clifton  |  Luukse Eiendom  |  Huismark  |  Huispryse  |  Kaapse Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.