Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Waardasies van huise skiet met miljoene deur dak

Marina Constas, ’n prokureur wat in Bedfordview woon, se huis was tot onlangs volgens haar én volgens die Ekurhuleni-metroraad R3,5 miljoen werd. Toe sy weer sien, het die eiendom se waarde volgens die waardasielys tot ’n onrealistiese R9 miljoen opgeskiet.

Sy is een van duisende inwoners aan die Oos-Rand in Gauteng wat sê daar is ’n magdom foute in die nuwe algemene eiendomswaardasielys wat die Ekurhuleni-metroraad op 1 Julie wil instel.

Hulle het tot Vrydag gehad om beswaar aan te teken.

Jou huis se waardasie bepaal die eiendomsbelasting wat jy moet opdok. Illustrasie: iStock

Die raad het Dinsdag in ’n verklaring gesê diegene wat beswaar teen hul eiendomswaardasies ingedien het, kan vir eers net betaal wat hulle meen billik is, mits hulle die kwessie by die kantoor gaan aanmeld.

Maar Constas, die voorsitter van die Inwonersaksiegroep van Bedfordview (RAG), wat 15 000 huishoudings verteenwoordig, sê hulle sal elke drie maande weer die fout met die waardasie moet aanmeld om te keer dat hul dienslewering opgeskort word.

RAG werk saam met die Organisasies teen Belastingmisbruik (Outa) om die intreedatum van die waardasielys met ’n jaar te vertraag sodat die foute eers uitgestryk kan word.

Volgens Constas het twee ander huise in haar buurt se waarde gestyg van R2 miljoen tot R13 miljoen en van R8 miljoen tot R22 miljoen. Verder is 800 huise in die middelklaswoonbuurt Meyersdal van die lys weggelaat en sekere wooneiendomme is verkeerdelik as sakeondernemings geklassifiseer, wat hoër belastingrekenings beteken.

Die RAG het al meer as 2 500 besware namens lede ingedien, sê Constas.

Peter Murray, ’n prokureur van Murray Prokureurs, wat werk aan ’n moontlike hofaansoek om die lys ter syde te stel, sê die lys moet die markwaardes van eiendom op 1 Julie 2020 weerspieël. Tóé was die land nog in die greep van die streng Covid-19-inperking en hotelle en gastehuise het leeggestaan. Nogtans het hul waardes op die lys gestyg.

Hy het namens sy kliënte aan die stadsbestuurder geskryf oor die probleme en gevra vir ’n vergadering. Hy het ook ’n aansoek ingedien om inligting te bekom oor die wyse waarop die waardeerders aangestel is.

Die raad het by navraag aan Rapport gesê hy gaan voort met die implementering van die lys en het aan Murray Prokureurs gesê diegene wat ongelukkig is met hul waardasies, moet besware indien en kan appelleer as hulle later ontevrede is met die uitslag daarvan.

Ben Espach, direkteur van waardasies by Rates Watch, sê daar is wydverspreide foute op die lys. Hy sê party eiendomme is te hoog gewaardeer, maar ander weer ver te laag en daar moet gekyk word na die groot getal eiendomme wat uitgelaat is en waarvan die raad dus geen inkomste gaan kry nie.

Espach sê van die 25 residen­siële eiendomme wat hy in die gegoede woonbuurt Ebotse nagegaan het, was 23 se waarde te hoog. Talle se waarde is meer as R1 miljoen te hoog. Tog was daar eiendomme wat vir ’n skamele R800 000 gewaardeer is, terwyl die gemiddelde markwaarde tussen R4 miljoen en R6 miljoen is.

’n Plaas van 39 ha elders in Ekurhuleni waarvan die markwaarde sowat R1 miljoen is, is vir R101 miljoen gewaardeer en een van 21 ha met ’n markwaarde van R3 miljoen tot R4 miljoen vir R10 miljoen.

“Daar is groot fout met die waardering van die plase,” sê hy.

Espach maan dat eienaars nie net die nuwe waardasie met die huidige moet vergelyk om te bepaal of dit billik is nie. Die huidige waardasies weerspieël die markwaarde op 1 Julie 2016. Die vraag is of die nuwe waarde in pas is met markwaarde op 1 Julie 2020. As dit skerp styg omdat die huidige waardasie onder markwaarde was, is dit nie noodwendig verkeerd nie, sê hy.

Espach sê eienaars wat nie betyds besware ingedien het nie, kan steeds versoek dat die waarde van hul eiendom nagegaan word as die waarde na hul mening te hoog is. So ’n versoek moet met inligting oor vergelykende verkope of ander markinligting ondersteun word.

Hy waarsku dat die raad se begroting vir die volgende paar jaar op die nuwe waardasielys geskoei is. As die totale waarde deur ’n magdom besware op die ou end wesenlik verlaag word, beteken dit die raad gaan nie die inkomste kry waarop hy gereken het nie.

Volgens Espach het die raad ’n morele plig om die eiendomme wat te laag gewaardeer is, te identifiseer en die waardes reg te stel. Dit sal die belastingplig op dié wat reg gewaardeer is verminder en sodoende beslag gee aan die beginsel van ’n regverdige en billike verdeling van belasting wat deur die Belastingwet vereis word.

Meer oor:  Ekurhuleni  |  Oos-Rand  |  Munisipaliteite  |  Munisipale Dienste  |  Belasting  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.