Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Wie betaal by koop van huis?

Huiskopers moenie onkant betrap word as dit by die betaling van die koste betrokke by die aankoop van ’n vaste eiendom kom nie. Dit is noodsaaklik dat die partye tot ’n kooptransaksie kennis dra van en die verskillende kostes verstaan wat betrokke is by die koop van ’n eiendom voordat hulle hulself daartoe verbind. 

By ’n normale eiendomstransaksie moet ’n koper voorbereid wees vir die betaling van ’n deposito (as die koopprys bo ’n sekere bedrag is) en die betaling van oordrags- en verbandregistrasiekostes. ’n Koper moet dié geld beskikbaar hê omdat finansiële instansies en banke gewoonlik nie bereid is om dit te finansier nie. 

Daar is verskeie kostes betrokke tydens ’n eiendomstransaksie waarvoor beide die koper en verkoper verantwoordelik is. Foto: iSTOCK

By die meeste transaksies vind  drie registrasiehandelinge plaas  in die aktekantoor, naamlik:

  • Die verkoper se huidige verband word gekanselleer (verbandkansellasie);
  • Eiendomsreg word oorgedra vanaf die verkoper na die koper (oordrag/transport);
  • ’n Nuwe verband word op die eiendom ten gunste van die koper se finansiële instelling/bank geregistreer as sekuriteit vir die terugbetaling van die lening van die koper (verband).

Die verkoper se koste

Die verkoper is aanspreeklik vir die betaling van die eiendomsagent se kommissie indien ’n eiendomsagent by die transaksie betrokke is. 

Die verkoper is aanspreeklik vir die betaling van die kansellasieprokureur se kostes. Die verbandhouer (verkoper se bank) stel ’n prokureur aan om die kansellasie van die verkoper se verband te behartig indien van toepassing. Hierdie kostes word voorgeskryf deur die Prokureursorde van Suid-Afrika.

Die verkoper stel die oordragsprokureur aan en die koper is aanspreeklik vir die betaling van dié prokureur se kostes.

Die banke vereis gebruiklik 90 dae kennis vir die kansellasie van die verkoper se verband. Dié sogenaamde boeterentes verminder pro rata namate die 90 dae kennis minder word. ’n Gemiddelde registrasie van oordrag neem 60 tot 90 dae, en dit is belangrik dat ’n verkoper vroegtydig met sy bank in verbinding tree om kennis van die kansellasie te gee.

Die verkoper is ook aanspreeklik vir die betaling van alle agterstallige en huidige bedrae aan die plaaslike owerheid vir erfbelastings asook heffings (indien van toepassing) verskuldig aan ’n regspersoon by deeltitelskemas en huiseienaarsverenigings. 

Die verkoper is aanspreeklik vir die uitreiking en betaling van ’n elektrisiteitsertifikaat (by alle transaksies), gassertifikaat en sertifikaat vir die elektriese heining (indien van toepassing). Die verkoper sal aanspreeklik wees vir enige kostes verbonde aan herstelwerk wat nodig mag wees om so ’n sertifikaat uit te reik.

Die koper se koste

Die koper is aanspreeklik vir die betaling van alle koste verbonde aan die oordrag van eienaarskap (die transport) en die registrasie van sy/haar finansiële instelling/bank se verband. 

Die verkoper stel die oordragsprokureur aan en die koper is aanspreeklik vir die betaling van dié prokureur se kostes. Ook dié koste word deur die Prokureursorde van Suid-Afrika voorgeskryf en word bereken op ’n glyskaal na aanleiding van die koopprys. 

Die oordragskostes sluit in:

  • die prokureur se koste, 
  • hereregte betaalbaar aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, 
  • Fica-gelde, 
  • kostes vir die verkryging van uitklaringsertifikate by die plaaslike owerheid, regspersoon en/of huiseienaarsvereniging, 
  • pro rata-bydrae vir erfbelastings/heffings, 
  • aktekantoorgeld, 
  • pos- en klein uitgawes en  
  • BTW en ander diverse kostes. 

Die koper se finansierder/bank stel ’n prokureur aan en die koper moet hierdie prokureur betaal. Die vergoeding van die prokureur word voorgeskryf deur die Prokureursorde van Suid-Afrika.

Die verbandkostes sluit in:

  • die prokureur se vergoeding, 
  • Fica-gelde, 
  • aktekantoor-gelde, 
  • die bank se inisiasiegeld, 
  • pos- en kleinuitgawes en 
  • BTW en ander diverse kostes. 

Om onaangenaamheid te voorkom kan die partye vooraf die koste by ’n akteprokureur versoek.

Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Prokureur  |  Eiendomme  |  Huiskoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.