Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Wie is bang vir te min voete?
Die Mall of Africa in Midrand het 26 ingange. Die deurskynende dak is 170 m lank.

Dit verg waagmoed om in die huidige ekonomiese klimaat R5 miljard in enige winkelsentrum te belê, maar soveel te meer in Gauteng waar die mededinging straf is.

En dis nie enige sentrum nie. Die Mall of Africa is ’n reusagtige spierwit sentrum van 130 000 m² in Midrand wat op 28 April open.

Die ontwikkelaars is die eiendomsbeleggingsfonds Attacq en die eiendomsontwikkelaars Atterbury.

Die konstruksie is grotendeels deur ’n lening van Nedbank gefinansier.

Louis van der Watt, uitvoerende hoof van Atterbury, skrik nie vir die uitdaging nie.

Gevra of dit nie waaghalsig is nie, het hy gesê: “Hierdie winkelsentrum is ’n ware streekswinkelsentrum omdat dit langs twee snelweë lê en enkele kilometers van die Buccleuch-wisselaar is, waar drie van die provinsie se groot snelweë ontmoet.”

Sowat 240 000 motors ry daagliks by dié sentrum verby en Van der Watt glo baie van hulle sal afdraai.

Die ontwikkelaars maak staat op die toeganklikheid en die unieke kenmerke van die sentrum om massas mense te lok.

Die sentrum het 26 ingange en 6 500 parkeerplekke.

“Dit is die modernste winkelsentrum in Suid-Afrika, met baie breë gange en baie natuurlike lig en waarskynlik die grootste verskeidenheid internasionale top-handelsname onder een dak.”

Die ontwikkelaars het huurders oortuig: Van der Watt sê al 300 winkels is reeds verhuur en slegs enkeles sal nie met die openingsdag reeds handel dryf nie.

Daar sal 21 internasionale winkels, waaronder H&M, ­Forever 21, River Island, Versace, Krispy Kreme en Starbucks wees.

Louis van der Watt, uitvoerende hoof van die eiendomsontwikkelaar Atterbury. Foto: Lisa Hnatowicz

Die Mall of Africa is in sommige opsigte ’n eerste.

Daar is nog nie voorheen in Afrika ’n winkelsentrum van hierdie grootte op een slag gebou nie.

Toe die Canal Walk in Kaapstad in Oktober 2000 voltooi is, was dit die grootste winkelsentrum in Afrika met ’n winkeloppervlakte van 125 000 m², maar dit is intussen tot 141 000 m² vergroot.

Dwarsdeur die middel van die sentrum loop daar ’n indrukwekkende deurskynende dak, 170 m lank, wat van driehoekige plastiekpanele gemaak is.

Gedurende die dag laat dit genoeg natuurlike lig deur sodat beligting onnodig is.

In die aand is daar ligte, wat in verskillende kleure kan skyn, wat in die dak aangeskakel kan word.

Dit is blykbaar die dak met die grootste spanwydte van sy soort in die Suidelike Halfrond.

Die sentrum het ook ’n groot tuinarea by die suidelike hoofingang met ’n amfiteater, fonteine en ’n waterorrel van R10 miljoen wat via ’n selfoon-toepassing (app) musiek sal kan speel.

Die Mall of Africa is deel van ’n baie groter ontwikkeling van 140 ha, genaamd Waterfall City, wat kantoorblokke en nywerheidseiendomme sal insluit.Daar is reeds ’n private hospitaal en vyf private skole in die gebied gebou.

Die N1-hoofweg is vroeër aangepas om toegangsroetes tot die gebied te verbeter.

Volgens die regeringsnuusagentskap sal dit R71 miljard kos om te bou.

Atterbury, wat sedert 1994 byna 2 miljoen vierkante meter van kommersiële, kleinhandel- en residensiële eiendom ontwikkel het, beoog nog twee soortgelyke “stede”: Richmond Park in Kaapstad, asook een in Pretoria-Oos.

Meer oor:  Atterbury  |  Mall Of Africa  |  Winkelsentrums  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.