Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Wiese se Tradehold sê les op oor Britte aanlyn koop

Dis ’n veeleisende tyd om eiendom in Brittanje en Suid-Afrika te besit, wys die halfjaarsyfers van Tradehold. Dis vir die ses maande tot einde Augustus.

In Brittanje beïnvloed die onsekerheid oor die land se bedanking uit die Europese Unie (Brexit) steeds eiendomspryse en Suid-Afrika het in ’n tegniese resessie verval, met min hoop op ’n volgehoue herstel, sê Friedrich Esterhuyse, Tradehold se mede- uitvoerende hoof.

Christo Wiese is die voorsitter en ’n groot aandeelhouer van dié maatskappy, wat die afgelope halfjaar ’n groot omwenteling ondergaan het. Minder as 22% van Tradehold se aandele verhandel vryelik op die JSE; die res word deur die bestuur besit.

Tradehold se afdelings vir finansiële dienste en sonkrag is vroeër vanjaar ontknoop en het op 23 Mei afsonderlik op die JSE se AltX-bord as Mettle Investments genoteer.

Die waarde van Tradehold se eiendomme en die groep se inkomste het die afgelope jaar gedaal. Die groep se totale bates het met 9,2% tot £843,7 miljoen gedaal en sy inkomste met 3,4% tot £48,6 miljoen. Dit is as die vorige jaar se syfers aangepas word om Mettle se inkomste te verwyder.

Sowat 40% van Tradehold se eiendomsbelange is in Brittanje, 52% in Suid-Afrika en Namibië, en die oorblywende 8% elders in Suider-Afrika. Die maatskappy gee nog altyd sy resultate in pond weer.

Tradehold se netto batewaarde per aandeel is nou 119 pennies, teenoor verlede jaar se 127,2 pennies. Weens die verswakking van die rand is dit wel hoër in randwaarde – R22,73 teenoor R21,33 verlede jaar.

Esterhuyse sê Tradehold se aandeelprys bied dus ’n “baie beduidende korting” op die maatskappy se waarde. Die aandeel, wat nie baie likied is nie, is die afgelope paar dae onveranderd op R12.

“In reaksie op die ekonomiese klimaat in Suid-Afrika fokus ons toenemend op groot nywerheidsgeboue van topgehalte,” sê hy.

Dié geboue beslaan nou 91% of 1,46 miljoen vierkante meter van die groep se totale bruto verhuurbare ruimte van 1,61 miljoen vierkante meter en sluit langtermynhuurders soos Sasol, Pep, Unilever, Massmart en Nampak in. Onverhuurde ruimte beloop slegs 2%.

As deel van Tradehold se herstrukturering het Collins Group, die naam waaronder Tradehold in Suid-Afrika sake doen, begin om niekernbates in sy portefeulje van 150 eiendomme van die hand te sit. Hiervoor is 37 kleiner geboue geïdentifiseer.

In Brittanje het Moorgarth, Tradehold se grootste filiaal daar, probleme ondervind met verhurings in van die winkelsentrums en nywerheidsgeboue in sy portefeulje van 23 eiendomme. Vier groot winkelsentrums verteenwoordig meer as 50% van die portefeulje en word geraak namate toenemend meer Britte aanlyn koop.

“Dié sentrums sal voortaan gekenmerk wees deur ’n sterk klem op ontspanning en gerief, en ’n terugkeer na ’n tradisionele handelsmarkmodel wat gemeenskapsgedrewe kleinhandel met plaaslike verskaffers en handelaars, en plaaslike produkte, insluit. Die verskeidenheid van dienste en geriewe word ook uitgebrei om voorsiening te maak vir al hoe meer restaurante, bioskope, gimnasiums en selfs spreekkamers vir dokters en tandartse,” sê Esterhuyse.

“The Boutique Workplace Company (TBWC), wat toegeruste kantoorruimte in 30 persele in Londen aanbied, het gedurende die verslagtyd skerp mededinging ervaar, veral van aggressiewe nuwe toetreders tot die bedryf wat markaandeel bo winsgewendheid stel. Hoewel TBWC van sy huurders in die proses verloor het, is die bestuur vol vertroue dat die gehalte van sy geriewe en diens toenemende aanvaarding in ’n kieskeurige mark sal vind.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.