Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Winkelsentrums dalk eersdaags boerderye

Die aantog van e-handel in Suid-Afrika gaan winkelsentrums laat kopkrap oor wat om met hul leë ruimte te doen.

Die beginneronderneming BeGreen het in 2018 ’n groenteplaas in ’n winkelsentrum in Belo Horizonte, Brasilië, begin. Foto: Food Tank

Kreatiewe opsies, wat wissel van wooneenhede, stedelike binnenshuise boerderye tot koelkamers, is genoem op ’n aanlyn sessie wat FNB se kenners oor kleinhandeleiendom Woensdag gehou het.

Die Covid-19-pandemie en inperkings het die mark vir winkeleiendom verskillend geraak. Winkelsentrums in meer stedelike provinsies het swaarder gekry, terwyl dié in landelike gebiede en meer landbougerigte provinsies nie so erg geraak is nie en selfs gegroei het, wys syfers van John Loos, FNB se eiendomsekonoom.

Met werk-van-die-huis wat ’n meer permanente verskynsel word, verwag Loos boonop dat die inkomstedemografie van residensiële eiendom in plekke soos Sandton of die middestad van Kaapstad gaan verander.

Sekere sentra met restaurante en kroeë vir korporatiewe werknemers is volgens Loos onder erge druk weens die aansienlik groter werk-van-die-huis-kultuur wat sal voortduur. Minder werkers gaan vir middagete of inkopies uit, so Loos verwag dat die inkomstedemografie van mense wat in dié omgewings woon, kan verander. In Sandton is daar ’n leegstaansyfer van soveel soos 22% in residensiële eiendom, so eienaars sal hul wooneenhede bekostigbaarder moet maak om huurders of kopers te lok.

Rentekoerse help

Kleinhandeleiendom het verlede jaar die swakste van die drie groot eiendomklasse gevaar. Die inperking was ’n groot skok vir winkelhuurders, met net 40% van huurders wat in ’n stadium op datum was met hul huurgeld.

Teen Desember het dit darem al verbeter tot 61% wat op datum was met hul huur, maar dit is steeds ’n swak syfer.

Anders as met die internasionale resessie van 2009 is die invloed van die pandemie versag deur onder meer lae inflasie, skerp laer rentekoerse en die Covid-19-welsynstoelae.

Loos sê die laer rentekoerse het baie sakeondernemings van ondergang gered.

Landelike sentra vaar beter

Loos sê ’n ontleding van FNB-kliënte se besteding wys dat kleiner, landelike provinsies waar die landbousektor steeds oop was, beter met besteding gevaar het, soos Noordwes, die Noord-Kaap, Limpopo, die Vrystaat en Mpumalanga. Hulle is nie so erg geraak deur die inperking nie, want die laeinkomstegebiede is gesteun deur maatskaplike toelae. Besteding was egter laer in Gauteng, die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Meer is aan e-handel bestee

FNB-kliënte se besteding aan e-handel was tot Maart nog 30% van hul normale aankope van die vorige jaar, maar dit het tydens die inperking opgeskiet tot meer as 100% as wat dit ’n jaar gelede was. Sedertdien het dit teruggesak tot soveel soos 66% van normale aankope teen Februarie vanjaar, wat reeds veel meer is as voorheen.

Toerisme was die groot verloorder wat betref die produkte waaraan mense geld bestee het. Kruideniersware, hardeware en meublement het skerp gegroei, en besteding aan brandstof en tolgeld was soos verwag laer.

Kantore gaan sukkel

Die kantoormark is die een eiendomsektor wat na verwagting vanjaar slegter sal vaar as voorheen. Die kantoorsektor is in werklikheid nie verlede jaar so erg geraak nie. “Hoewel ons almal huis toe gejaag is, het die huurders steeds vir die kantoorruimte betaal. Maar nou skaal die huurders af en herbenut ruimte, so ons verwag die kantoorsektor gaan swakker vaar.”

Terwyl nywerheids- en pakhuiseiendomme goed vaar, is die kleinhandeleiendom êrens in die middel.

Volgens Loos wys peilings onder eiendomsmakelaars dat hulle ’n groot ooraanbod van kleinhandelruimte het.

Nuwe gebruike

Oor e-handel sê Loos daar was vroeg in die 1990’s skeptici wat gemeen het selfone sal net rykmanspeelgoed bly, maar vandag het almal ’n selfoon. Skeptici moet dus nie onderskat hoe Suid-Afrikaners e-handel aangryp nie.

Hy merk op in Amerika het ’n tendens ontstaan waar sekere winkelsentrums deels in wooneenhede omskep is. Daar is ook ander opsies soos sogenaamde “stack farming” – binnenshuise boerdery – sodat vars produkte makliker toeganklik is vir aanlyn verbruikers. Daar is reeds in Amerika sulke verwaarloosde winkelsentrums wat nou vir landbou gebruik word.

Ander opsies is om aanlyn verspreidingsentra uit ou winkelsentrums te bedryf, of om koelkamers te bou vir die laaste-kilometer-aflewering. Maar winkeleiendom is ’n duur bateklas, so dit sal moet aanpas.

Waardasies en verligting

Preggie Pillay, hoof van FNB se afdeling vir handelseiendomfinansiering, sê die waardasies van winkeleiendom was voor die pandemie duur. Nou kan onafhanklike beleggers gehalte-winkeleiendom teen winskopies koop van eiendomsfondse soos die Reits wat hul portefeuljes herskik en van hul winkeleiendom ontslae wil raak.

Pillay en Loos stem saam dat stoorplek ’n goeie, defensiewe eiendomsbateklas geword het. Tot 90% van huurders van stooreiendom betaal getrou hul huur.

Volgens Pillay het FNB se kliënte min van verligting gebruik gemaak. Dit is wel tydens die eerste harde inperking gebruik omdat mense onseker was. Maar namate hul kontantvloei verbeter het, het FNB se aanbod van verligting min aftrek gekry.

Meer oor:  Fnb  |  E-Handel  |  Landbou  |  Winkelsentrums  |  Boerdery  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.