Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Winkels: Nog 2 j. se swaarkry lê voor

Hyprop, eienaar van bekende winkelsentrums soos Canal Walk en CapeGate in Kaapstad, Somerset Mall in Somerset-Wes, en Rosebank Mall in Johannesburg, het weens die Covid-19-inperkings ’n knou van R278 miljoen gekry.

Die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad is die grootste winkelsentrum in Hyprop se portefeulje. Foto: Hyprop

Hyprop se verspreibare inkomste is in die boekjaar tot einde Junie tot 336,5c per aandeel verlaag teenoor die vorige jaar se 493,4c.

Hyprop se belegging in Oos-Europa is veral in die afgelope boekjaar deur die pandemie geraak, want daar was verlengde inperkings op winkelsentrums van November verlede jaar tot Mei vanjaar. Sy inkomste van Hystead in Oos-Europa het gevolglik met R119 miljoen gekrimp. Hyprop het ook R159 miljoen se huurafslag aan huurders gebied in die boekjaar.

Hyprop verwag dit kan twee jaar duur om sy Suid-Afrikaanse portefeulje te herposisioneer om besoekersgetalle, huurderprestasie en huurinkomste te verbeter.

Sy Oos-Europese portefeulje vat langer om van die pandemie te herstel as dié in Suid-Afrika en die res van Afrika. Hyprop hoop dat handelstoestande sal verbeter ná die Europese somervakansie namate inentingsprogramme vorder.

Maar selfs in Suid-Afrika merk Hyprop ’n trae herstel by winkelsentrums. Die gemiddelde maandelikse besoekersgetalle aan sy winkelsentrums was in die afgelope boekjaar 7,6% laer as in die vorige boekjaar.

Min leë winkels

Tog staan winkels nie so erg leeg nie. Sy gemiddelde leegstaansyfer was in Junie 2,4% teenoor 2,9% in Januarie.

Die winkels wat goeie groei toon, is elektronika, sekere modehandelsname, sport- en buitelewegoedere, tuisdekor en geriefsdienste.

Die soort winkels wat nog sukkel, is reisagentskappe en skoonheidsalonne, met restaurante en rolprentteaters wat ook onderpresteer weens die perk op handelsure en toegelate sitplek.

Sy Somerset Mall-winkelsentrum in Somerset-Wes is byvoorbeeld ten volle verhuur, terwyl die gemiddelde leegstaansyfer by CapeGate, by Clearwater Mall in Johannesburg en by Woodlands in Pretoria onder 1,5% is.

Nuwe verhurings in die boekjaar sluit in die opening van Checkers FreshX-winkels in Rosebank Mall in Johannesburg en Woodlands, en die opknap van die bestaande Checkers in CapeGate tot ’n FreshX-winkel vorder. Dit sal teen Desember afgehandel wees.

Canal Walk kry in Maart volgende jaar sy eerste Zara-winkel in die plek van Foschini, wat na ’n ander perseel skuif. Die Amerikaanse koffiewinkelreus Starbucks het in die boekjaar takke in Canal Walk, Somerset Mall en Woodlands oopgemaak.

Somerset Mall kry vandeesmaand ’n Totalsports-megawinkel, en by CapeGate word Mr Price opgeknap en uitgebrei.

Rosebank Mall sukkel

Hyprop het gesukkel by die Rosebank Mall. Daar was die leegstaansyfer in die vorige boekjaar 7,5%. Dit het sedertdien verbeter tot 4,8% nadat nuwe huurkontrakte met iGnite Fitness en ander gesluit is.

In April het Hyprop hier die eerste van vier self-pakstoorgeriewe bekend gestel.

Hyprop het R9 miljoen aan elektrisiteitsuitgawes bespaar danksy die sonkrag wat hy by van sy Gautengse winkelsentrums geïnstalleer het.

Meer oor:  Hyprop  |  Inkopies  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.