Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Sentrums se verkope begin in Maart herstel

Suid-Afrikaners is terug in die winkels en koop lustig, wys die jongste syfers van een van die land se grootste winkelsentrumeienaars.

Die Mall of Africa het in Maart groei van 33% in handelsdigtheid, verkope per vierkante meter, behaal vergeleke met ’n jaar gelede. Foto: Attacq

Attacq, eienaar van die Mall of Africa – die grootste enkele winkelsentrum in Afrika – het Maandag syfers uitgereik wat wys hoe ses uit agt van sy winkelsentrums in Maart sterk verkoopsyfers getoon het vergeleke met ’n jaar gelede. Vier uit agt van sy winkelsentrums het boonop dubbelsyfer-groei aangeteken, en die geweegde gemiddelde groei in sy portefeulje was 14,6%.

Terug op 2019 se syfers

By die Mall of Africa in Midrand was die handelsdigtheid – verkope per vierkante meter se verhuurbare kleinhandelruimte – 33% hoër op R3 081 vergeleke met Maart 2020. Dit is wel nog nie terug op die R3 295, wat dit in Maart 2019 was voordat die inperkings weens die Covid-19-pandemie die ekonomie geknou het nie.

Maar wat vir Attacq bemoedigende syfers is, is dat die afgelope Maart se handelsdigtheid by die res van sy winkelsentrums deurgaans reeds ook meer is as Maart 2019 se syfers.

Sy ander winkelsentrums wat dubbelsyfergroei in handelsdigtheid aangeteken het in Maart, was die Eikestad Mall in Stellenbosch met 12,7%, die Garden Route Mall in George met 16,2%, en Lynnwood Bridge in Pretoria met 13,1%.

Die sentrums waar mense effe minder fluks kom koop het, was die Brooklyn Mall in Pretoria, waar die handelsdigtheid met 7% gegroei het, en die Mooirivier Mall in Potchefstroom met 6,7%. Al plekke wat effe agteruitgeboer het sedert Maart 2020, maar tog beter as twee jaar gelede gevaar het, is Glenfair Boulevard in Pretoria, waar handelsdigtheid met 8,8% afgeneem het en Waterfall Corner in Midrand, waar dit met 9% gekrimp het.

Attacq se syfers wys Maart was die uitskieter-maand waarin mense meer begin koop het, want die handelsdigthede vir Februarie en Januarie was deurgaans swakker as die ooreenstemmende maande in 2020.

Betaal skuld af

Die eiendomsgroep het ook Maandag bekend gemaak hy vorder met die afbetaling van sy euro- en rand-gedenomineerde skuld. Attacq het ná sy halfjaareinde in Desember 35,8 miljoen se euro-gedenomineerde skuld afbetaal deur die verkoop van ’n deel van sy belang in MAS Real Estate – ’n eiendomsgroep met bates in Roemenië. Sy oorblywende euro-skuld is 20 miljoen en Attacq is besig met die proses om die sperdatum van 31 Julie 2022 vir die betaling daarvan te verleng.

Attacq het ook begin met die herfinansiering van ’n gesindikeerde lening van R3,3 miljard – sy rand-gedenomineerde skuld. Hiervan moet R2,9 miljard in 2022 terugbetaal word. Die Attacq-bestuur werk aan die herfinansiering van R3 miljard van die lening, en dit behoort teen einde Junie vanjaar afgehandel te wees. ’n Oorblywende R300 miljoen se skuld sal gedelg word uit die verkoop van bates, het Attacq aangedui.

Meer oor:  Attacq  |  Mall Of Africa  |  Verkope  |  Winkels  |  Winkelsentrums  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.