Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Wonderskone musiek vir dié tyd

Vir Gustaf Pienaar is die verskil tussen Pase en Kersfees die musiek: Jy hoor geen oppervlakkige liedjies soos “Jingle Bells” in die winkelsentrums nie. Pienaar deel ’n paar van sy eie gunstelinge wat oor die eeue heen spesifiek vir die Pase geskep is. 

Skets
Skets: Hanlie Malan

Christene bring gewoonlik vandag – die dag ná Goeie Vrydag – stil deur, so asof daar steeds ’n gevoel van ver­bystering heers oor die gebeure rondom die kruisiging wat gister herdenk is. 

Maar môre – Paassondag – juig die Christendom wêreldwyd: Hy het opgestaan!

Vir Christene is die Pase ’n “belangriker” fees as Kersfees. 

Immers: Christus se lyding, sterwe en opstanding vorm die kern van die evangelie, al word sy geboorte meer as 2 000 jaar gelede wêreldwyd erken as die vertrekpunt van die moderne jaartelling.

Vir my is dít die verskil tussen Pase en Kersfees: Jy hoor nie in afdelingswinkels oppervlakkighede soos “Jingle Bells” en “Mary’s Boy Child” nie, wat my gedurende Kersfees so mateloos irriteer. 

Daar is egter oor die eeue heen wonderskone, onsterflike musiek spesiaal vir die Pase gekomponeer wat straks minder bekend is, maar – vir my gevoel – voortrefliker as Kersmusiek is. 

Ek dink veral aan lied 387 – “O Heer, uit bloed en wonde” – met sy aangrypende Afrikaanse woorde uit die pen van Attie van der Colf.

Gister sou gemeentes wat die Gereformeerde tradisie aanhang, oral in ons land liedere uit die Liedboek van die kerk (2001) gesing het om die gebeure op Golgota te herdenk. 

Ek dink veral aan lied 387 – “O Heer, uit bloed en wonde” – met sy aangrypende Afrikaanse woorde uit die pen van Attie van der Colf. 

Die melodie is ’n skepping van die begaafde Duitse komponis Hans Leo Hassler (1564-1612), wat dit in 1601 in een van sy bundels, nogal as ’n liefdeslied vir ene Maria, opgeneem het. 

Dit het egter kort daarna – in 1613 – in ’n Duitse gesangeboek verskyn.

In 1656 het Paul Gerhardt ’n nuwe teks vir die melodie geskryf. Van toe af was die lied bekend vanweë die openingswoorde “O Haupt voll Blut und Wunden”. 

Ouer lesers sal onthou dat dit in die algemene gesangeboek van 1944 opgeneem is as gesang 121, met ’n Afrikaanse vertaling uit die Duits deur prof. E.C. Pienaar: “O Hoof bedek met wonde.” 

Van der Colf se vertaling verbreek ’n baie ou tradisie dat Christus se “hoof” nie meer in die lied aangespreek word nie: Die klem het verskuif van die aanspreek van “dinge” in liedere na alleen die Vader, Seun en Heilige Gees.

Die eerbiedwaardige kenner van ons kerkmusiek en talentvolle kerkorrelis prof. Gawie Cillié het eenmaal gesê: “ ’n Goeie Vrydag-diens is myns insiens nie volledig sonder lied 387 – of minstens sy melodie – nie.” 

Môre sal in eredienste weer liedere gesing word om oor die Opstanding te juig.

My persoonlike gunsteling is lied 407: “Triomf, triomf, Immanuel!” Dit is een van die talle Geneefse melodieë wat in die Liedboek opgeneem is. 

Dit is in 1551 deur Matthias Greitter (1490-1552) gekomponeer. Die Afrikaanse teks vir hierdie magtige melodie is nogeens uit Van der Colf se pen.

’n Ander juweel vir Opstandingsondag is lied 409 met I.L. de Villiers se emosioneel roerende teks: “Hoor jy die Paasfeesklokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf!” 

Melchior Teschner (1584-1635), eers skoolmeester en later predikant in Fraustadt in die hedendaagse Pole, het dié melodie in 1613 gekomponeer – volgens oorlewering nadat meer as 2 000 mense in sy gemeente gedurende ’n epidemie gesterf het.

Die derde lied vir Paassondag waaroor ek iets wil skryf, is lied 414: “Juig, verlostes, juig en sing.” 

Dit is in 2001 die eerste keer in ’n Afrikaanse gesangeboek opgeneem. 

Die teks – aanvanklik in Latyn “Surrexit Christus hodie” – is van 14de-eeuse Boheemse oorsprong. 

Dit is in 1708 in Engels vertaal as “Christ the Lord Is Risen Today” met, oplaas, ook Afrikaanse woorde deur Lourens Strydom.

Die vrolike melodie in C-majeur het eweneens in 1708 sy verskyning gemaak, maar ek kon nie met sekerheid vasstel wie die komponis was nie. 

Die hinderlike oppervlak­geruis veroorsaak dat die luisterervaring gou onplesierig raak.

Maar daar is meer musiek as net kerkmusiek wat vir Pase geskik is. 

Ek het vandeesweek weer ’n rukkie probeer luister na my baie ou plate-album van J.S. Bach se Johannespassie wat hy gedurende die winter van 1722-’23 gekomponeer het. 

Dit is gedurende die Paasfees van 1723 die eerste maal in die St. Thomas-kerk in Leipzig uitgevoer met Bach self op die podium. Ek sê “probeer luister”, want my opname – bestaande uit drie plate – dateer van 1956. 

Die hinderlike oppervlak­geruis veroorsaak dat die luisterervaring gou onplesierig raak.

Nietemin, die Passie bestaan uit twee dele met onderskeidelik 20 en 48 “bewegings” – altesaam dus 68 – vir tenoor, sopraan, alt, bas en koor en orkes. 

Die plate in my besit is op ’n “ongewone” manier geproduseer: kant 1 van plaat 1 bevat die eerste 11 bewegings van die Passie, maar kant 2 van plaat 1 bevat, eienaardig genoeg, nie bewegings 12 en verder (soos ’n mens sou verwag) nie, maar die laaste agt bewegings (61-68). 

Bewegings 12 tot 20 tref ’n mens aan op plaat 2, kant 1, maar die tweede kant het weer bewegings 53 tot 60. En so aan. 

Ek dink dit was bedoel vir 1956 se tipe platespelers: ’n verskeidenheid plate kon bo die draaitafel in ’n spesifieke volg­orde “gebêre” word. 

As ’n plaat klaar gespeel het, het jy dit van die draaitafel verwyder waarna die volgende plaat in die stapeltjie doer bo op die draaitafel “losgelaat” is en begin speel het. 

Dit was nogal ’n slim werk­wyse om te verseker dat ’n mens die 68 bewegings van die Passie in presies die regte volgorde kon luister. 

Jy moes net onthou dat jy met die speel van die plate se tweede kante by plaat 3 moes begin, dan plaat 2 en oplaas plaat 1. 

Gustaf Pienaar

My laaste Paasfees-gunsteling het geen bekendstelling nodig nie: Handel se oratorium “Messias”, wat hy binne 24 dae in die herfs van 1741 gekomponeer het. 

Die Engelse teks is deur Charles Jennens geskep. 

Ná al die jare is die uitvoering van 1985 deur die Chicago-simfonieorkes en -koor onder leiding van sir Georg Solti steeds my allergunsteling. 

Wat straks minder bekend is, is dat die digter W.E.G. Louw en sy komponis-eggenote, Rosa Nepgen, gedurende die laat 1950’s Jennens se libretto in opdrag van die SAUK in Afrikaans vertaal het. 

Dié uitdagende projek is in 1958 deur die FAK uitgegee. 

Ek weet net van één keer dat dit uitgevoer is, en wel deur die SAUK-koor en -orkes onder leiding van Anton Hartman. 

Só lui die vertaling van die bekende resitatief vir sopraan (na aanleiding van Job 25-26):

Oorspronklike Engels:

I know that my Redeemer liveth, and that He shall stand 

at the latter day upon the earth. 

And though worms destroy this body, yet in my flesh shall I see God. 

Die Louw-Nepgen-vertaling: 

Ek weet dat my Verlosser lewe, en ek weet Hy sal as die laaste oor stof opstaan. 

En al skeur hul ook my vel af, sal ek God in die vlees aanskou. 

’n Geseënde Paasfees aan al die lesers wat die Pase vier. 

* Bronne: G.G. Cillié: Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan? (NG Kerk Uitgewers, 1982). Watkins Shaw (redakteur): Händel: Die Messias (Novello, Londen; FAK, 1958).

* Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat wat op die kusdorp Vleesbaai woon. 

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.