Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
‘Woonstel met ’n uitsig’ vir R2,5 miljard

Die eienaar van ’n dakwoning op die 96ste vloer van ’n wolkekrabber in Manhattan, New York, het dit in die mark gesit vir $169 miljoen (R2,5 miljard), byna dubbel soveel as wat dit vyf jaar gelede gekos het.

Die dakwoning op die 96ste vloer van dié wolkekrabber in Manhattan, New York, is te koop vir $169 miljoen, byna dubbel soveel as wat dit in 2016 gekos het. Foto: Streeteasy

Die woning met sy ses slaapkamers en sewe badkamers is in 2016 vir $87,7 miljoen gekoop. Dis nou te koop met al die meubels en kunswerke ingesluit, aldus die eiendomswebwerf StreetEasy.

Volgens die advertensie deur die eiendomsmakelaar Ryan Serhant is dit “ ’n trofee wat anders as enigiets anders ter wêreld is”.

Die 767 m²-woning het ’n private hysbak, wit eikehoutvloere wat in ’n visgraatpatroon uitgelê is en ontwerpersmeubels van Fendi, Bentley en Hermes.

Die uitsig vanuit ’n woonvertrek van die dakwoning in Manhattan. Foto: Streateasy

Die mark vir luukse deeltitelwoonstelle (condos) in Manhattan verbeter tans ná die insinking weens die pandemie. Grootliks danksy die groot afslag wat verkopers gee, word al hoe meer leë eenhede verkoop.

Om die dakwoning in 432 Park Avenue in die mark te sit, is “ ’n poging om die optimisme wat ons nou sien – iets wat lanklaas te sien was – te optimaliseer”, sê Jonathan Miller, president van Miller Samuel Inc., ’n firma wat wonings waardeer. Maar selfs hy meen die prys is “duidelik aggressief”.

Die gebou waarin die woonstel is, op die hoek van Park Avenue en 57th Street, bied die gerief van klimaatbeheerde wynkelders, ’n biblioteek, private restaurant en rolprentteater. Dis 426 m hoog.

Daar is in die verlede afslag op die hemelhoë pryse gebied. Kopers wat in 2016 ’n plek daar aangeskaf het, het gemiddeld 10% minder as die aanvanklike koopprys betaal.

Nou is die verkoper van die dakwoning “onder die indruk dat die mark sedert September 2016 verdubbel het”, sê Miller. “Die verkoopprys-aanname hou klaarblyklik nie tred met markneigings nie.

Vanuit een van die dakwoning se sewe badkamers kan jy dié prentjie sien. Foto: Streateasy
Die kat van die nuwe eienaar van die dakwoning sal vanuit dié vensterlêplek op Manhattan kan neersien. Foto: Streateasy
Meer oor:  Luukse Eiendom  |  Superrykes  |  Huismark  |  Huispryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.