Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
1 uit 5 wonder waar bord kos vandaan kom

Meer as een uit vyf Suid-Afrikaners (21,3%) wonder waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom, en dit sluit 5,5% van Suid-Afrikaners in wat honger ly.

Nie alle Suid-Afrikaners kan kies en keur wat hulle wil eet nie. Foto: iStock

Dié syfers oor toegang tot kos kom uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se algemene huishoudelike peiling vir 2017, wat verlede week uitgereik is.

Lees die volledige verslag hieronder.

Die provinsie met die grootste probleem met toegang tot kos was Noordwes, waar altesame 36% van huishoudings óf honger ly óf kwesbaar is vir hongersnood.

Ander provinsies met hoë vlakke van voedselonsekerheid was Mpumalanga (29,9%), die Noord-Kaap (24,6%) en die Oos-Kaap (24,6%).

Die probleem is ook nie nét tot plattelandse provinsies beperk nie. In metropolitaanse gebiede is daar kosnood onder 17,5% van huishoudings. Kaapstad (29,9%), Port Elizabeth (23,4%) en Bloemfontein (23,2%) het die hoogste vlakke van voedselonsekerheid.

Die syfers beteken landwyd het gemiddeld 78,7% van Suid-Afrikaanse huishoudings “voldoende toegang tot kos”.

Volgens SSA het huishoudings se toegang tot kos sedert 2002 verbeter, maar het dinge betreklik staties gebly sedert 2011.

Interessant genoeg is die hoogste voedselsekerheid in een van die armer provinsies, Limpopo, waar 93,6% van huishoudings sê hulle het genoeg kos en waar net 6,4% soms of altyd honger ly.

Min variasie

SSA het voedselsekerheid ook benader met ’n vraag oor hoeveel verskillende kosse Suid-Afrikaners eet. Daarvolgens het 24,7% van Suid-Afrikaners nie veel variasie in hul dieet nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie. 

Dit beteken dié mense eet goedkoop stapelvoedsels soos mieliepap en laat duurder kosse soos vleis of groente uit ten einde te oorleef. Daar is ’n effense verbetering sedert 2010, toe 29,1% hul dieet moes vereenvoudig.

Dié groep mense is nie noodwendig honger nie, maar eet ook nie ’n gebalanseerde dieet met ’n goeie verskeidenheid kos nie. Die implikasie is dat hulle ook nie ’n goeie verskeidenheid vitamine en minerale inneem nie.

SSA se peiling, wat oor ’n breë front na die lewenspeil van Suid-Afrikaners kyk, kom kort nadat AgriSA ’n voorlegging gedoen het wat toon al hoe minder boere produseer kos vir Suid-Afrika.

In 1994 het Suid-Afrika een boer gehad vir elke 708 verbruikers. In 2016 was dié verhouding 1 tot 1 736 en in 2030 sal daar na raming 2 700 verbruikers vir elke boer wees.

AgriSA sê dit beteken boere moet baie meer kos op dieselfde grond produseer om Suid-Afrika te kan voed.

Beleggings in masjinerie en tegnologie sal egter agterweë bly indien grondonteiening sonder vergoeding deurgevoer word.

AgriSA se voorlegging was aan die grondwetlike hersieningskommissie wat moet besluit of die Grondwet gewysig moet word om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.