Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
10 dinge wat sakesektor van Cyril wil hoor

’n Duidelike standpunt oor ’n strategie om die krisis met staatsmaatskappye aan te pak en watter van dié ondernemings van strategiese belang is.

Dit is een van die tien dinge op Business Unity South Africa (Busa) se wenslysie van wat sakelui Donderdag van pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede wil hoor.

Eskom
'n Foto wat Eskom op Twitter gedeel het, toon sy uitvoerende hoof André de Ruyter saam met Maurice Radebe en Martin Kingston van Business Unity South Africa (Busa) met afloop van 'n vergadering tussen hulle.

Busa sê in ’n verklaring dit is geen geheim dat Suid-Afrika se ekonomie in ’n haglike toestand is nie en die jongste inligting oor die ekonomie wys dit.

“Busa het voortdurend ’n beroep op Ramaphosa en sy regering gedoen dat moeilike besluite nodig is om beleggings te lok en die ekonomie op ’n volhoubare pad te sit.

“Die vordering met (die bekamping van) korrupsie en die opbou van instellings word erken en geprys, maar ons betreur dat daar geen beweging in die ekonomie is nie, wat sentraal is tot hoe die krisis waarin ons is, opgelos moet word.

“Suid-Afrika is in die greep van ’n ernstige fiskale krisis. Omdat die ekonomie nie groei nie en die land teen hoë rentekoerse geld leen, gaan staatskuld onkeerbaar styg as die regering nie sy besteding wesenlik besnoei nie.”

Drie jaar van nou gaan staatskuld van R3 000 miljard tot R4 500 miljard styg, toon die nasionale tesourie se vooruitskattings, volgens Busa.

“Die koste om skuld te diens gaan toenemend geld wegneem van onderwys, gesondheidsorg en ander noodsaaklike dienste. Dit gaan meer woede laat opvlam onder die armes wat reeds ongelukkig is oor swak dienslewering.”

Volgens Busa is die staatsrede Donderdag ’n “kritieke geleentheid” vir Ramaphosa om ’n duidelike boodskap te stuur dat sy regering besef in watter krisis die land is, en gereed is om moeilike besluite te neem om dit te takel.

“Ons hou aan praat oor vordering met die proses en prosedures, maar dit is nie werklike vordering nie; om met ’n proses te begin om die lisensiëring van onafhanklike kragverskaffers makliker te maak, is nie dieselfde as om (daadwerklik) ’n lisensie aan ’n gebou uit te reik sodat hy daarmee kan begin nie. Daarom is dit nodig om moeilike besluite te neem!”

Busa se wenslysie vir die staatsrede:

1. Amptelike verklaring

Dringende en formele verklarings oor verreikende ekonomiese strukturele hervorming. Die kerndoel daarmee is om ekonomiese groei te stimuleer en beleggings te lok. Hierdie hervormings moet ’n inklusiewe ekonomie verseker en wetgewing moet bespoedig word om dit moontlik te maak.

2. Staatsbesteding

’n Duidelike verklaring dat staatsbesteding getemper gaan word, gegewe die fiskale krisis waarin die land is. Ander maatstawwe om dit die hoof te bied moet ook aangekondig word, insluitende die beheer van uitgawes, strenger beheer oor verkrygingsprosesse en om verkwistende en onreëlmatige besteding te verminder.

3. Krisis met staatsmaatskappye

’n Duidelike standpunt is nodig oor ’n strategie om die krisis met staatsmaatskappye te pak. Dit moet insluit besluite oor watter staatsondernemings van strategiese belang is en wat die rol van die private sektor met die ondernemings is. Dit moet ook handel oor swak korporatiewe beheer en bestuur en die gebrek aan bekwame mense by die staatsondernemings. Die publiek moet verseker word dat daar geen politieke ingryping in die bedrywighede en bestuur van staatsmaatskappye sal wees nie.

4. Eskom

’n Duidelike standpunt oor Eskom is nodig. Dit moet insluit dat ’n bevoegde en onafhanklike direksie dringend vir Eskom aangestel word. Die direksie en uitvoerende hoof se taak moet wees om die korporatiewe beheer, bestuur, personeel en ander krisisse op bedryfsvlak by Eskom aan te spreek.

Dit moet insluit dat Eskom geposisioneer word as ’n “rolspeler in ’n meer gediversifiseerde kragverskaffingsbedryf”, asook opsies om die finansieringskrisis van die maatskappy aan te spreek.

5. Kragopwekking deur die private sektor

Ramaphosa moet aankondig dat die minister van minerale bronne en energie dringend regulasies instel sodat die private sektor elektrisiteit op groter skaal kan opwek om ’n mate van verligting vir die nasionale kragnetwerk te bring. Sulke regulasies moet insluit dat ’n ministeriële bepaling uitgereik word sodat groen krag en gaskragstasies soos vereis deur IRP2019 gebou kan word. Skedule 2 van die Wet op Elektrisiteitsregulering moet gewysig word sodat die uitreiking van lisensies van 1MW tot 10MW gelig kan word.

6. Doelwitte vir kabinetslede

’n Aankondiging dat die president duidelike doelwitte vir kabinetslede gaan stel om bogenoemde toe te pas. Dit moet insluit dat ’n hersieningsproses sal plaasvind om verantwoordbaarheid te verseker, ten einde ’n bekwame staat te bou.

7. Geen gemengde boodskappe

’n Aankondiging dat die president seker maak dat die regering saamwerk en dat daar nie gemengde boodskappe van verskillende dele van die regering kom nie. ’n Duidelike voorbeeld van gemengde boodskappe en die skade wat dit veroorsaak, is die huidige krisis met die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

8. Geen wetgewing wat vertroue wegvreet

’n Standpunt dat die regering positiewe boodskappe van die hele regering sal verseker om beleggings te lok en groei te bevorder. Voorts moet die hele regering opdrag gegee word om nie wetgewing bekend te stel wat vertroue verder gaan wegvreet terwyl Suid-Afrika nodig het om potensiële beleggers se vertroue te wen nie.

9. Wet en orde

’n Duidelike boodskap dat wet en orde in Suid-Afrika ernstig agteruitgegaan het, en dit nie langer geduld sal word nie. “Die president moet ’n gevoel van dringendheid inprent en die strategiese voorneme stel dat die krisis met wet en orde in die land aangepak gaan word. Die regering moet respek vir wet en orde inskerp en die veiligheid van landsburgers, ondernemings en besoekers verseker.”

Daar moet dringend opgetree word om kritieke areas van misdadigheid te identifiseer en om professionele eenhede te skep om dit te pak.

10. Respek vir die regstelsel

Die president moet dit beklemtoon hoe krities dit is om die regstelsel te respekteer en dit nie te ondermyn nie.

Meer oor:  Sal  |  Busa  |  Eskom  |  Staatsrede  |  Staatsrede2020  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Staatsbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.