Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
10 m. werkloos: ‘Só keer staat dat hulle werk kry’

Jy kan nie ’n wet maak om mense uit armoede op te hef nie. Jy kan nie met regulasies werk skep nie. Werk moet geskép word, maar tans is die Suid-Afrikaanse regering besig om sakelui se vermoë om werk te skep dood te smoor deur die las op werkgewers en werkloses ál groter te maak.

Chris Hattingh

Die jongste daarvan is die nasionale minimum loon. Die minimum loon ontmoedig ondernemings om meer mense aan te stel.

Die enigste “regte” werksgeleenthede in ’n ekonomie is in sakeondernemings wat goedere en dienste lewer aan verbruikers. Alle staatsposte word deur huidige en toekomstige belastingbetalers gefinansier.

Vir die eerste keer in die geskiedenis is daar meer as 10 miljoen werkloses in Suid-Afrika (ingevolge die uitgebreide definisie).

Hoe duurder iets is, hoe minder sal mense daarvan koop. Die regering ignoreer hierdie basiese ekonomiese beginsel, maar hy kan nie ontsnap aan die gevolge daarvan om wette en beleid te implementeer wat teen hierdie wet bots nie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die werkloosheidsyfer met 1,4 persentasiepunte toegeneem van 27,6% in die eerste kwartaal van 2019 tot 29% in die tweede kwartaal.

Dit beteken ’n toename van 455 000 in die getal werkloses. Die uitgebreide definisie van werkloosheid, wat diegene insluit wat opgehou het om werk te soek, is 38,5%. Dit is 10 226 000 mense.

Suid-Afrika moet wegbeweeg van beleid soos die minimum loon wat die prys van arbeid opjaag en net bydra tot die astronomiese vlak van werkloosheid.

Die gebrek aan gehalte-onderwys beteken dat selfs mense wat dit deur die stelsel maak, se vaardigheidsvlakke nie gevorderd genoeg is om in diens geneem te kan word nie.

Die regering het ’n morele plig om nie in die pad te staan van mense wat werk soek en sakeondernemings wil begin of werk wil skep nie.

Maar selfs as die gehalte van die land se onderwys verbeter, sal die probleem van werkloosheid voortleef, want al hoe meer ondernemings sluit hul deure of besnoei weens die onophoudelike inmenging van die staat. Daarom droog werksgeleenthede al hoe vinniger op.

Boonop beteken die minimum loon baie mense wat werk sou kon kry, is nou onbekostigbaar. Dit beteken hulle verloor die geleentheid vir werk wat aanvanklik min betaal, maar uiteindelik kan lei tot beter werk. Dit alles is onoorkombare hindernisse wat geplaas word tussen werkloses en potensiële werkgewers.

Die huidige situasie is die gevolg van moedswillige onkunde by diegene wat hulle vir ’n minimum loon beywer. Die gesprekke oor minimum lone is altyd die ene morele taal – woorde soos “waardigheid” van werkers word byvoorbeeld kwistig ingespan – maar daar is niks waardig aan iemand wat desperaat soek vir werk, wat sy eie kontrak sou wou beding op sy eie voorwaardes, maar wat dit nie mag doen nie weens wette wat hom uit die ekonomie uitsluit.

Voorstanders van die minimum loon het voorspel die werksverliese sou “minimaal” wees – maar dit was duidelik nie die geval nie. Tot dusver in 2019 het sowat 34 000 huiswerkers hul werk verloor.

Die ekonomie groei nie weens beperkende arbeids- en ekonomiese beleid, en dit beteken mense het minder geld om te belê en om mense in diens te neem. Om by dié toksiese mengsel die minimum loon te voeg, maak die las vir die werkgewers net nog swaarder.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan nie groei as regeringsbeleid nie pro-groei is nie. Dit beteken beleid wat pro-vryheid is. Beperk die regulering en regeringsbesteding, verlaag belasting en skrap die minimum loon. Dit alles kan help om Suid-Afrika se anti-groei- ekonomiese klimaat te verander.

Oor werkloosheid is die antwoord voor die hand liggend: Reik ’n sertifikaat uit aan werkloses wat hulle vryskeld van die wette wat hulle verhoed om werk te kry.

Dit is nie moreel geregverdig vir die regering of enigiemand anders om aan iemand voor te skryf vir hoeveel besoldiging hulle moet werk nie. Die individu moet self kan besluit wat hy of sy as regverdig beskou.

Om aan werkers en werkgewers voor te skryf waarop hulle moet ooreenkom, is immoreel en ontneem die individu van sy reg.

Die regering is nie in staat om vir alle Suid-Afrikaners werk te skep nie, maar die regering het ’n morele plig om nie in die pad te staan van mense wat werk soek en sakeondernemings wil begin of werk wil skep nie.

  • Chris Hattingh is ’n navorser by die Vryemarkstigting.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.