Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
11 m. in SA is sonder werk

So min as 109 000 poste óf soveel as 900 000 poste kan vanjaar in Suid-Afrika geskep word, afhangend van hoe vinnig die ekonomie herstel, sê die konsultantegroep PwC.

Miljoene meer mense sit werkloos in Suid-Afrika sedert 2020. Illustrasie: iStock

Dié ekonomiese herstel hang baie nou saam met hoe streng en hoe lank enige volgende inperkingsmaatreëls sal wees om die verwagte derde Covid-19-vlaag te bestry, lui ’n nuwe PwC-verslag oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig vir 2021.

Die tesourie verwag vanjaar ekonomiese groei van 3,3% teenoor 2020 se inkrimping van 7,2%, het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede gesê.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, en dr. Christie Viljoen, ekonoom, sê volgens die basislyn scenario in PwC se modellering, sal Suid-Afrika vanjaar waarskynlik 467 000 poste byvoeg en die ekonomie met 3,4% groei.

PwC raam van die bykomende 2,2 miljoen mense wat in die tweede kwartaal van 2020 hul werk verloor het te midde van inperkings, het net 900 000 teen einde Desember weer gewerk. Dis ’n netto verlies van 1,3 miljoen poste.

Indiensnemingsvlakke kan eers teen 2024 herstel tot pre-Covid-19-vlakke, maar teen daardie tyd sal die arbeidsmag aansienlik gegroei het, sê hulle.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste arbeidsmagpeiling wys werkloosheid (volgens die eng definisie wat ontmoedigde werksoekers uitsluit) was in die vierde kwartaal op 32,5%. Dit is 1,7 persentasiepunte hoër as in die derde kwartaal en die hoogste werkloosheidskoers sedert 2008.

In die vierde kwartaal was 1,4 miljoen minder mense in diens as in die vierde kwartaal in 2019 – ’n daling van 8,5%. (SSA sê wel mense moet versigtig wees om die vierde kwartaal van 2020 met ander kwartale te vergelyk omdat die volle steekproef nie betrek is nie.)

Van die 7,2 miljoen werkloses in die vierde kwartaal, het meer as 52% minder as ’n matriekkwalifikasie gehad, en sowat 38% het matriek gehad. Net 1,8% van werkloses was gegradueerdes, sê SSA.

Volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid (wat individue insluit wat wil werk ongeag of hulle aktief werk soek) staan dit op 42,6%. Dit is nagenoeg 11 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom.

PwC sê as die ekonomie nie vinnig genoeg herstel nie, kan die werkloosheidskoers (volgens die eng definisie) teen 2030 tot 40% styg.

Die land kan dit egter nie bekostig nie omdat ons voor Covid-19 reeds een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld gehad het, sê Krugel.

Die Blavatnik School of Government aan die Universiteit van Oxford sê tydens vlak 5 en 4 was Suid-Afrika se inperkings onder die 25% strengstes ter wêreld.

Tydens vlak 5-inperkings in April 2020 was die ekonomie sowat 38% kleiner as in April 2019 (voordat fiskale en monetêre ingrypings in berekening gebring word), wys PwC se model.

Hul basislyn scenario is daarop gegrond dat maatreëls volgende maand tot vlak 2 verslap word, maar in Mei weer tot vlak 3, en in Julie tot vlak 4 verskerp word om die derde Covid-19-vlaag te bestry.

Wanneer die winter teen Augustus en September begin wyk, kan vlak 1-inperkings geld tot die einde van die jaar.

Die positiewer scenario behels minder streng inperkings, minder beurtkrag en groter fiskale stimulus danksy belastinginkomste wat beter is as aanvanklik verwag. Met dié scenario sal BBP-vlakke teen 2022 herstel tot pre-Covid-19-vlakke, sê PwC in sy verslag. Daarenteen aanvaar die negatiewe scenario hoë infeksiekoerse tydens die derde vlaag en taamlike streng inperkings tot in 2022.

Suid-Afrika se grootste nywerhede behoort vanjaar van 2020 se verliese in te haal, maar talle fabrieke is nog nie weer op volle sterkte nie, sê PwC. ’n Opname deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek wys die vervaardigingsbedryf het in die vierde kwartaal net 67% vermoë gebruik, vergeleke met 79% ’n jaar tevore.

Buiten PwC se aannames oor inperkingsmaatreëls en beurtkrag, word sekere sleutelfaktore in ag geneem waaraan die regering aandag moet gee om ’n omgewing te skep waarbinne die private sektor die ekonomie en indiensneming kan laat gedy.

Dit sluit in onsekerheid onder verbruikers en sakeondernemings, ontwrigting in verskaffingskettings, en ontwrigting in die toerisme- en ontspanningsektore.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.