Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2% werkloses het ’n graad

Sowat 56% van die 6,7 miljoen Suid-Afrikaners wat in die derde kwartaal van die jaar werkloos was, het nie ’n matriekkwalifikasie nie, en 34,1% het net ’n matrieksertifikaat, blyk uit die jongste arbeidsmagpeiling wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag uitgereik het.

Die syfers wys slegs 2% van werkloses was gegradueerdes, terwyl 7,2% werkloses ander tersiêre onderrig as ’n graad het.

armoede, kaapstad
Haweloses slaap op die sypaadjie naby die parlement in Kaapstad. Foto: Bloomberg

Die algehele werkloosheidskoers in die land is 29,1% vergeleke met 29% in die tweede kwartaal van die jaar. Verlede jaar dié tyd was die werkloosheidsyfer 27,5%.

SSA sê volgens die breë definisie staan werkloosheid op 38,5%.

Dit verwys na mense tussen 15 en 64 jaar wat sonder werk is, beskikbaar was om te werk, maar te moedeloos is om verder werk te soek of om ander redes nie werk soek nie.

Die land se werkloosheidsyfers is nou die hoogste in 11 jaar.

Die arbeidsmag in die derde kwartaal was 23,1 miljoen, met 16,3 miljoen in diens en 6,7 miljoen werkloos.

Van die ekonomies onaktiewe 15,4 miljoen mense in die land, is daar 2,8 miljoen ontmoedigde werkers en 12,7 miljoen wat ekonomies onaktief is.

Volgens SSA het die persentasie jong mense tussen 15 en 24 jaar wat nie in diens is, op skool is of een of ander vorm van opleiding ontvang nie (NEET) in die derde kwartaal tot 32,3% gestyg het teenoor 31,1% ’n jaar gelede.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê in ’n nota Suid-Afrika se werkloosheid is veel slegter as die van lande soos Spanje (13,8%), Colombia (10,8%), Italië (9,5%), Rusland (4,5%) en Mexiko (3,6%).

Christie Viljoen, ’n ekonoom van PwC, sê die meeste van die werksverliese die afgelope jaar was onder ongeskoolde en halfgeskoolde ambagte.

Indiensneming in kunsvlyt (craft) en verwante bedrywe het 106 000 werkgeleenthede ingeboet, 39 000 fabriek- en masjienoperateurs het hul werk verloor en in elementêre beroepe (soos geroetineerde handearbeid) het 55 000 poste die afgelope jaar verlore gegaan.

Viljoen sê dit tref laerinkomste-huishoudings erger en dit vererger ongelykheid en armoede.

Ann Bernstein, hoof van die Centre for Development and Enterprise, het al telkens in die verlede gesê groei in sektore soos toerisme kan meer werk skep as ander sektore, veral vir laer geskoolde werkers.

Isaac Matshego en Dennis Dykes van Nedbank se ekonomiese eenheid sê ’n kommerwekkende syfer is die getal mense wat al langer as ’n jaar sonder werk sit. Dit het in die derde kwartaal 70,9% van die getal werkloses uitgemaak en 20,7% van die arbeidsmag.

Stanford Mazhindu, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê 512 888 werksgeleenthede wat tussen die derde kwartaal van 2018 en die derde kwartaal van vanjaar verlore gegaan het, wys duidelik regeringsbeleid misluk.

Bitter min het gekom van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n reuse-infrastruktuurfonds as deel van sy ekonomiese stimulusplan en ’n ooreenkoms wat in Oktober verlede jaar tydens die Werkeberaad onderteken is om sowat 275 000 nuwe poste per jaar te skep, sê Mazhindu.

Ramaphosa het einde Julie ’n Nedlac-verslag ontvang oor die vordering met ondernemings tydens die Werkeberaad.

Die verslag verwys na vordering en uitdagings wat ondervind word met die implementering van werkskeppingsprojekte, meganismes om hindernisse vir doeltreffende inwerkingstelling uit die weg te ruim en stappe om poste te behou, het www.sanews.gov.za berig.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het toe gesê ’n komitee sal voortaan maandeliks met die president vergader oor die vordering in die ondernemings.

Meer oor:  Werkloosheid  |  Werkloosheidskoers  |  Indiensneming  |  Qlfs1903
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.