Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2018 se grootste sakestories van A tot Z

2018 het geen gebrek aan groot sakestories gehad nie. Gebeure by maatskappye soos Steinhoff, Eskom, Sasol en Discovery het hoofopskrifte gehaal.

Ons het van A tot Z gaan kyk wat die afgelope jaar in die nuus was:

A

  • Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, het bedank nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n leningswaarborg van R1,6 miljard deur Eskom aan die Guptas se Tegeta-mynmaatskappy goedgekeur het.
  • Barclays Bank word (weer) Absa en stel ’n splinternuwe handelsmerk bekend.
Onthou jy nog? Binnekort sal dié logo volksvreemd voorkom, aangesien Absa vanjaar ’n nuwe logo beken gestel het. Dit was omstrede omdat dit herinner aan Telkom se Openserve se logo - ’n sirkel met onderbrekings in.

B

  • Selfs ná ’n jaar se onderhandelinge is daar nog geen aanduiding oor presies wat die invloed van Brexit op die wêreldmarkte gaan wees nie.
  • Bitcoin se waarde het behoorlik gebokspring. In Januarie het dit teen bykans $14 000 verhandel, maar teen Desember het dit teruggesak tot net meer as $3 000.
  • Beurtkrag het weer in Desember kop uitgesteek in Suid-Afrika.
  • Bain & Company het deurgeloop op die openbare sittings van die Nugent-kommissie van ondersoek. Die maatskappy word daarvan beskuldig dat hy bygedra het tot die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
  • Die koers van belasting op toegevoegde waarde (BTW) is vir die eerste keer in 20 jaar verhoog.

C

  • Capitec Bank moes vure doodslaan nadat die kortverkopers Viceroy Research hom daarvan beskuldig het dat hy geld onverantwoordelik uitleen.

D

  • Discovery het sy nuwe bank bekend gestel. Hy het egter onder kritiek deurgeloop toe hy bekend maak dat hy – in ooreenstemming met die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging – ’n belang van 10% in die bank aan swart deposante beskikbaar gaan stel.

E

  • Die skuldbelaaide Eskom het ’n nuwe direksie en uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, gekry.

F

  • Suid-Afrika het vanjaar drie ministers van finansies gehad. Eers was dit Malusi Gigaba, toe Nhlanhla Nene en nou is Tito Mboweni aan die stuur van sake by die tesourie.
Tito Mboweni is die derde persoon wat in 2018 die pos van minister van finansies gevul het.

G

  • Die Guptas is wel landuit, maar hul invloed word nog oral gevoel, veral by Eskom. Die meeste van hul ondernemings is in 2018 in sakeredding geplaas.
  • Die konstruksiemaatskappy Group Five se probleme by sy Kpone-gasprojek in Ghana het die maatskappy nie net na kleiner kantore gedwing nie, maar teen dié tyd draai kopers soos motte om ’n lig om hom.
  • Eskom het in April 27 kontrakte vir groenkrag geteken.

H

  • Die sakeredders wat by van die Guptas se ondernemings aangestel het, is toegegooi onder hofsake. Een voorbeeld was toe Charles King, die maatskappy wat Tegeta Mining & Exploration gekoop het, wou keer dat dié maatskappy aan Suid-Afrikaners verkoop word.

I

  • Inflasie het vir die duur van die jaar binne die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% gebly.

J

  • Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, was vir ’n groot deel van die jaar nêrens te sien nie. Hy het wel in September voor die parlement verskyn om te verduidelik wat by dié maatskappy gebeur het.
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Argief

K

  • Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, word as een van die gunstelinge beskou om permanent in dié pos aangestel te word.
  • Die ouditeursfirma KPMG het verskeie van sy kliënte verloor nadat hy erken het hy het nie aan sy eie standaarde voldoen in werk wat hy vir die Guptas gedoen het nie.

L

  • Die mynmaatskappy Lonmin het eindelik handdoek ingegooi om op sy eie te probeer voortbestaan. Hy het ingestem dat Sibanye-Stillwater hom oorneem.

M

  • Tom Moyane is op 1 November deur pres. Cyril Ramaphopsa afgedank as kommissaris van die SAID.
  • Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, se weergawe van die Mynbouhandves het in September die lig gesien.
  • MultiChoice het in Augustus Newzroom Afrika as plaasvervanger vir die omstrede ANN7-nuuskanaal aangewys, en ook gesê hy noteer afsonderlik in 2019.
  • Die regering stel vas dat Suid-Afrikaners ’n minimum loon van R20 per uur moet verdien.
Tom Moyane, afgedankte kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, gaan steeds voort om vir sy werk te baklei. Foto: Deaan Vivier

N

Die Nugent-kommissie het sy ondersoek na gebeure by die SAID afgehandel.

O

  • Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is verskeie kere beskuldig van onoordeelkundige besluite. Een hiervan was die besluit in Februarie om ’n oorbruggingslening aan Eskom te verskaf.

P

  • Die petrolprys het in Oktober vir die eerste keer bo R17 per liter gestyg.
Die petrolprys het in 2018 rekordhoogtes. Foto: Pixabay

    Q

    • Old Mutual word ontknoop en Quilter word gestig, wat die groep se Britse bedrywighede gaan huisves.

    R

    • Die Reserwebank het vir die eerste keer sedert 2016 die repokoers in Julie en toe weer in November verhoog. Die repokoers – die rentekoers wat die Reserwebank aan handelsbanke oplê – is in November met 0,25 persentasiepunt tot 6,75% verhoog.
    • Die land was ook vir twee kwartale – die eerste helfte van die jaar – in ’n tegniese resessie.
    • Ramaforie het geheers toe Ramaphosa op 15 Februarie as president van die land verkies is.

    S

    • Gebeure by Steinhoff en sy dramatiese ineenstorting was een van die groot sakestories van 2018. Steinhoff het in Desember 2017 erken daar was “rekeningkundige onreëlmatighede” in van sy finansiële state.
    • Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is een van die staatsondernemings wat op staatswaarborge staatmaak om aan die lewe te bly. 
    • Die vakbond Solidariteit beskuldig Sasol en Discovery daarvan dat hul skemas vir swart ekonomiese bemagtiging rassisties is.
    Lede van die vakbond Solidariteit wat ’n protesoptog na Sasol se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, gehou het, is sigbaar in die spieëlglasvensters van die gebou. Foto: Twitter

    T

    • Tekkie Town en Mr. Tekkie, wat albei tekkies verkoop, is in ’n hofstryd gewikkel oor onder meer wie watter skoene mag verkoop.
    • Transnet se pensioenarisse het steeds geen duidelikheid oor of hul groepgeding oor hul pensioene gaan slaag nie nie.
    • Tiger Brands het eers ontken dat sy fabrieke met listeriose besmet is. Hy het later erken dit was wel die geval.
    • Pres. Donald Trump se handelstryd met China veroorsaak onsekerheid op die wêreldmarkte.

    U

    • Die taxidiens Uber ly steeds wêreldwyd enorme verliese. In die drie maande tot einde September was sy verlies oor die wêreld heen $1,07 miljard.

    V

    • Viceroy Research het die markte verskeie kere laat bokspring met verslae oor maatskappye soos Steinhoff, Capitec Bank en Nepi Rockastle. Viceroy word daarvan beskuldig dat sy verslae hom die geleentheid gee om voordeel uit die kortverkope van aandele te trek.
    • VBS Mutual Bank is in November gelikwideer nadat enorme korrupsie by dié bank op die lappe gekom het.

    W

    • Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, moes male sonder tal probeer verduidelik wat hy weet (of nié weet nie) oor wat by Steinhoff gebeur het. Dit sluit ’n voorlegging voor die parlement in.
    • Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika het in die derde kwartaal van die jaar tot 27,5% toegeneem.

    X

    • Die Xolobeni-gemeenskap het sy saak teen die minister van minerale bronne gewen. Die minister het mynregte op hul grond aan ’n Australiese maatskappy toegestaan, maar die hof het nou beslis hy is nie by magte om dié mynregte toe te ken nie.

    Y

    • Wit werksoekers mag nie registreer op die Youth Employment Service- (Yes) bemagtigingsprojek vir jong werkloses wat in Oktober deur Ramaphosa bekend gestel is nie.

    Z

    • 2018 was nie ’n goeie jaar vir oudpres. Jacob Zuma nie. Hy is nie meer die land se president nie en die hooggeregshof in Pretoria het ook bevind hy moet self vir sy regskoste opdok.
    • Bank Zero is een van die nuwe digitale banke wat binnekort sy deure in Suid-Afrika oopmaak.
    • Die Zondo-kommissie na staatskaping duur voort.
    Meer oor:  Jaaroorsig 2018  |  Sake
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.