Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2020: Verwag duurder kos, hoër taks

Duurder kos, hoër belasting, ’n swakker rand – verbruikers moet maar ekonomiese stormwolke vir 2020 verwag.

  

Rentekoers

  

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Oor net meer as twee weke sal verbruikers die eerste aanduiding kry van wat 2020 vir hulle inhou. Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) kondig op 16 Januarie sy eerste besluit oor die rentekoers vir die nuwe jaar aan.

Dieselfde faktore wat in November gekeer het dat die sentrale bank die rentekoers verlaag, is egter steeds teenwoordig.

Dit sluit in:

  • Die dreigende afgradering deur Moody’s Investors Service, wat Suid-Afrika op algehele rommelstatus sal plaas en tot die onttrekking van miljarde se beleggings in staatseffekte kan lei omdat baie institusionele beleggers nie belê in effekte onder beleggingsgraad nie. Ekonome se raming oor die omvang van die netto uitvloei wissel van $1,5 miljard tot $12 miljard (nagenoeg R21 miljard tot R168 miljard op ’n wisselkoers van R14 per dollar). So ’n uitvloei sal die rand onvermydelik laat verswak, wat op sy beurt verbruikers se sak gaan ruk.
  • Die “verrassend lae” inflasiekoers, wat na verwagting nie volgehou gaan word nie. Die Reserwebank is veral bekommerd oor ’n verwagte skerp styging in kospryse, kragtariewe, brandstofpryse en loonverhogings. Inflasie het in November slegs 3,6% beloop.

Die sentrale bank se kwartaallikse projeksiemodel het in November voorspel dat die rentekoers eers teen die derde kwartaal van 2020 sal daal.

Selfs al word die rentekoers onveranderd gelaat, sal dit interessant wees om te sien of die meningsverskille in die MBK voortduur. In November het twee uit die vyf lede ten gunste van ’n verlaging gestem.

Gegewe die trae ekonomiese groei, moet beleggers wat op ’n rente-inkomste staatmaak, ook nie optimisties wees oor hoër rentekoerse nie.

  

Begrotingsrede

  

Tito Mboweni, minister van finansies.

Ná die rentekoersaankondiging is die volgende groot faktor wat verbruikers raak, Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede, wat op 26 Februarie verwag word.

Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder oor Suid-Afrika, het dit in die agentskap se November-besluit oor Suid-Afrika se gradering duidelik gestel dat Februarie se begrotingsrede ’n waterskeiding kan beteken.

“Die ontwikkeling van ’n geloofwaardige fiskale strategie om die styging in staatskuld in toom te hou, insluitende die 2020-begrotingsproses en -rede, sal deurslaggewend wees om die kredietgradering op sy huidige vlak te behou,” het Villa in ’n verklaring gesê met die aankondiging dat Moody’s die vooruitsig vir die gradering van stabiel na negatief verander, maar dit steeds op die laagste beleggingsgraad handhaaf.

Standard & Poor’s Global Ratings, wat Suid-Afrika reeds in 2017 tot rommelstatus afgegradeer het, het einde November ook die vooruitsig in negatief verander.

Albei agentskappe het die risiko beklemtoon wat Eskom vir die staatskas inhou. Eskom het nagenoeg R450 miljard se skuld, waarvan die regering bykans R300 miljard waarborg. Dit beteken indien Eskom nie sy skuldpaaiemente kan betaal nie, moet die regering dit doen.

Mboweni se plan met Eskom sal dus fyn dopgehou moet word.

Gegewe die verwoesting wat beurtkrag gesaai het en die regering se snelgroeiende skuldlas, kan ek nie help dink dinge gaan baie erger word voordat hulle beter word nie.
Dawie Roodt, ekonoom

Verbruikers het egter ’n baie meer regstreekse rede om op te let as Mboweni in die parlement begin praat: Hy het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober gewaarsku nuwe belastings sal aangekondig word. Hoewel dit dalk nie reeds in Februarie van krag sal word nie, kan slegte nuus verwag word.

Só het Mboweni dit in Oktober gestel: “Beduidende belastingverhogings die afgelope paar jaar laat slegs beperkte ruimte om belastinginkomste te verhoog. Gegewe die grootte van die vereiste aanpassings word bykomende belastingmaatreëls egter oorweeg.”

Verbruikers en maatskappye het die afgelope paar jaar onder meer ’n verhoging in die hoogste kerf vir inkomstebelasting (tot 45%), ’n verhoging in belasting op trusts (ook tot 45%), ’n styging in belasting op toegevoegde waarde (van 14% tot 15%), die suikerbelasting op versoete koeldranke, en ’n koolstofbelasting verduur.

’n Afgradering gaan ook die regering duurder laat betaal vir sy skuld, wat op sy beurt die land se geldsake erg gaan raak en die dringendheid van belastingverhogings gaan verhoog.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê sy grootste vrees is die rekordhoë fiskale tekort, wat dit vir die regering al hoe moeiliker gaan maak om geld te leen.

“Ek kry al hoe meer die gevoel dat hoewel die ligte dalk in die presidentswoning aan is, is niemand tuis nie.”

  

Ekonomiese syfers

  

Ander nuus wat verbruikers in die eerste kwartaal moet verwag, sluit in:

  • In Februarie reik Statistieke Suid-Afrika (SSA) die werkloosheidsyfers vir die vierde kwartaal van 2019 uit. Werkloosheid het in die derde kwartaal tot ’n rekord van 29,1% opgeskiet. Die vierde kwartaal bring gewoonlik heelwat tydelike indiensneming, maar heelwat afgestudeerdes en matrikulante het ook vir die eerste keer in dié kwartaal die arbeidsmark betree.
  • In Maart reik SSA die bruto binnelandse produk (BBP), oftewel die ekonomiese groei, vir die vierde kwartaal en volle 2019 uit. Die ekonomie het in die derde kwartaal ingekrimp (-0,6%), en negatiewe groei in die vierde kwartaal sou ’n resessie beteken. Besteding oor Swart Vrydag en Kersfees kan die ekonomie dalk van ’n resessie vrywaar, maar groei is op sy beurt geknou deur beurtkrag. In dié stadium voorspel die Reserwebank 2019-groei van slegs 0,5%. Vir 2020 word ’n louwarm 1,4% voorspel.

Roodt sê die kooplus van Swart Vrydag en Kuber-Maandag – meer as R6 miljard se debiet- en kredietkaarttransaksies is deur die klaringshuis BankServAfrica verwerk – wys die boodskap dat die ekonomie in ’n krisis is, het nog nie ingesink nie.

“Ek is bang dat ons op pad is na ’n volskaalse resessie, ons is dalk klaar een in die vierde kwartaal.

“Gegewe die verwoesting wat beurtkrag gesaai het en die regering se snelgroeiende skuldlas, kan ek nie help dink dinge gaan baie erger word voordat hulle beter word nie,” sê Roodt.

Die ekonoom Dawie Roodt.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê Januarie, Februarie en Maart is altyd besig, maar hulle verwag 2020 gaan van die besigste in die firma se bestaan wees.

“Ons weet uit berigte verbruikers het baie bestee oor Swart Vrydag, Kuber-Maandag en die Kersvakansie, en dit gaan uiters negatiewe gevolge vir skuldbelaaide verbruikers hê.”

Roets sê “’n soort gekheid” pak mense oor die vakansie beet en hul besteding word heeltemal irrasioneel. Dit word uiteraard deur massiewe advertensieveldtogte van kleinhandelaars aangeblaas.

Dit lei daartoe dat mense vergeet van skoolklere, skryfbehoeftes en skoolgeld wat teen Januarie en Februarie betaalbaar is

“Die een konstante opmerking wat ons kry, is hierdie gevoel dat dit mense se reg is – omdat almal inkopies doen, voel mense hulle het die reg om saam te koop.”

Verbruikers se bruto skuld beloop tans nagenoeg R1 800 miljard.

Byna die helfte van verbruikers is drie maande of langer agterstallig met rekeninge, veral krediet- en winkelkaarte, gevolg deur mikro- en ander persoonlike lenings.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Dawie Roodt  |  Lesetja Kganyago  |  Begrotingsrede  |  Tesourie  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.