Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2021: Jaar van ‘ellende’ wag op SA ekonomie

Die Suid-Afrikaanse ekonomie word deur verdere kredietafgraderings tot by die vlak van wanbetaling in die gesig gestaar indien daar nie ’n betekenisvolle ekonomiese herstel plaasvind nie, maar kenners meen dit gaan ’n jaar van agteruitgang wees.

’n Blinde, hawelose man speel kitaar vir geld op Groentemarkplein in Kaapstad. Volgens kenners wag daar ’n jaar van ellende op miljoene Suid-Afrikaners. Foto: William Horne

Investec waarsku in ’n nota aan beleggers dat Suid-Afrika se vermoë om broodnodige toelaes aan sy miljoene begunstigdes en afhanklikes te betaal in die wiele gery kan word indien die land wanbetaal aan sy skuld.

En dit is nie so ’n vergesogte moontlikheid nie.

Die domino’s staan gereed om een ná die ander te val indien strenger inperkings voortduur en Suid-Afrika se skuldsituasie verder agteruitboer terwyl die groeiverwagtinge nie realiseer nie.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê as die land nie die verwagte groei van minstens 3% vanjaar bereik nie, wag daar dalk nog twee kredietafgraderings op Suid-Afrika van elk van die drie groot kredietgradeerders, Moody’s Investors Service, Fitch en S&P.

Waar Suid-Afrika nou in die B-klas gegradeer word, kan twee verdere afgraderings hom deur die C-klas van riskante beleggings tot in die D-klas bring van wanbetaling.

Sowat 18 miljoen mense in Suid-Afrika is afhanklik van toelaes om aan die lewe te bly.

Bishop waarsku dat indien Suid-Afrika eers as ’n wanbetaler bestempel word deur kredietgradeerders, sal hy nie meer genoeg kan leen om onder meer hierdie toelaes aan te hou betaal nie.

En in ’n land met ’n werkloosheidskoers van reeds 30,8% en ’n uitgebreide werkloosheidskoers van 43,5%, sal dit lei tot ongekende ellende.

Die probleme hou nie hier op nie.

Bishop verwag in der waarheid “nog ’n jaar van ellende”, veral indien die inperkingsmaatreëls strenger gemaak word vir ’n groot deel van 2021.

Met ’n reeks afgraderings reeds agter die rug, het buitelanders oor die afgelope jaar hul aptyt vir Suid-Afrikaanse staatseffekte begin verloor.

Bishop sê buitelanders het einde 2019 37,1% van alle staatskuld in die vorm van effekte gehou. Teen September 2020 het dit tot 29,2% gedaal.

En in dié leemte het een groot groep instansies begin pa staan: Suid-Afrikaanse banke.

In slegs agt maande van Januarie 2020 tot September het plaaslike banke se blootstelling aan Suid-Afrikaanse staatseffekte van 16,8% tot 22,9% gestyg.

“Dit sal die bankbedryf se volhoubaarheid in gevaar stel indien die land hom skuldig maak aan die wanbetaling van sy skuld.”

Bishop verwag in der waarheid “nog ’n jaar van ellende”, veral indien die inperkingsmaatreëls strenger gemaak word vir ’n groot deel van 2021.

Momentum stem saam dat Suid-Afrika nie die nodige ekonomiese groeiteikens sal kan haal in die jaar wat voorlê nie.

In ’n nota aan beleggers sê Momentum dat Suid-Afrika gelukkig sal wees om in 2021 met 2% te groei.

En in 2022 sal dit nog minder wees met slegs ’n verwagte trae 1,6%.

“Pogings om die toename in die regering se skuldlas te stuit deur hoër groei te bewerkstellig, sal waarskynlik beperk word en kan volgens ons later in 2021 tot verdere negatiewe graderingstappe lei,” sê die maatskappy.

Daarmee saam kom daar waarskynlik massas bankrotskappe in 2021 wat die banke nie sal kan hanteer indien die land se kredietgradering tot die vlak van wanbetaling verlaag word nie.

Maar Momentum is seker: Kredietafgraderings kom, dis net ’n kwessie van tyd.

Meer oor:  2021  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Werkloosheid  |  Staatskas  |  Toelaes  |  Covid-19  |  Kredietafgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.