Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2,1 m. mense kry hul werk terug ná Covid-krisis

Nadat 2,8 miljoen mense met die aanvang van die Covid-19-pandemie hul werk verloor het, was 2,1 miljoen mense teen Oktober aangestel soos wat die ekonomie ná die strengste vlakke van die inperking heropen het.

werkloosheid
Nagenoeg 2,8 miljoen Suid-Afrikaners het tussen Februarie en April hul werk verloor, en 2,1 miljoen kon teen Oktober weer werk kry. Foto: Getty Images

Dit beteken sowat 700 000 mense het uiteindelik weens die effek van die pandemie hul werk verloor – ’n herstel wat navorsers as “merkwaardig” beskryf.

Daar is egter heelparty “maar”-faktore.

Die eerste is dat dit nie dieselfde mense is wat werk gekry het as dié wat hul werk verloor het nie. Ongeskoolde arbeiders, van wie baie die eerstes was wat hul werk verloor het, sukkel ook nou die langste om weer werk te kry.

Die tweede is dat vroue wat hul werk verloor het, stadiger na die arbeidsmark terugkeer.

’n Derde “maar” is dat die uitwerking op indiensneming van die mees onlangse streng vlak 3-inperkings, wat op 2 Februarie opgehef is, nog nie in die syfers verreken is nie.

Die data kom uit die derde reeks studies deur nagenoeg 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse universiteite oor die invloed wat die Covid-19-pandemie op onder meer werkloosheid, hongerte, opvoeding en gesondheid het.

In die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram) is dieselfde meer as 7 000 mense nou al drie keer ondervra – eers van Februarie tot April, toe van Mei tot Junie, en daarna in Oktober.

Onder die navorsingsverslae is een deur Ihsaan Bassier, Joshua Budlender en Rocco Zizzamia wat toon dat 57% van Suid-Afrikaners van werkende ouderdom (18 tot 64 jaar) in Februarie – dus voor die inperkings – óf werk gehad (54%) het óf tydelik afgelê (3%) was.

Dit het teen April geval tot 48%, waarvan 40% werk gehad het en 8% tydelik afgelê was. Die totaal van 48% het in Junie onveranderd gebly, hoewel 45% toe werk gehad het en 3% tydelik afgelê was.

Teen Oktober het 55% van Suid-Afrikaners weer werk gehad (53%) of was steeds tydelik afgelê (2%).

k

Die navorsers beklemtoon dat hulle self verbaas was oor die uitslag, en dit probeer verifieer het na gelang van ’n hele reeks ander syfers, insluitend verkoop- en produksiesyfers. Die finale woord sal kom van Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die vierde kwartaal van 2020, wat juis volgende week verwag word.

Volgens die verslag het net die helfte van die mense wat in April hul werk verloor het, weer teen Oktober werk gehad. Daarteenoor het sowat ’n derde van die mense wat in Februarie – vóór die inperkings – werkloos was, wel teen Oktober werk gekry.

“Dit wys op aansienlike wisseling in die arbeidsmark, wat nie meer dieselfde lyk as voor die inperkings nie.”

Onder die jong mense (18 tot 24) met matriek het net 29% in Februarie werk gehad, maar dit het teen Oktober tot 42% gestyg. Die indiensneming van jong mense sonder matriek het van 28% in Februarie tot 23% in Oktober gedaal. Soortgelyke tendense is ook gevind by mense van 25 tot 40 jaar oud.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.