Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
280 000 mense betaal 40% van belasting
Chris Axelson, direkteur: persoonlike inkomstebelasting by die nasionale tesourie.

Die veranderings aan persoonlike belasting oor die afgelope vier tot vyf jaar het die belastingstelsel meer progressief gemaak, het Chris Axelson, hoofdirekteur vir ekonomiese belastingontleding by die nasionale tesourie, Vrydag verduidelik.

Dit beteken hoe meer mense verdien, hoe meer belasting betaal hulle proporsioneel en nie minder nie, en mense wat minder verdien, betaal proporsioneel minder belasting.

Volgende jaar sal daar 280 000 belastingbetalers wees wat meer as R1 miljoen verdien en wat meer as 40% van alle persoonlike inkomstebelasting sal betaal, het Axelson in die parlement aan ’n gesamentlike sitting van die staande komitee oor finansies van die nasionale vergadering en die gekose komitee oor finansies van die nasionale raad van provinsies gesê.

Axelson het ontken dat Suid-Afrika die negende hoogste belastinglas in die wêreld het, uitgedruk as die belasting-tot-BBP-verhouding. Hy was erg krities oor die media wat gedurig ’n peiling van die Wêreldbank aanhaal wat dié bewering maak.

Axelson verduidelik die Wêreldbank stel dit uitdruklik dat sy peiling nie welsynstoelaes of provinsiale belasting insluit nie. Volgens hom is die peiling van die Organisasie vir Ekonomiese Ontwikkeling en Samewerking (Oeso) meer toepaslik, wat wys dat Suid-Afrika onder die gemiddelde belasting-tot-BBP-verhouding van Oeso-lidlande is.

Maatskappybelasting

Hy het die tesourie se besluit om nie die maatskappybelasting te verhoog nie, verdedig. Kommentators soos Cosatu het op ’n openbare sitting oor die begroting Woensdag gesê die tesourie moes maatskappybelasting verhoog het.

Volgens Axelson is die maatskappybelasting een van die faktore wat beleggers oorweeg wanneer hulle beleggingsbesluite maak, en dit raak ekonomiese groei.

Daar is 340 maatskappye met belasbare inkomste van meer as R200 miljoen wat 56% van alle maatskappybelasting betaal.

Met die koers van 28% die afgelope dekade is Suid-Afrika reeds ’n hoëbelastingland en hy begin om onmededingend te raak vergeleke met belangrike handels- en beleggingsvennote soos Brittanje met ’n maatskappybelasting van 19%, Nederland en Amerika met 21%, China met 25% en Mauritius met 15%.

Soos die gaping groter word, is daar ’n groter aansporing vir maatskappye om hul wins uit Suid-Afrika te verskuif, wat tot minder inkomste uit maatskappybelasting lei. Meer as 40% van die tesourie se inkomste uit maatskappybelasting kom van die Suid-Afrikaanse filiale van multinasionale maatskappye.

Staatsondernemings

Ian Stuart, waarnemende adjunkdirekteur-generaal by die nasionale tesourie se begrotingskantoor, het gesê die afgelope begroting was die eerste een sedert bestedingsplafonne ingestel is waarin die bestedingsplafon verhoog is, en die grootste deel daarvan was om Eskom te help.

Die meeste staatsondernemings het negatiewe kontantvloei as hul kapitaalinvestering en rentebetalings op skuld afgetrek word. Die grootste staatsondernemings moet in die komende jaar sowat R40 miljard se skuld terugbetaal, en in die volgende boekjaar is dit R55 miljard.

tesourie, begroting 2019

Rente op skuld

Stuart het toegegee die tesourie besef die rentebetalings op staatskuld bedra ’n ál groter deel van die hoofbegrotingstekort. Dit wys hoe belangrik dit is om skuld te verlaag.

In absolute terme bestee die staat steeds die meeste aan onderwys, met R1 244 miljard oor die volgende drie jaar, gevolg deur maatskaplike ontwikkeling, met R894 miljard, waarvan die meeste vir welsynstoelaes gebruik word.

Die staat moet egter oor die volgende drie jaar R674 miljard aan rente op sy skuld betaal, wat meer is as sy besteding aan ekonomiese ontwikkeling of aan veiligheid en sekuriteit. Die rente op skuld groei oor die volgende drie jaar teen 10,7%, teenoor groei van 9,3% in besteding aan gemeenskapsontwikkeling en 7,6% aan onderwys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.