Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
2de vlaag Covid-19 sal SA ekonomie ‘aan flarde skeur’
maskers, koronavirus, covid-19
Die Suid-Afrikaanse ekonomie sal nie 'n tweede golf van die koronavirus oorleef nie. Foto: Unsplash

Om ’n grootskaalse ekonomiese krisis ná die Covid-19-pandemie af te weer, moet Suid-Afrika “so gou as moontlik” begin met strukturele hervormings, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).

Die organisasie, waarvan Suid-Afrika een van 37 lidlande is, het Vrydag ’n omvattende verslag oor Suid-Afrika uitgereik wat hy ook aan die tesourie voorgelê het in ’n poging om beleid in die regte rigting te stuur om die ekonomie te red.

“Suid-Afrika kan nie bekostig om hervorming te vertraag nie,” sê Alvaro Pereira, direkteur van landstudies van die Oeso.

“Binne die volgende paar maande, of dalk maksimum jare, sal hervorming moet geskied.”

Van die ingrypings wat nodig is, is om staatsondernemings onder beheer te bring, fiskale beleid te wysig om staatskuld dringend te stabiliseer, die salarisrekening van staatsamptenare noemenswaardig te verminder en rompslomp so gou as moontlik te verwyder, sowel vir ondernemings as vir toeriste.

Maar die groot krisis is staatskuld.

Oeso het ’n baie meer pessimistiese vooruitsig vir wat met staatskuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) gaan gebeur as die staat self. Hy sê die gevolge as dit nie in toom gebring word nie, is erger as net slegte nuus vir die staat.

“Almal sukkel as rentekoerse opgaan, soos dit sál as staatskuld nie beheer word nie!” beklemtoon Pereira.

Die tesourie verwag dat staatskuld as persentasie van die BBP vanjaar meer as 85% sal tref, maar dat dit met ingryping gekeer kan word om meer as 100% van die BBP te word.

Die Oeso se vooruitsig dui daarop dat selfs mét ingryping en die nodige hervormings sal staatskuld teen 2023 100% haal. Mét hervormings kan dit wel daar begin stabiliseer.

Die domino-effek van ’n staatskuldkrisis is druk op rentekoerse op lang termyn wat kan oorspoel na verbruikers, van wie baie reeds oorlaai is met skuld.

Die Oeso verwag dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met 7,5% gaan inkrimp.

Dis egter net as ’n tweede vlaag van die pandemie nie toeslaan nie.

Die Oeso is erg bekommerd dat daar, nes met die grieppandemie van 1918, ’n terugkeer van die virussiekte kan wees ná die aanvanklike piek. Dit sal Suid-Afrika se ekonomie aan flarde skeur.

In dié scenario sou die BBP met minstens 8,2% inkrimp en met slegs 0,6% groei in 2021 – nie naastenby genoeg om ’n stortvloed nuwe werkloses te keer nie.

Dis om dié redes dat Oeso Suid-Afrika aanraai om nie nou net te fokus daarop om die pandemie in bedwang te bring nie, maar ook op die nodige diep herstrukturering van die ekonomie. Dit kan help verseker dat daar ’n vooruitsig is vir groei nadat die pandemie in bedwang is en wanneer die land dit die nodigste sal hê.

Van die stappe wat die Oeso aanbeveel, gaan etlike miljarde rande kos, maar verhoed dat ’n maatskaplik-ekonomiese krisis in die volgende paar jaar ontstaan wat nie herstel kan word nie.

Die verslag stel onder meer voor dat die regering ’n universele basiese inkomstetoelaag in werking stel.

Nasionale Gesondheidsversekering(NGV) moet ook van stapel gestuur word om te verseker dat gesondheidsdienste dramaties verbeter en vir almal toeganklik is.

Oeso weet dit sal meer belasting verg, maar sê dis onvermydelik.

“Suid-Afrika benodig meer maatskaplike beskerming vir sy mense,” sê Pereira.

staatskuld

Dondo Mogojane, direkteur-generaal van die tesourie, was teenwoordig met die uitreiking van die verslag. Hy stem saam met Pereira en sê die hervormings moet so gou as moontlik geskied.

Falilou Fall, senior ekonoom van Oeso, sê egter nie alle hervormings kos geld nie – en dis juis dié wat vanjaar nog moet gebeur.

Rompslomp kniehalter nie net ondernemings in Suid-Afrika nie, dit hou ook die land terug van sy volle potensiaal met toerisme.

’n Ganse hoofstuk in die verslag van 151 bladsye beklemtoon hoe broodnodig toerisme is om die land se ekonomie aan die gang te kry ná Covid-19.

Maar ’n gebrek aan elektroniese visums en ander onnodige regulasies beteken Suid-Afrika lok nie naastenby soveel toeriste soos hy sou kon nie – selfs voor die pandemie.

Pereira verduidelik met die sluiting van die toerismebedryf onder die staat van inperking is dit dus juis nodig dat die regering ondersteuning bied aan dié kernbedryf in die vorm van toelae en skenkings om te verseker dat dit kan oorleef tot wanneer die pandemie verby is.

Daarsonder sal een van die land se beste moontlike groeistrategieë in duie stort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.