Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
3 groot redes om Sake dié week dop te hou
Die Reserwebank kondig Donderdagmiddag omstreeks 15:30 aan of hy die rentekoers verlaag.

Dis ’n bedrywige week op die sakekalender – en dit lyk nie of die glas juis halfvol gaan wees vir verbruikers nie. Hier is die drie groot dinge wat jy sal vasstel as jy dié week sakenuus lees.

1. Hoe lyk kospryse?

Statistieke Suid-Afrika maak Woensdagoggend om 10:00 die inflasiekoers vir Oktober bekend.

Inflasie was nog net twee maande vanjaar – in Julie en Augustus – onder 5%.

Reezwana Sumad van Nedbank verwag wel dat die inflasiekoers weer in Oktober tot 4,9% gesak het, maar die stygende petrolprys gaan vir die res van die jaar inflasie opdruk.

Die groot vraag is of vleispryse uiteindelik stadiger begin styg. Vleisprysinflasie was in September die hoogste in ses jaar op 15,6%.

Die inflasiekoers bepaal hoeveel koopkrag gewone mense het – dus goeie rede om dié syfer dop te hou. Dis ook vir beleggers ’n goeie maatstaf of hulle welvaart bou of agteruit boer; enige opbrengs op beleggings van laer as die inflasiekoers beteken op lang termyn hulle word armer.

2. Gaan die rentekoers daal?

Die Reserwebank kondig Donderdagmiddag omstreeks 15:30 aan of hy die rentekoers verlaag.

Dis die laaste rentekoersbesluit van die jaar.

Die Reserwebank het in Julie die rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag – die eerste verlaging in vyf jaar. Dit het ’n klein bietjie verligting gebring vir mense met huis- en motorpaaiemente en ander skuld.

Geen verdere verligting word egter as Kersbonus vir mense met skuld verwag nie.

Nie één van die 17 ekonome wat aan ’n Netwerk24-peiling deelgeneem het, verwag dat die rentekoers verlaag gaan word nie. 100% van hulle reken dit gaan onveranderd bly.

Dit beteken ook daar is volgens dié ekonome geen Kersbonus vir mense wat heelwat van hul beleggings in die bank of geldmark bêre en dus eintlik hoër koerse wil hê nie.

In sy tweemaandelikse rentekoers-barometer raam Nedbank die kans dat die rentekoers onveranderd bly, op 63%. Die bank laat ’n 20%-kans vir ’n verlaging toe, maar ook ’n 17%-kans vir ’n verhoging in die rentekoers.

3. Gaan ons afgegradeer word?

Vrydag verwag ’n groot persentasie van die ekonome wat Netwerk24 gepeil het, slegte nuus. Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) en Moody’s Investors Service het albei geskeduleer dat hulle kredietgraderings vir Suid-Afrika doen, en Fitch Ratings kan ook sy stem dik maak.

Daar is geen vaste tyd vir dié aankondiging nie – die valbyl kan Vrydag enige tyd van die dag tot laataand val.

Nagenoeg 67% van die ekonome verwag dat S&P Suid-Afrika se staatskuld gaan afgradeer en 56% verwag dat Moody’s dit gaan doen.

In dié stadium verwag 33% van die ekonome dat S&P geen graderingsbesluit gaan neem nie en 44% verwag dat Moody’s geen besluit gaan neem nie.

As die wêreld se grootste kredietgradeerders staatseffekte tot rommelstatus afgradeer, sal dit gewone mense se sak raak.

Die grootste impak van ’n afgradering is dat die rand skerp sal verswak. John Cairns, valuta-ontleder van RMB, verwag dat die rand met minstens 30c teenoor die dollar sal verswak as net een van die gradeerders staatskuld afgradeer, maar met tot R1 indien albei gradeerders dit doen.

’n Swakker rand sal die petrolprys in Desember opdruk. In dié stadium word ’n styging van 73c per liter reeds in die prys van 95-oktaan-petrol verwag.

Die swakker rand beteken die prys van alle ingevoerde goedere styg, en duurder brandstof beteken daar is ’n risiko dat alle produkte wat padlangs vervoer word, duurder sal word.

Meer oor:  Moody's  |  S&P  |  Fitch Ratings  |  Ssa  |  Afgradering  |  Rentekoerse  |  Ekonomie  |  Kospryse  |  Rommelstatus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.