Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
3 miljoen mense het in April hul werk verloor

Tussen 2,5 miljoen en 3,6 miljoen Suid-Afrikaners het in April vanjaar hul werk verloor.

Nagenoeg die helfte van mense wat hul werk verloor het, het dit permanent verloor. Die ander helfte is tydelik afgelê of op onbetaalde verlof geplaas.

werkloosheid
Nagenoeg 3 miljoen Suid-Afrikaners het tussen Februarie en April hul werk verloor. Foto: Getty Images

Tog is net 17% van mense optimisties dat hulle ná die inperking ’n betaalde werk sal hê om na terug te keer.

Dis die nuutste inligting oor werkloosheid weens die Covid-19-krisis uit ’n omvattende reeks studies oor die ekonomiese en maatskaplike invloed van die pandemie en inperking wat nagenoeg 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite aangepak het. Dis gesamentlik as Nids-Cram bekend (meer inligting hier onder).

Die eerste fase van die studie, wat oor die volgende maande herhaal gaan word, handel oor April, toe Suid-Afrika die strengste vlak van inperking behaal het.

Die studie rond die getal mense wat hul werk in April verloor het, tot 3 miljoen af. Daarvolgens het nagenoeg 17 miljoen mense nog in Februarie vanjaar gewerk, maar net 14 miljoen in April. Dis ’n dramatiese daling van byna 18% in indiensneming.

Nagenoeg 2 miljoen uit die 3 miljoen mense wat hul werk verloor het, was vroue. Buiten vroue was handearbeiders, mense met laer-inkomstewerk, jong mense en mense met laer opvoedingsvlakke ook swaarder getref as ander groepe.

Werk van die huis af

Net 13,8% van werknemers (sowat 2 miljoen mense) kon onder die totale inperking van die huis af werk. 63% van werknemers (nagenoeg 10,5 miljoen mense) is nóg noodsaaklike werkers, nóg kon hulle van die huis af werk.

’n Kleiner persentasie lae-inkomstewerkers kon van die huis af werk – net 28% van hulle is óf noodsaaklike werkers, óf kon van die huis af werk. Dis teenoor 61% van werknemers in die top-10%.

Swart mense het ’n 43%-kans gehad om hul werk te verloor, teenoor 17% vir wit mense.

Nagenoeg twee uit vyf (38%) van lae-inkomstewerkers – dié wat voor die inperking minder as R3 000 per maand verdien het – het hul werk tussen Februarie en April verloor. 18% van mense in die middelinkomstegroepe – dié wat R3 000 tot R12 000 verdien het – het hul werk verloor. Net nagenoeg 5,5% van mense wat meer as R12 000 per maand verdien het, het hul werk verloor.

Die invloed van die werksverliese op die land se werkloosheidskoers is enorm. Waar 57% van volwassenes nog in Februarie werk gehad het, het net 38% in April werk gehad, as mense wat moontlik net tydelik afgelê is ook ingesluit word.

As mense wat nie ekonomies aktief is nie, uitgesluit word, bereken navorsers die land se breë werkloosheidskoers het tot 43% gestyg volgens tradisionele definisies, teenoor 39,7% in die eerste kwartaal volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling. (Mense wat nie ekonomies aktief is nie, sluit in studente, tuisteskeppers en afgetredenes.)

As mense ingesluit word wat steeds ’n werk het, maar in April geen inkomste verdien het nie, styg die werkloosheidskoers tot so hoog as 59%.

Selfs mense wat wel hul werk behou het, is swaar getref. Die werksure van mense in die informele sektor wat nog kon werk, is met meer as die helfte verminder. Veral deeltydse werkers (casuals) en mense wat vir hulself werk, het die spit afgebyt.

k

  

Armstes swaarder getref

Volgens dr. Nic Spaull, hoofnavorser van die groep, is die invloed van die Covid-19-krisis baie erger vir mense wat reeds die minste gehad het.

“Ongelykheid op tradisionele lyne van ras, geslag, soort werk, inkomste, ligging en opvoedingsvlak het alles beduidend toegeneem. ’n Reeds ongelyke nasionale situasie is aansienlik vererger.”

Werksverliese onder die 20% armste huishoudings verteenwoordig meer as ’n derde (35%) van alle werksverliese. Die getal mense met werk in die armste 10% van huishoudings was in April 55% laer as in Februarie – die grootste persentasieverandering van alle inkomstegroepe.

Gemiddeld meen 17% van individue hulle sal ná die inperking na ’n betaalde werk kan terugkeer. Dis egter net 7,6% onder individue in die armste 50% van huishoudings. Die persentasie individue in die rykste 10% van huishoudings wat sou terugkeer werk toe, is sewe keer hoër, maar steeds net-net meer as die helfte, op 50,5%.

Vir mense wat uurliks betaal word (salaristrekkers is by dié vraag uitgesluit), het hul werksure gemiddeld met 7,6 uur (sowat 20%) gedaal. Vir mense in die armste 20% van huishoudings het hul werksure egter met 9,4 uur, oftewel 31%, gedaal.

Meer as die helfte van mense in die armste 20% van huishoudings moes hul werksure verminder, teenoor net ’n derde (33,3%) van mense in die rykste 20% van huishoudings.

Oor alle inkomstegroepe het 31,2% van mense ’n vermindering in inkomste uit werk in hul huishouding beleef. 8,3% het ook ’n vermindering in inkomste uit toelae beleef, wat toegeskryf word aan mense wat voor die nasionale inperking na ander wonings beweeg het.

In die rykste 40% van huishoudings het twee uit vyf (39,8%) mense se salaris verminder en in die armste 50% van huishoudings was dit 24,9%. Dit weerspieël die feit dat werkloosheid onder armes hoër was nog voordat die inperking begin het.

Meer as ’n derde (35%) van die mense wat hul werk verloor het, woon in die 20% armste huishoudings. Die rykste 20% van huishoudings het teen die stroom geswem en hul indiensneming het gestyg, hoewel met net 1,2 persentasiepunte.

k

  

Meer oor Nids-Cram

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram) is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse universiteite gedoen.

7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank ondervra oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelae en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases (waves) navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase navorsing is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Dit het mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het. Mense is ook vrae gevra wat verwys na die “laaste sewe dae”, wat dus na latere vlakke van inperking sal verwys.

Nids is ’n afsonderlike studie wat vantevore deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Die Nics-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

   

Bronne oor werkloosheid

Verskeie studies is oor die arbeidsmark gedoen.

Die studie waaruit die meeste inligting vir dié artikel geneem is, is gedoen deur Ronak Jain van Harvard-Universiteit, Joshua Budlender en Ihsaan Bassier van die Universiteit van Massachusetts Amherst, en Rocco Zizzamia, van die Universiteit van Oxford en die Universiteit van Kaapstad.

Die artikel bevat ook inligting uit ’n studie oor die invloed van werksverliese op die verskillende inkomstegroepe wat deur Tim Köhler en prof. Haroon Bhorat, albei van die Universiteit van Kaapstad, gedoen is.

Die studie oor die lot van vroue tydens die inperking is gedoen deur Daniela Casale en Dorrit Posel van die Universiteit van die Witwatersrand.

Prof. Vimal Ranchhod en Reza Daniels, albei van die Universiteit van Kaapstad, het ook navorsing oor die arbeidsmark gedoen.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.