Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
3 uit 4 winkels verkoop onwettige sigarette

Die jongste studie van die marknavorsers Ipsos bevestig wat waarnemers gevrees en waaroor kritici gewaarsku het: Die regering se tabakverbod het bloot die sluikhandel in sigarette ’n groter greep op die mark gebied.

Die onwettige handel in sigarette ontneem die staat miljarde rande belastinginkomste. Foto: Unsplash

In sommige provinsies verkoop drie uit elke vier winkels ’n pakkie van 20 sigarette onder die minimum invorderbare belastingkoers (MCT) van R20,01, het Ipsos se ondersoek by duisende winkels en afsetpunte getoon.

Die ondersoek is in opdrag van British American Tobacco SA (Batsa) gedoen.

Die ondersoek is van 11 tot 16 Februarie gedoen toe die aksyns op ’n pakkie van 20 sigarette nog R17,40 was teenoor die jongste R18,79. Dit impliseer dat die verkopers van sigarette wat teen minder as R20,01 verkoop word waarskynlik nie die aksyns aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal nie, want dit sou beteken hulle bly oor met minder as R2,61 nog voordat produksie-, bemarkings- of verspreidingskoste afgetrek is.

Die ondersoek wys handelsname van Gold Leaf Tobacco Corporation verteenwoordig die helfte van al die produkte wat onder die MCT-prys verkoop is.

Carnilinx se handelsname is ná Gold Leaf se handelsname die gewildste onder die sigarette wat onder die MCT-prys verkoop is.

’n Kleiner onlangse studie van Tax Justice SA (TJSA) van Yusuf Abramjee wat in November en Desember verlede jaar by 43 verskillende winkels in Kaapstad, Durban, Pretoria en Johannesburg gedoen is, het min of meer dieselfde resultate opgelewer. TJSA het gevind sy navorsers kon by 42 van die 43 winkels bloot instap en sigarette teen R20 of minder koop.

TJSA het gevind van die kleinhandelaars vrees nie eens vervolging van die polisie of die SAID nie, en een het openlik erken sy sigarette word van Mosambiek ingesmokkel en daar is nie belasting daarop betaal nie.

Navorsing van die Universiteit van Kaapstad tydens die tabakverbod in Julie verlede jaar het gewys 93% van rokers kon steeds sigarette in die sluikhandel koop, en dat die markaandeel van gevestigde multinasionale tabakmaatskappye soos Batsa van 74% tot net 17% getuimel het.

Hier is van die syfers uit die Ipsos-studie:

  • 41% van kleinhandel-afsetpunte landwyd verkoop sigarette onder die vlak van R20,01.
  • In die Vrystaat styg die syfer tot 76%, in die Wes-Kaap tot 73% en in Gauteng tot 62%.
  • Die laagste verkoopprys vir ’n pakkie van 20 sigarette was R9, met die prys vir ’n grootmaat-pak van tien sulke pakkies wat uitwerk op R6,30 per pakkie van 20 sigarette.
  • Tot 48% van die informele winkels soos spazas het hul sigarette onder die MTC-prys verkoop.

“Dit is belastingontduiking op ’n groot skaal,” het Johnny Moloto, hoofbestuurder van Batsa, gesê.

“Die regering het ’n verantwoordelikheid om dringend die plundery te stop,” het hy bygevoeg.

Die navorsing wys die groeiende onwettige handel in sigarette kos Suid-Afrikaanse belastingbetalers miljarde rande in verlore inkomste. Misdadige kartels wat die tabakverbod uitgebuit het, het sedertdien hul greep op die sektor gehandhaaf en Suid-Afrika het nou een van die grootste markte vir onwettige sigarette in die wêreld, met produkte wat belasting ontduik wat openlik landwyd te koop is.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Tjsa  |  Bat  |  Batsa  |  Ipsos  |  Sigarette  |  Sigaretverkope  |  Rookverbod  |  Aksyns  |  Sigaretverbod  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.