Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
30 verwag nou selfs flouer groei

Daar is maar min optimisme onder deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd oor ekonomiese groei vanjaar.

In hul laaste voorspelling vir vanjaar se kompetisie het hul konsensus-voorspelling vir ekonomiese groei ’n laagtepunt bereik.

Hulle voorspel nou dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met net 0,79% gaan groei.

Die mees optimistiese ekonoom is dr. Roelof Botha van die Optimum-groep wat nog groei van 1,4% verwag, en die mees pessimistiese ekonoom is Abri du Plessis van Gry­phon wat 0,4% verwag.

ekonomie
Die 30 deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar wedstryd is negatief oor groeikoerse vir 2018.

“Dit is opmerklik hoe die ekonome die laaste paar maande hul vooruitsigte voortdurend laer aangepas het,” sê prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB). Hy verwerk elke maand die ekonome se voorspellings in ’n konsensusraming.

eknomiese groei
Verwagtinge oor hoe die ekonomie kan groei.

Die Reserwebank het in November sy verwagting vir ekonomiese groei vir vanjaar tot net 0,6% verlaag teenoor 0,7% in September en die optimistiese 1,7% in Maart. Die groeiverwagting vir 2019 en 2020 is op onderskeidelik 1,9% en 2% gelaat.

Die ekonome se groeiverwagtinge is ook al hoe nader aan die laer grens wat die kredietgradeerder Moody’s Investors Service verwag. Moody’s verwag groei van tussen 0,7% en 1% vir vanjaar.

Die rand

Die ekonome het ook die vooruitsigte vir die rand laer aangepas nadat die geldeenheid in September beduidend teenoor die Amerikaanse dollar verswak het.

Hul konsensusvoorspelling is nou dat die rand in die laaste kwartaal van die jaar teen gemiddeld R14,11 teenoor die dollar gaan verhandel.

Ekonome het in November vir die eerste keer voorspel dat die rand die jaar teen meer as R14 teenoor die dollar gaan afsluit.

Die rand het egter sedertdien verstewig en verhandel tans teen sowat R13,76 teenoor die dollar.

Eweneens verwag hulle ’n wisselkoers van meer as R16 teenoor die euro. Die konsensusraming is nou R16,14. Dit is wel effens beter as die R16,18 van November.

Inflasie

Hul verwagtinge oor inflasie bly stabiel. Die konsensus is nou 4,83%, wat effens laer is as die 4,88% wat hulle van September tot November voorspel het.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het op 29 Oktober in die kwartaallikse monetêrebeleidsoorsig gesê die bank verwag die inflasiekoers gaan styg, en dat dit hom gaan noop om rentekoerse oor die volgende twee jaar te verhoog.

Kganyago het in November ná die monetêrebeleidskomitee (MBK) se vergadering oor rentekoerse gesê die MBK glo steeds die risiko’s vir die langertermyn-vooruitsig van inflasie neem toe.

Die risiko’s sluit in die swak rand, te hoë loonstygings, internasionale oliepryse en stygende krag- en watertariewe.

Op kort tot mediumtermyn het die Reserwebank selfs sy inflasieverwagting verlaag – hy verwag nou 4,7% vir vanjaar (teenoor die verwagting van 4,8% in September) en 5,5% in 2019 (teenoor die vorige 5,7%).

Vir 2020 is die verwagting onveranderd op 5,4%.

Prima rentekoers

Die ekonome se konsensusvoorspelling vir die prima rentekoers is 10,14% in die laaste kwartaal.

Dit is effens hoër as die 10,07% wat hulle vir ’n groot deel van die jaar voorspel het.

Die Reserwebank het die uitleenkoers op 22 November met 0,25 persentasiepunt verhoog, wat beteken die prima rentekoers van banke het van 10% tot 10,25% gestyg.

Tekort op die lopende rekening

Ekonome het hul voorspelling vir die tekort op die lopende rekening vir die eerste keer vanjaar effens verlaag.

Dit is nou op R167,9 miljard teenoor die R172 miljard in November. In Februarie was dit nog op R93,46 miljard.

Hulpbronne

Wat hulpbronne betref, verwag ekonome goeie en slegte nuus.

Waar hulle in November nog voorspel het ruolie gaan teen die einde van die jaar teen $76,74 per vat verhandel, het hulle dit nou tot $71,65 per dollar verlaag.

olieprys
Ekonome se verwagtinge van olieprysveranderings.

Hoewel kenners wêreldwyd voorspel het ruolie kan teen die einde van die jaar teen meer as $100 per vat verhandel, het die prys teruggesak. Ruolie verhandel tans teen sowat $60 per vat.

Die ekonome is egter minder optimisties oor goud en platinum.

In Februarie het hulle nog voorspel dat platinum teen $1 003 per ons sal verhandel. Nou voorspel hulle net $857,57 per ons. Dit is hul laagste voorspelling vir die jaar.

Dieselfde geld die goudprys.

Die ekonome se verwagtinge vir Desember is op $1 230,71 per fynons die laagste vir die jaar.

In Mei het hulle $1 322,64 per fynons voorspel.

edelmetale
Ekonome se verwagtings oor hoe edelmetaalpryse kan verander

Die 30 ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, moet elke maand voorspellings vir 14 ekonomiese veranderlikes doen.

Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur.

Meer oor:  Optimum  |  Ekonoom Van Die Jaar  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.