Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hulppakket vir firmas: Alles wat jy nou moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand verskeie reddingsboeie gegooi na Suid-Afrikaanse maatskappye wat nie tydens die inperking mag sake doen nie. Die vraag is of dit genoeg is en of dit betyds is – Statistieke Suid-Afrika het vroeër die dag ’n peiling uitgereik het waarin byna ’n derde van maatskappye sê hulle kan nie die maand lange inperking oorleef nie. Meer inligting oor die reddingsboeie is Donderdag deur die tesourie uitgereik. Hoewel van die belastinghulp steeds net voorstelle is wat nog nie in wette vervat is nie, word voorsien dat dit wel eersdaags van krag gaan word.

  

1. Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)

Hoewel die WVF deurloop onder kritiek vir administratiewe probleme met die tydelike verligtingskema vir werkgewers bekend as die Covid19Ters, is R1,6 miljard sedert dit bekend gestel is reeds aan 37 000 maatskappye met 600 000 werknemers uitbetaal.

maatskappye,
Byna ’n derde van maatskappye sê hulle kan nie die maand lange inperking oorleef nie.

Die skema betaal ’n deel van die salaris van werknemers uit aan maatskappye wat weens die inperking nie mag sake doen nie en werknemers óf met (betaalde of onbetaalde) verlof geplaas het óf tydelik moes aflê.

Ramaphosa het Dinsdagaand aangekondig nóg R40 miljard is hiervoor opsy gesit.

Die uitbetalings word, soos gewone WVF-betalings, op ’n glyskaal gedoen na gelang van mense se salaris. Dit beloop ’n minimum van R3 500 per persoon en ’n maksimum van R6 730. Dié geld word egter anders as gewone WVF aan werkgewers uitbetaal, wat dit aan werknemers moet oorbetaal.

Uitbetalings is die afgelope paar dae aansienlik versnel.

LEES OOK: WVF versnel betaling van Covid-19-voordeel

Tientalle mense wat reeds voor die inperking vir gewone WVF-uitbetalings geregistreer is of daarvoor aansoek gedoen het, kla dat hulle nog nie vir Maart betaal is nie of dat hul aansoeke nie verwerk word nie.

Mense wat reeds op WVF is, behoort ’n SMS te kry waardeur hulle kan bevestig hulle is steeds werkloos - ’n uitsonderlike reëling vir die duur van die inperking omdat WVF-kantore gesluit is.

  

2. Hulp aan kleinsake

Ramaphosa het nóg R2 miljard se lenings en toelae aangekondig vir klein, middelslag en mikro-ondernemings, spazawinkels en informele handelaars. Dis benewens die R100 miljoen wat tot dusver beskikbaar gestel is.

Ondernemings kan 0860 663 7867 bel om te hoor hoe om vir hulp aansoek te doen. Verlengde ure is vir die duur van die inperking ingestel. Die oproepsentrum is van Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 22:00 oop en Saterdae en Sondae en op openbare vakansiedae van 08:00 tot 14:00.

Die vakbond Solidariteit meen dié hulp bevoordeel slegs swart werkgewers. Die departement van kleinsakeontwikkeling het ras as kriteria vir hulp geskrap, maar die departement van toerisme gaan voort met die plan om slegs ondernemings wat 51% of meer in swart besit is, te help. Dis die onderwerp van ’n hofsaak wat Solidariteit aanhangig gemaak het.

 

3. Leningswaarborge

Die regering sal lenings wat ondernemings aangaan vir bedryfskoste soos salarisse, huur en die betaling van verskaffers waarborg in vennootskap met die land se handelsbanke, die tesourie en Reserwebank. R200 miljard se waarborge word beskikbaar gestel.

In die aanvanklike fase kwalifiseer maatskappye met ’n omset van minder as R300 miljoen per jaar. Ramaphosa raam dat 700 000 maatskappye met meer as drie miljoen werknemers só bygestaan sal kan word.

Die lenings sal reeds voor einde April by banke beskikbaar wees.

Die geld word waarskynlik teen heelwat minder as die repokoers, wat tans 4,25% is, aan banke geleen. Banke sal wel hoër rentekoerse daarop vra.

Geen besonderhede oor watter banke die lenings beskikbaar sal stel of hoe ondernemings kan aansoek doen, is al gegee nie. Banke het ook nog nie inligting daaroor op hul webwerwe nie.

Karl Kumbier, uitvoerende hoof van Mercantile Bank, wat aan Capitec behoort, het Woensdagmiddag wel gesê hulle is een van ses banke wat aan die skema deelneem.

Netwerk24 verneem ondernemings wat geen toegang tot ander finansiering het nie en wat nie agterstallig is met huidige skuldpaaiemente nie, sal vir die lenings kwalifiseer indien hulle deur die inperking benadeel is.

Geld gaan waarskynlik teen die prima rentekoers aan ondernemings geleen word en terugbetalings sal na verwagting eers oor ses maande moet begin.

Ondernemings sal steeds moet voldoen aan kredietwaardigheidstoetse voordat die geld toegewys word. Dis ook net beskikbaar vir ondernemings wat nie op ander maniere geld kan invorder, soos byvoorbeeld deur aandeelhouers nie.

Die Reserwebank sal dien as die primêre borg vir die lenings, en dié borg word op sy beurt deur die tesourie gerugsteun. Indien ondernemings nie hul lenings kan terugbetaal nie, dra banke ’n persentasie van die verlies moet dra, maar die Reserwebank (en uiteindelik die tesourie) sal die res moet dra ten einde die bankstelsel te beskerm.

  

4. Belastingverligting

Maatskappye kan uitstel kry op die betaling van verskeie heffings en belastings. Die kontantvloei- en belastingverligting word op R70 miljard geraam. Die tesourie het Donderdag meer inligting oor die maatreëls gegee, maar dis nog nie deur die parlement goedgekeur nie.

Dis deel van die Wetsontwerp op Rampbestuur-belastingverligting en die Wetsontwerp op Rampbestuur-belastingverligtingadministrasie wat beoog word ten einde die ekonomiese en maatskaplike impak van die staat van inperking te versag. Die maatreëls sal slegs tydelik wees, maar sal onmiddellik van krag word wanneer dié wetsontwerpe wet word.

Die wetsontwerpe word op 30 April vir openbare kommentaar gepubliseer. Daar sal na verwagting 30 dae of korter vir kommentaar gegee word. Daar is dus nog geen aanduiding van wanneer dit van krag sal word nie.

  • Vaardigheidsheffing

Maatskappye kry ’n betalingsvakansie van vier maande op die vaardigheidsheffing. Dit beteken die geld sal wel uiteindelik betaal moet word, maar besonderhede oor hoe gou ná die vier maande dit moet gebeur, is nie verskaf nie.

Dié heffing is betaalbaar deur alle maatskappye wat oor ’n tydperk van ’n jaar meer as R500 000 aan vergoeding uitbetaal. Dit beloop 1% van maatskappye se salarisrekening (oortyd, bonusse, kommissies, verlof- en kontantuitbetalings ingesluit) en is maandeliks betaalbaar.

Die vakansie strek vanaf Mei tot Augustus en volgens die tesourie bring dit R6 miljard se belastingverligting mee.

  • BTW-terugbetalings word versnel

Kleiner maatskappye (met ’n omset van minder as R1 miljoen) aan wie BTW betaalbaar is, sal nou maandeliks opgawes kan indien, pleks van tweemaandeliks, wat hul kontantvloei kan help, het die tesourie bekend gemaak. Dit sal na verwagting reeds vanaf Mei geld vir maatskappye wat eers in Junie opgawes sou indien. Dis nie verpligtend om meer gereeld opgawes in te dien nie.

  • Koolstofbelasting

Maatskappye kry drie maande grasie vir die indiening van opgawes oor koolstofbelasting en vir hul eerste betaling daarvan. Die eerste betaling sal nou eers in Oktober betaalbaar wees, pleks van in Julie. Die tesourie sê dit verteenwoordig verligting van R2 miljard.

  • Uitgestelde inkomstebelasting

Maatskappye moet gewoonlik maandeliks die inkomstebelasting (PAYE) wat van werknemers se salaris verhaal word, aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal. In April is die toegewing gemaak dat hulle 20% van die belasting kan terughou en dié geld vanaf September oor ses maande terugbetaal saam met die hervatting van gewone oorbetalings. 

Ramaphosa het die bedrag wat maatskappye mag terughou, nou tot 35% verhoog.

Daar word voorsien dat die geld meer geleidelik terugbetaal sal word. Meer inligting oor dié skedule is Donderdag in die parlement bespreek.

Die maatskappye wat daarvoor kwalifiseer, is ook uitgebrei. Waar dit voorheen net van toepassing was op ondernemings met ’n omset van tot R50 miljoen, word dit nou ondernemings met ’n omset van tot R100 miljoen.

Ondernemings met ’n hoër omset kan wel by die SAID om verligting aansoek doen en elke geval sal afsonderlik beoordeel word.

Geen rente of boetes is betaalbaar op die laat betalings nie.

  • Uitstel van voorlopige belasting vir ondernemings

Die eerste betaling van voorlopige belasting vir klein en mediumgrootte ondernemings, wat tussen 1 April en 30 September betaalbaar is, hoef net 15% van die geraamde belastingpligtigheid wees en die tweede, wat van 1 April 2020 tot 3 Maart 2021 betaalbaar is, hoef 65% van die geraamde belastingpligtigheid te wees. Die ander geld wat betaalbaar is, sal dit dan met die derde betaling van voorlopige belasting moet betaal.

Dieselfde reëling geld mikro-ondernemings, behalwe dat hulle nie ’n derde betaling het nie en die uitstaande belasting met assessering sal moet betaal.

  • Aksynsbelasting

Weens die verbod op die vervoer van alkoholiese en tabakprodukte kry ondernemings in dié bedrywe 90 dae uitstel op aksyns wat in Mei en Junie betaalbaar sou gewees het. Dit word op korttermynverligting van R6 miljard geraam. 

  • Uitstel van maatreëls wat in die Februarie-begroting aangekondig is

In die 2020-begroting is tegniese maatreëls aangekondig aangekondig aftrekkings van rente-uitgawes en die oordrag van geassesseerde verliese gaan verander word. Dit sou ingestel word vir maatskappye se boekjare wat in Januarie 2021 begin, maar word nou tot minstens 1 Januarie 2022 uitgestel. 

  • Verhoging van belastingaansporings

Werkgewers kry ’n loonsubsidie van R750 per maand vir enige werknemer wat minder as R6 500 verdien. Dit was vroeër R500 per maand. Dit beteken hulle kan die geld aftrek van inkomstebelasting wat aan die SAID oorbetaal word en die tesourie raam dat dit die staat sowat R15 miljard aan verlore inkomste kos.

  • Skenkingsbelasting

Individuele belastingbetalers wat geld aan die Solidariteitsfonds skenk, mag die skenking van hul belasbare inkomste aftrek tot ’n maksimum van 20% van hul belasbare inkomste. Die gewone limiet vir skenkings aan welsynsorganisasies is vir ’n aftrekking van 10% van belasbare inkomste. Die reëling is vir die huidige belastingjaar (dus vanaf Maart 2020 tot Februarie 2021).

Die Solidariteitsfonds is die fonds waaruit die regering onder meer toerusting vir gesondheidswerkers en kospakkies koop.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Reddingsboei  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.