Die internasionale graderingsagentskap Moody’s het Dinsdag Suid-Afrika se vyf grootste banke afgegradeer.
Dit kom ná die afgradering van die land se staatseffekte verlede Vrydagaand.
Moody’s sê in ’n verklaring die langtermyn- plaaslike en buitelandsevaluta-deposito-graderings van Standard Bank, FirstRand Bank, Absa, Nedbank en Investec is van Ba1 tot Ba2 afgegradeer.
Die graderings van twee beheermaatskappye – die Standard Bank-groep en Absa-groep – is ook van Ba2 tot Ba3 afgradeer.
’n Negatiewe vooruitsig is op die gradering van al sewe ondernemings behou.
“Die afgraderings van die vyf banke weerspieël die verswakking in die kredietwaardigheid van die Suid-Afrikaanse regering.”
“Die verswakking van die regering se kredietprofiel het direkte gevolge vir die banke gegewe hul aansienlike belang in die staatseffekte wat hulle op hul balansstate hou.”
Volgens Moody’s het die vyf banke se direkte en indirekte blootstelling aan staatskuld (insluitende lenings aan staatsondernemings) van 176% einde Desember 2019 tot 200% van hul gesamentlike kapitaal einde Junie verhoog.
Nog ’n rede vir die afgradering is die stelselmatige verswakking in die banke se eie kredietprofiele weens die koronaviruspandemie wat ’n reeds moeilike bedryfsomgewing vererger.