Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Vyf jaar voordat ekonomie weer op 2019-vlak kom’

Suid-Afrika se ekonomie gaan waarskynlik vanjaar die sterkste in tien jaar groei, teen tussen 3% en 4%.

Sonneblomme pronk op ’n land tussen Bloemfontein en Soutpan. Die landbou was in 2020 ’n ligpunt in ’n donker ekonomie. Foto: Vida Booysen

Daar is reeds heelwat tentatiewe tekens dat 2021 goed begin het. Talle maatskappye het in hul onlangse resultate verwys na ’n verrassend vinnige herstel en “groen lote” sedert die land na vlak 1 van inperking weens die Covid-19-pandemie beweeg het.

Dit gaan egter dalk tot 2024 duur voordat die bruto binnelandse produk (BBP) weer so groot is as in 2019, het die FirstRand-ekonoom Mpho Molopyane aan Bloomberg gesê.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van Noordwes-Universiteit se sakeskool, waarsku ook dat dit lank sal duur om ekonomiese produksie en indiensneming weer op die vlakke voor die pandemie te kry – vlakke wat self maar swak was.

Baie sal van die pas en omvang van die entstofprogram afhang.

Dié twee kante van die ekonomiese munt is Dinsdag uitgelig nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak het die BBP het verlede jaar met 7% ingekrimp – die grootste inkrimping in 100 jaar, sedert 1920 se 11,9%.

Dit volg op jare van louwarm ekonomiese groei. Die ekonomie het in 2013 laas met meer as 2% gegroei (2,5%); in vier van die afgelope vyf jaar was dit minder as 1% (0,4% in 2016, 0,8% in 2018, 0,2% in 2019 en 2020 se -7%).

Die 7%-inkrimping was effens beter as die 7,1%-inkrimping wat die Reserwebank in Januarie voorspel het.

LEES OOK: -7%: Só ‘groei’ SA ekonomie in 2020

Suid-Afrika moet nou alles moontlik doen om volhoubare ekonomiese groei te bewerkstellig wat werk skep, sê Parsons. Sowat 1,4 miljoen mense het verlede jaar hul werk verloor, wat die getal mense sonder werk op 11,1 miljoen te staan gebring het.

Chifipa Mhango, hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse Federasie vir die Staal- en ingenieurswesebedryf (Seifsa), sê dié bedryf steun swaar op die prestasie van mynbou en konstruksie. Die bedryf is bemoedig deur die R791,2 miljard wat die staat oor die volgende drie jaar aan openbare infrastruktuur wil bestee.

Hy sê dis ook belangrik dat die meesterplan vir die staalbedryf vinnig in werking gestel word sodat die staalbedryf internasionaal mededingend kan word.

Nedbank se ekonomiese eenheid onder leiding van Nicky Weimar sê Suid-Afrika sal voordeel trek uit die herstel in die wêreldekonomie, wat uitvoer sal bevorder. Lae rentekoerse en gedempte inflasie kan verbruikers se besteding help herstel.

“Enige styging in infeksiekoerse sal waarskynlik tot strenger inperkings lei, wat die verwagte herstel kan laat onstpoor.”

Paul Makube, landbou-ekonoom van FNB.

Weimar wys ook daarop dat weinig vordering gemaak word met beleidshervorming en strukturele probleme in die ekonomie, “veral die onvoldoende, onbetroubare en relatief duur kragvoorraad”.

In 2020 het net twee bedrywe positief gegroei teenoor 2019. Dit was landbou (13,1%) en die staatsdiens (0,7%).

Die meeste boere kon regdeur die inperkings aanhou produseer, met die uitsondering van ontwrigtings in die tabak- en wynbedryf. Die landbou verteenwoordig egter slegs 1% van die BBP en kan dus nie die negatiewe groei in ander sektore sterk teenwerk nie.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, sê die groei in die landbou is aangedryf deur die hoër produksie van diereprodukte. Dit het die pandemie-ontwritings deurstaan en selfs in die winter, wanneer vraag gewoonlik daal, goed gevaar, met pryse wat in die meeste kategorieë goed gebly het.

Landbou-uitvoer het ’n driejaar-rekord van $10,2 miljard gehaal, met mielie-uitvoer in die tweede helfte meer as 200% hoër as in 2019, en die sitrusbedryf wat rekords behaal het.

Die grootste negatiewe groei was vir konstruksie (-20,3%).

Finansiële dienste, die grootste sektor in die ekonomie, het met 4,4% ingekrimp en handel, die sektor wat klein-, groot- en motorhandel, restaurante en die verblyfsektor insluit, het met 9,1% ingekrimp.

Tussen die derde en vierde kwartaal het die ekonomie met 6,3% gegroei, gemeet op ’n geannualiseerde, seisoensaangepaste kwartaalgrondslag.

Oor die syfers

Die geannualiseerde, seisoensaangepaste kwartaalgroei was verlede jaar redelik omstrede omdat dit so skeefgetrek is deur die ekstreme omstandighede van die inperkings, met -51,7% in die tweede kwartaal en 67,3% in die derde kwartaal.

SSA gaan voortaan slegs die kwartaalgroei weergee, seisoensaangepas maar nie geannualiseer nie.

Die statistiekdiens sê dis wat algemeen in lande soos Australië, Kanada, Frankryk en Duitsland gedoen word.

Ander syfers, soos die jaargroei en jaar-tot-dusver-groei, sal ook nog gepubliseer word.

Meer oor:  Handel  |  Ekonomie  |  Mynbou  |  Ekonomiese Groei  |  Verbruikersbesteding  |  Landbou  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.