Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
5 lesse uit die Suez-prop

Die prop in die Suezkanaal is los. Dr. Dirk Siebels, kenner in maritieme veiligheid by die Universiteit van Greenwich in Brittanje, wys op die volgende lesse uit die voorval.

Suez-kanaal
Die foto is Maandagmiddag van die agterkant van die ‘Ever Given’ geneem nadat dit op eie stoom kon voortvaar deur die Suezkanaal. Die man in die voorgrond wapper die Egiptiese vlag. Foto: Reuters

1. Bottelnekke

Die voorval wys hoe blootgestel internasionale handel aan net enkele bottelnekke soos die Suezkanaal of die Panamakanaal is.

2. Veiligheidsbedreigings

Siebels meen vrese oor die veiligheid van skepe wat aan die suidelike kant van die Suezkanaal opgehoop het, is oordrewe. Kommer oor seerowery vir skepe wat die alternatiewe roete om Afrika moes volg, is volgens hom ook ongegrond.

Die reeds bestaande veiligheidsituasie in die Rooisee het nie oornag verander nie. Skepe moes nog altyd wag om deur die kanaal te beweeg aangesien die deurvaart in konvooie gedoen word.

Siebels waarsku daar is ewe veel risiko vir seerowery vir skepe wat deur die Golf van Aden beweeg op koers na die Suezkanaal as vir skepe wat in die Indiese Oseaan na Suid-Afrika vaar.

Nadat skepe om die Kaap gevaar het, is die kortste roete verby Senegal en die Kaap Verdiese Eilande, en die roete word nie geraak deur die seerowery aan die kus van Wes-Afrika nie. Dit is beperk tot sowat 250 seemyl van die Nigeriese kus, terwyl die kortste roete om Afrika byna 1 000 seemyl van die Nigeriese kus af is.

3. Nuwe alternatief

Intussen het die Finse skeepsontwerper Aker Arctic verlede week ’n ysbrekende Arktiese houerskip bekend gestel, net ’n dag voordat die Ever Given in die Suezkanaal vasgesteek het, berig Arctic Today. Vir houerskepe tussen China en Europa kan dit 40% korter wees as hulle die noordelike seeroete deur die Russiese Arktiese See gebruik, maar dan is daar ekstra koste om ysbrekers te huur. Aker Arctic het egter nou ’n houerskip ontwerp met ingeboude ysbreker-vermoëns, en met die nodige versterkte romp om ystoestande te kan hanteer.

4. Ander logistieke nagmerries

Hoewel die meeste skepe wat aan weerskante van die Suezkanaal die afgelope week opgehoop het teen die Paasnaweek weer op koers kan wees, kan dit volgens kenners verskeie weke of selfs maande duur voordat internasionale handel weer “normaal” is.

Skeepsverkeer het Maandagaand weer begin vloei deur die Suezkanaal, waar ’n houerskip bevry is wat die kanaal ses dae lank geblokkeer het.

Maar internasionale handel was weens die Covid-19-pandemie reeds voor die Suez-blokkasie in ietwat van ’n wanbalans.

Die vervlegte netwerk van skepe, hawens, treine, vragmotors en pakstore waardeur produkte van ’n fabriek of plaas aan die een kant van die planeet na ’n winkelrak of produksielyn aan die ander kant geneem moet word, moet nou weer aan die gang kom.

Die toename in e-handel sedert die begin van die pandemie beteken verbruikers vereis nog meer spoed, wat ekstra druk op vervoernodusse plaas en vragtariewe tot rekordvlakke gedruk het.

Selfs net ’n tydelike vertraging in ’n kritieke nodus soos die Suezkanaal skep omvattende ontwrigting, want die byna 6 000 houerskepe in die wêreld vaar volgens skedules, en daar is net ’n beperkte hoeveelheid vraghouers.

Die houers kan nie net in ’n kits geskuif word na waar die vraag is of vinnig verskuif word uit streke waar ekonomiese aktiwiteit traag is nie.

internasionale handel

Hoe skeepsrederye vragvermoë aanpas, is om skepe vinniger te laat vaar of die besoeke aan sekere hawens oorslaan wat nie meer prakties moontlik of ekonomies lewensvatbaar is nie.

Die Kaapse hawe het onlangs reeds verskeie sulke kansellasies ervaar weens swak weer en opeenhopings, en die Suez-voorval kan nou heelwat sulke kansellasies by ander hawens veroorsaak.

Dit laat die eienaars van die vrag aan die genade van die skeepsrederye oor.

Hawens van Europa tot Asië verwag om oor die komende weke oorval te word met goedere wat byna ’n week by die Suezkanaal opgehoop het. Rotterdam, die grootste hawe in Europa, het die naweek 59 houerskepe getel wat op koers was soontoe wat by die Suezkanaal opgehoop het, maar dis nie duidelik presies wanneer almal gaan arriveer nie.

In Spanje berei hawens voor vir ekstra ure om die onvoorspelbare vloei van skepe te hanteer.

Ook vragte met olie, brandstof, gas en chemikalieë is ontwrig.

5. Hoe die oliemark geraak word

Voor die blokkasie is sowat twee miljoen vate ruolie en brandstof elke dag deur die Suezkanaal vervoer.

Europese gasaankopers kan sukkel om voorraad op te bou wat deur die Noordelike Halfrond se winter afgewerk is. Dit kan volgens ontleders ’n geleentheid bied vir Amerikaanse gasuitvoerders om die gaping te vul en markaandeel te verkry. Die vragtariewe vir graan- en metaalvervoer sal na verwagting steeds hoog bly.

’n Chinese logistieke bestuurder waarsku hawens het voor die Suez-voorval reeds gesukkel om weens die pandemie normale vrag te hanteer, en nou sal hulle talle vertraagde skepe moet hanteer wat almal op een slag kan aankom. Max Wei, hoofbestuurder van Speedaf Logistics, meen dit kan ’n maand duur om die opeenhopings weg te werk.

Daar is ook ’n sterk toename in die vraag na lugvrag. Etihad Airways van Abu Dhabi het al vier passasiersvliegtuie tydelik in vragvliegtuie omskep.

Meer oor:  Suez-Kanaal  |  Logistiek  |  Vervoer  |  Ever Given
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.