Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
5 skokfeite uit groot studie oor inperking

Omvattende navorsing oor die invloed van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking is Woensdag uitgereik. Meer as 30 navorsers van Suid-Afrikaanse en selfs buitelandse universiteite soos Harvard en Oxford het inligting uit ’n peiling onder meer as 7 000 Suid-Afrikaners verwerk. Onder die ontstellende syfers uit die peiling is die volgende. Die LEES OOK-artikels gee meer inligting oor die bevindings.

   

1. 3 miljoen Suid-Afrikaners het hul werk verloor

Tussen Februarie en April het 3 miljoen Suid-Afrikaners hul werk verloor weens die inperking. 

Net 17% van die respondente was vol vertroue dat hulle ná die inperking na ’n werk sal kan terugkeer.

LEES OOK: 3 miljoen mense het in April hul werk verloor

Byna 2 miljoen (tweederdes) van die mense wat hul werk verloor het, was vroue. Die verantwoordelikheid om na hul kinders om te sien terwyl skole en kleuterskole toe was, het ook swaarder op vroue gerus - ongeag of hulle hul werk behou het.

LEES OOK: Inperking tref vroue veel swaarder

  

2. Enorme onkunde heers oor Covid-19 se simptome, voorkoming

JOHANNEBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 07: A general vi
Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking het die land se bestaande ekonomiese krisis dramaties vererger. Foto: Getty Images

Net 6% van Suid-Afrikaners kon die drie belangrikste simptome van Covid-19 – hoes, koors en moegheid – opnoem.

Daarby het net 35% al drie die belangrikste dinge gedoen om die verspreiding van die siekte te voorkom. Dit is om groot groepe mense te vermy, ’n masker te dra en sosiale distansiëring toe te pas.

Die navorsers wys daarop dat 70% van mense nou gereeld hul hande was of ontsmet, maar sê dis nou al bewys dat kontakbesmetting nie die grootste risiko is vir die oordrag van die virus wat Covid-19 veroorsaak nie.

LEES OOK: Net 6% ken Covid-19 se 3 belangrikste simptome

    

3. Hongersnood het skerp toegeneem

Nagenoeg 2,2 miljoen Suid-Afrikaners het in April honger gely.

47% van Suid-Afrikaners se geld vir kos het in April opgeraak – byna dubbeld die persentasie wat in vorige peilings gemeet is.

15% van kinders het in April honger gely.

LEES OOK: Só ly SA honger weens inperking

   

4. 5,4 miljoen mense het tydens inperking verhuis

Byna 2,7 miljoen mense – die meeste van hulle studente – het kort voor die inperking teruggekeer na hul ouerhuis. Nog 1,7 miljoen mense het tydens die vergunning daarvoor in Mei verhuis, en net meer as 1 miljoen het albei kere verhuis.

Die meeste van die 1 miljoen wat twee keer verhuis het, was mense wat teruggekeer het werk toe toe die vlak van inperking verlig is en meer nywerhede oopgemaak het.

LEES OOK: 5,4 miljoen mense verhuis tydens inperking

    

5. Basiese gesondheidsorg het agterweë gebly

Baie mense (39%) met chroniese toestande soos diabetes, hartsiektes en tuberkulose het nie in April of Mei hul medisyne gaan haal nie uit vrees dat hulle Covid-19 sal opdoen.

Onder die kommerwekkendste syfers is dat 11% van MIV-positiewe vroue nie hul antiretrovirale middels gaan haal het nie. Dié middels is die beste beskerming wat daar is teen MIV-oordrag tussen ’n ma en haar baba.

LEES OOK: Vrees vir Covid-19 laat roetinesorg ly

    

Oor die studie

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram), oftewel Nids-Cram, is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite gedoen.

Meer as 7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelaes en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19 uitgevra. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases van die navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase se peiling is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Dit het mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het.

Nids is ’n afsonderlike studie wat vantevore deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Nids-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.