Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
-51%: Dís wat Covid-19 ekonomie kos

Suid-Afrika se ekonomie het in die tweede kwartaal - die strengste tyd van die inperking vir die Covid-19-krisis - met 51% verklein op ’n geannualiseerde grondslag.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het pas bekend gemaak kwartaalgroei van die bruto binnelandse produk (BBP) op ’n geannualiseerde grondslag was -51%. Ongeanualiseerd (dus bloot van kwartaal tot kwartaal) was die groei -16,4% en vir die jaar tot einde Junie het die ekonomie met 17,1% ingekrimp.

Die inperking het die ekonomie R201 miljard gekos - dis die randwaarde waarmee nominale produksie geval het. Die nominale BBP is nou R1 080 miljard.Die skerpste dalings in randwaarde was die R41 miljard waarmee handel verminder het, tot R127 miljard; asook die R32 miljard waarmee vervaardigingsproduksie gedaal het, tot R111 miljard.

Suid-Afrika was reeds vóór die koms van die Covid-19-krisis in ’n resessie. Die tweede kwartaal is die vierde opeenvolgende kwartaal van negatiewe groei. Die vorige drie kwartale was groei onderskeidelik -0,8%, -1,4% en -1,8%. (Die syfer vir die eerste kwartaal is hersien vanaf -2%.)

Al drie oorhoofse sektore van die ekonomie het ingekrimp.

  • Die primêre sektor (landbou, bosbou, mynbou en visserye) het met 59,1% ingekrimp.
  • Die sekondêre sektor (vervaardiging, konstruksie en nutsdienste) het met 72% ingekrimp.
  • Die tersiêre sektor (handel, finansiële en sakedienste, die staatsdiens en persoonlike dienste) het met 40% ingekrimp.

Uit die tien bedrywe wat SSA meet, het slegs landbou positief gegroei, met ’n stewige 15,1%. Dis omdat die meeste landboubedrywighede regdeur die staat van inperking kon voortgaan.

Die grootste negatiewe groei, van 76,6%, was vir konstruksie.

Die tien bedrywe het as volg gevaar:

  • Landbou: 15,1%. Produksie van veldgewasse soos grane, groente en vrugte, en vir vleis het alles gestyg.
  • Staatsdiens: -0,6%. Die daling word grootliks daaraan toegeskryf dat baie mense weens Covid-19 van die werk moes wegbly.
  • Finansiële en sakedienste: -28,9%. Hoewel finansiële dienste ’n noodsaaklike diens was, is minder versekering en aftreepolisse verkoop. Ander sakedienste het ook afgeneem.
  • Persoonlike dienste: -32,5%. Gimnasiums, haarkappers en skoonheidsalonne en sport- en ontspanningsbedrywighede was so te sê die hele kwartaal lank gesluit, met net salonne wat in die laaste week van Junie kon heropen.
  • Nutsdienste: -36,4%. Minder krag en water is verbruik tydens die inperking. Die kwartaal was voordat beurtkrag in Julie in werking gestel is.
  • Vervoer en kommunikasie: -67,9%. Alle soorte vervoer – per pad en lug – en vervoersteundienste was minder.
  • Handel: -67,6%. Dit weerspieël die sluiting van baie winkels vir groot dele van die inperking.
  • Mynbou: -73,1%. Produksie van platinumgroepmetale, goud, ystererts, chroomerts en steenkool het veral skerp gedaal.
  • Vervaardiging: -74,9%. Laer produksie van basiese staal- en metaalprodukte en petroleum en chemikalieë het die syfers afgerem, maar produksie van kos en drinkgoed was ook laer in dié kwartaal weens die invloed van personeeltekorte.
  • Konstruksie: -76,6%. Bouwerk aan residensiële én nie-residensiële geboue was minder, sowel as aan konstruksiewerke soos paaie.

  

Besteding op BBP

As besteding op die BBP as maatstaf van groei gebruik word, eerder as produksie, lyk die syfers ewe droewig.

Besteding het op ’n kwartaalgrondslag met 52,3% geval en op ’n jaargrondslag met 17,6%.

Die onderafdelings van besteding lyk as volg:

  • Regeringsbesteding: -0,9%. Die regering het minder aan goedere en dienste bestee en het ook minder mense aan diens gehad.
  • Huishoudelike besteding: -49,8%. Dis die eerste keer in vyf kwartale dat huishoudelike besteding daal. Dit word toegeskryf aan die feit dat baie winkels toe was en mense nie na restaurante of met vakansie kon gaan vir die meeste van die tweede kwartaal nie. Daar was wel ’n toename besteding aan kommunikasie soos data, opvoeding en huishoudelike krag- en waterverbruik.
  • Invoer: -54,2%. Veral die invoer van motors, masjinerie en elektriese toerusting het geval.
  • Vastekapitaalvorming: -59,9%. Vastekapitaalvorming het byna deur die bank afgeneem. Minder is aan masjinerie bestee, asook aan vervoertoerusting.
  • Uitvoer: -72,9%. Veral die uitvoer van motors en onderdele het geval, asook van edelmetale en edelstene.

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
’n Werklose jong man sit moedeloos op die strate van Kaapstad. Foto: William Horne
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Vlak 2  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Bbp2002  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.