Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
5,4 miljoen mense verhuis tydens inperking

Meer as 5,4 miljoen volwasse Suid-Afrikaners, oftewel 15,5%, het in die eerste maande van Suid-Afrika se noodtoestand verhuis.

Suid-Afrika word gekenmerk deur mense wat dubbele wortels het en in krisistye na familiewonings, dikwels op die platteland, terugkeer. Foto: iStock

Van hulle het nagenoeg die helfte, oftewel tussen 2,7 miljoen mense, in die laaste week van Maart verhuis. Dit was tussen 22 Maart, die dag waarop pres. Cyril Ramaphosa die nasionale staat van inperking aangekondig het, en 27 Maart, toe dit van krag geword het. Net meer as die helfte van al dié beweging (51%) was oor provinsiale grense heen.

’n Kleiner persentasie (5% van alle volwassenes en 31% van almal wat verhuis het) het aan die begin van Mei met die aanvang van vlak 4 getrek toe ’n paar weke gegun is waarin mense toegelaat is om te verhuis.

Die regering het uitdruklik gesê die vergunning in Mei wat verhuising betref, was vir mense wat moes terugkeer na hul werk wat op vlak 4 kon heropen of indien hulle tydens die strafste deel van die inperking by ander familielede gaan woon het.

Minder as 19% van almal wat verhuis het (en minder as 3% van alle volwassenes), net meer as 1 miljoen mense, het egter albei kere verhuis en verteenwoordig dus grootliks die mense wat teruggekeer het werk toe.

k

Die meerderheid mense wat net in Mei verhuis het, was mense wat hul werk permanent verloor het en noodgedwonge by familielede moes intrek, volgens navorsing wat Dorrit Posel en Daniela Casale, albei van die Universiteit van die Witwatersrand, pas uitgereik het. Dit is deel van die Nids-Cram-studie oor die invloed van die Covid-19-krisis op mense se inkomste (sien kassie hieronder).

Waarvandaan het mense getrek?

Die grootste persentasie mense wat net in Maart of net in Mei verhuis het, het in Gauteng gewoon.

Die grootste persentasie mense wat in albei dié maande verhuis het, het in KwaZulu-Natal gewoon, gevolg deur Gauteng en Limpopo. Gauteng en Limpopo is albei provinsies met heelwat mynboubedrywighede, tradisioneel die gebiede wat trekarbeiders lok. Gauteng is ook ekonomiese hartland en neem die meeste Suid-Afrikaners van oor die land heen in diens.

Die studie bepaal nie waarheen mense die meeste verhuis het nie.

Volgens die navorsers was mans dubbeld die getal mense wat twee keer verhuis het, en die meeste van hulle het wel teruggekeer werk toe. Net 6% van dié groep het nie ’n werk gehad om na terug te keer nie, teenoor 25% van dié wat net in Mei verhuis het.

Die syfers beteken net meer as 81% van die mense wat verhuis het, het slegs een keer – óf in Maart óf in Mei – verhuis.

Die meeste mense wat in Maart verhuis het, was studente wat teruggekeer het na hul ouerhuise toe tersiêre instellings vir die inperking gesluit is.

Dubbele herkoms

Die navorsers wys daarop dat baie Suid-Afrikaners, selfs mense wat al hul lewe lank in stede bly, steeds “dubbele herkoms” het – dikwels ’n plek op die platteland waar hul ouers of selfs grootouers woon en waarheen hulle minstens jaarliks terugkeer.

Dis na dié oorsprong waarheen baie mense gekeer het vir die streng inperking, maar ook toe hulle hul werk verloor het.

Wat is die implikasies vir beleid?

Die navorsers wys daarop dat minibustaxi’s die belangrikste vervoermiddel is vir die meeste Suid-Afrikaners, ook wanneer hulle “huis toe” gaan. Dis moeilik om sosiale distansiëring in ’n taxi te handhaaf. “Daar is die werklike risiko dat die koronavirus sal aanhou beweeg soos wat die bevolking beweeg.”

Die navorsers sê vir baie van die plattelandse huise wat kort vooraf nog lede moes inneem – sonder ’n Kersbonus soos gewoonlik tydens vakansies – sou dit ’n dubbele slag gewees het. Aan die een kant was daar nou ’n ekstra mond om te voed en aan die ander kant was dit dikwels juis dié mond wat finansieel tot die huishouding bygedra het – geld wat grootliks opgedroog het toe mense hul werk tydelik of permanent verloor het.

Die omvang van “uitgebreide huishoudings” in Suid-Afrika is groot. In 2017 is geraam dat een uit vyf huishoudings (toe sowat 3,3 miljoen huishoudings) ’n persoon insluit wat nie gereeld daar woon nie – 26% van dié huishoudings het finansiële bydraes van die “afwesige” lid ontvang.

Baie van die mense wat in Mei verhuis het, het na informele nedersettings verhuis. In dié huishoudings het 60% gesê die geld vir kos het in April opgeraak. Die persentasie huishoudings wat as arm beskryf word, het van 38% tot 49% gestyg nadat hulle die bykomende familielede moes inneem sonder dat hul inkomste ook gestyg het – of dalk selfs gedaal het.

Daar is wel ligpunte. Die navorsers wys daarop dat nie almal wat tydens die inperking verhuis het, dit weens finansiële terugslae gedoen het nie. Baie mense wou eerder die inperking in hul ruimer plattelandse familiewoning, met die samesyn van familie, deurbring.

Oor die studie

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram), oftewel Nids-Cram, is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite gedoen.

Meer as 7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelaes en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19 uitgevra. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases van die navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase se peiling is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Dit het mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het.

Nids is ’n afsonderlike studie wat voorheen deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Nids-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.