Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
-7%: Só ‘groei’ SA ekonomie in 2020

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in 2020 met 7% ingekrimp teenoor 2019.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Dinsdag bekend gemaak dís hoe die Covid-19-pandemie met gepaardgaande inperkings die ekonomie geknou het.

Dis die swakste groei in 100 jaar - die ekonomie het in 1920 met -11,9% gegroei.

Die wêreldekonomie het in 2020 kwaai ingekrimp, maar Suid-Afrika is van die lande wat die swaarste deurgeloop het omdat die land die pandemie in ’n resessie ingegaan het. Foto: iStock
Netwerk24 Foto: iStock

Dis ook die eerste jaar sedert die 2009-resessie dat die ekonomie negatief groei, maar toe was dit -1,5%. 

In 2019 het die ekonomie met ’n skamele 0,2% gegroei en in 2018 met 0,8%.

Die -7% is effens beter as die -7,1% wat die Reserwebank in Januarie voorspel het en heelwat beter as die gemiddeld van die 35 ekonome wat aan Netwerk24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, wat in Desember nog -8,2% voorspel het.

Jaargroei

In 2020 het net twee bedrywe positief gegroei teenoor 2019. Dit was landbou (13,1%) en die staatsdiens (0,7%).

Die grootste negatiewe groei was vir konstruksie (-20,3%).

Finansiële dienste, die grootste sektor in die ekonomie, het met 4,4% ingekrimp en handel, die sektor wat klein-, groot- en motorhandel en restaurante en die verblyfsektor insluit, het met 9,1% ingekrimp. 

Kwartaalgroei

Tussen die derde en vierde kwartaal het die ekonomie met 6,3% gegroei, gemeet op ’n geannualiseerde, seisoensaangepaste kwartaalgrondslag.Op ’n kwartaalgrondslag het die produksie van net twee uit die tien sektore wat SSA meet, negatief gegroei. Dit was mynbou (-1,4%) en die finansiële sektor (-0,2%).Die uitskieter was vervaardiging, met groei van 21,1%. Dis gevolg deur konstruksie (11,2%), handel (9,8%), vervoer en kommunikasie (6,7%), landbou (5,9%), persoonlike dienste (4,8%), die nutsbedryf (2,2%) en die staatsdiens (0,7%).

Waarde van ekonomie

In huidige randwaarde was die produksiekant van die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 R4 970 miljard werd. Dis R104 miljard minder as in 2019.

Net in die vierde kwartaal was dit R1 350 miljard, teenoor R86 miljard in die derde kwartaal.

Besteding op die BBP

Volgens die alternatiewe manier om die ekonomie te meet, op grond van die besteding op die BBP, het die ekonomie in 2020 met -7,1% gegroei en net in die vierde kwartaal met 6,5%.

Die vyf aspekte wat aan die bestedingskant gemeet word, sien op ’n kwartaalgrondslag as volg daar uit:

  • Huishoudings se verbruiksbesteding: 7,5%
  • Vastekapitaalvorming: 12,1%
  • Staat se verbruiksbesteding: 1,1%
  • Invoer: 52,4%
  • Uitvoer: 26,6%

Veral die styging in vastekapitaalvorming, dus besteding aan fabrieke, masjinerie en ander produksiebates, is goeie nuus vir langtermyn- ekonomiese groei. Die grootste groei was egter in besteding aan voertuie (97,1%), terwyl besteding aan nie-residensiële geboue met 12,8% gestyg het en aan masjinerie met 3,5%.

Die styging in huishoudings se besteding weerspieël die heropening van die ekonomie in die vierde kwartaal voordat die tweede vlaag Covid-19-infeksies weer tot strenger inperkings gelei het. Besteding vaan restaurante en hotelle het met 217,9% opgeskiet teenoor die derde kwartaal, aan klere met 20,9%, aan ontspanning ook met 20,9% en aan meubels met 10,3%.

Meer oor:  Handel  |  Ekonomie  |  Mynbou  |  Ekonomiese Groei  |  Verbruikersbesteding  |  Landbou  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.