Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
7 uit 10 toplande se toeriste kom minder na SA
Veral Australiërs (-11%), Chinese (-10%) en Duitsers (-6,67%) het weggebly uit Suid-Afrika in die tydperk van Augustus 2018 tot Augustus 2019.

Die vernietigende uitwerking van die regering se visumregulasies het die afgelope week duidelik geword uit die nuutste toeristesyfers wat skerp gedaal het.

Uit die toptien-lande waaruit inwoners Suid-Afrika besoek, het sewe gedaal, wys Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers.

Veral Australiërs (-11%), Chinese (-10%) en Duitsers (-6,67%) het weggebly in die tydperk van Augustus 2018 tot Augustus 2019.

Dié lande se besoekers maak meer as 73% uit van diegene wat Suid-Afrika jaarliks besoek.

Hoewel die visumregulasies uiteindelik verslap word, waarsku Christelle Grohmann, direkteur van BDO se toerisme-eenheid, die prentjie gaan nie binne die volgende ses maande herstel nie.

SSA se statistieke wys dat net die besoekersgetalle uit Italië, Indië en die VSA die afgelope jaar effens gestyg het.

Toeriste uit Brittanje, Frankryk, Nederland, Spanje en ander Afrikalande het afgeneem.

Wanneer syfers van Januarie tot Augustus vergelyk word met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, het toeristegetalle met 1,5% afgeneem.

Besoekers uit Europa was in dié tydperk 3,4% minder, met toeriste uit Duitsland (-7,4%) en Frankryk (-8,7%) wat die skerpste gedaal het.

Grohmann sê internasionale toerisme neem toe en Suid-Afrika kan daarom nie ’n gedempte wêreldekonomie blameer nie.

Toerisme is een van die belangrikste ekonomiese sektore in Suid-Afrika en daar word geraam dat dit meer as 9% van totale indiensneming in die land verteenwoordig.

Toerisme is een van die belangrikste ekonomiese sektore in Suid-Afrika en daar word geraam dat dit meer as 9% van totale indiensneming in die land verteenwoordig.

Die daling in toerismesyfers word onder meer op die brood gesmeer van die regulasies wat in 2015 ingestel is deur Malusi Gigaba, die destydse minister van binnelandse sake, waar onder meer vereis is dat kinders nie na Suid-Afrika kon reis sonder onverkorte geboortesertifikate nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het na wat berig word reeds geëis dat die geboortesertifikaat-regulasie herroep word, maar die skade wat dié beleid aangerig het, sal nog vir ’n tydperk sigbaar wees.

Grohmann sê dis ’n perfekte storm vir toerisme.

“Elke regeringsbesluit, elke xenofobiese aanval, het ’n uitwerking op die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die land. Ons vergeet soms hoeveel mense van Afrika in Amerika, Europa en ander groot toerismemarkte oor die wêreld heen woon,” sê sy, “en hoewel die onlangse voorvalle van xenofobie nie op hulle gemik is nie, is dit onrusbarend vir die mense.”

Sy waarsku dat Suid-Afrikaanse toerisme waarskynlik ’n uitkringeffek sal ervaar ná die vlaag van xenofobiese aanvalle in September vanjaar op veral winkels wat deur buitelanders besit word deurdat minder toeriste die land oor die vakansietydperk sal besoek.

Ramaphosa het in sy staatsrede vroeër vanjaar aangekondig dat die regering teen 2030 altesaam 21 miljoen toeriste na Suid-Afrika wil lok.

“Dit is dubbel die getal toeriste wat in die begin van die jaar in die land was,” sê Grohmann, “maar die jongste daling wys ons is baie ver daarvan om hierdie teiken te haal.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Toerisme  |  Visums  |  Visumregulasies  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.