Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Markbulletin: Rand bly onder kwaai druk
Brandstofpryse styg weer in Maart

​Ondanks die doemprofete wat die R12/$-kerf fyn dophou, het die rand Donderdag teen 12:20 ietwat versterk tot R11,76. ’n Pond sou jou R17,86 kos nadat dit Woensdag oor die R18 gedraai het en ’n euro R13,34.

’n Petroljoggie sit langs ’n pomp by ’n Engen-vulstasie in Greenside, Johannesburg, in dié argieffoto. Foto: Herman Verwey
Petrolprys styg in Maart

Die petrolprysstyging in Maart gaan ’n stewige duik maak in die verligting wat motoriste in Februarie gekry het.

Teen Donderdagoggend was die onderverhaling – dus met hoeveel die prys sal moet styg – op 95-oktaan-petrol reeds 55c en op diesel in die omgewing van 30c. Daar is nog twee weke oor voordat die petrolprys vir Maart aangekondig word en dié onderverhaling kan dus nog baie krimp of groei, na gelang van die twee faktore wat die brandstofprys bepaal: die rand-dollar-wisselkoers en die prys van ’n mandjie internasionale brandstofpryse.

Die swak rand lewer volgens die Sentrale Energiefonds se syfers nog nie ’n negatiewe bydrae tot dié syfer nie.

In Januarie het Brent-ruolie tussen $47 en $50 per vat verhandel. In die eerste twee weke van die nuwe oorsigmaand (van 30 Januarie tot 11 Februarie) het Brent tussen $55 en $58 per vat gekos. Dié prys is nog lank nie die 2014-hoogtepunt van $114 per vat in Junie nie, maar enige versterking in die prys het ’n enorme impak.

Enige styging in die brandstofprys sal ook ’n uitwerking hê op die inflasiekoers, die belangrikste syfer wat die Reserwebank in ag neem wanneer hy elke twee maande oor die rentekoers besluit. Die sentrale bank kondig op weer op 26 Maart sy besluit aan.

Die moontlikheid bestaan dat die rand Donderdag tot R12 per dollar gaan verswak.

Die rand het Donderdagoggend op die brose vlak van R11,83 teenoor die dollar en R17,99 teenoor die pond begin nadat die geldeenheid Woensdagnamiddag tot R11,89 verswak het.

Volgens Nedbank Capital gaan die geldeenheid heeldag onder druk bly en sal dit na verwagting tussen R11,75 en R12 per dollar verhandel.

Internasionale faktore soos ’n oorgewaardeerde dollar en die drama oor Griekeland se hulppakket speel die grootste rol, maar die mark is ook maar senuagtig in die aanloop tot pres. Jacob Zuma se staatsrede om 19:00.

Die rand is grootliks die slagoffer van negatiewe sentiment teenoor ontluikende geldeenhede. Volgens Bloomberg het ’n mandjie van 20 ontluikende geldeenhede vanjaar al met 3,3% gedaal tot die laagste vlak sedert die nuusdiens die data in 1999 begin meet het.

Internasionale beleggers onttrek hulle aan ontluikende lande gegewe die skerp daling in hulpbronpryse, wat ekonomiese groei wurg, en is ook nie ingenome met die rentekoersverlagings in onder meer Turkye en Rusland nie. Die laer rentekoerse beteken die opbrengs op vaste-inkomstebates daal.

Die twee Brics-lande China en Brasilië het ook die afgelope tyd hul glans verloor weens traer ekonomiese groei.

In die vierde kwartaal van 2014 het ’n netto $91 miljard uit China gevloei, die meeste sedert minstens 1998.

In die lig van die swak Chinese invoer- en vervaardigingsyfers het Goldman Sachs kliënte aanbeveel om die geld van China se grootste handelsvennote, soos Suid-Afrika en Suid-Korea, te onttrek.

Woensdag het die Turkse lire, Brasiliaanse reaal en Mexikaanse peso almal tot hul swakste vlakke nóg of baie naby daaraan teenoor die dollar teruggesak.

Die rand het geval tot die swakste vlak sedert 2002.

En Daniel Tenengauzer, ’n ontleder by RBC Capital Markets in New York, sê dis nog lank nie die einde nie. “Daar is baie ruimte vir die verdere verswakking van ontluikende lande se geldeenhede. Van die groot ontluikende markte se ekonomieë is nie in ’n goeie toestand nie.”

Sedert April 2011 het Bloomberg se indeks van ontluikende geldeenhede met 28% geval.

’n Deel van die daling word toegeskryf aan bespiegeling dat die VSA se Federale Reserweraad só ingenome is met die verbetering in die Amerikaanse ekonomie dat hy rentekoerse binnekort sal verhoog. Só ’n stap sal geld uit ontluikende lande laat vloei.

Nie almal is ewe pessimisties nie. Morgan Stanley het verlede week gesê ontluikende lande se geldeenhede is ondergewig, en dat hulle reken ’n ommekeer in dié geldeenhede is om die draai.

Dié wat hoop dat die swak rand ekonomiese groei deur uitvoer sal aanwakker, moet dalk weer dink. 

Bhanu Baweja, ’n ontleder van UBS in Londen, sê: “Die vermoë van valuta-swakheid om die ekonomie gesond te maak, het gekrimp. Dit help, maar daar is strukturele vraagstukke wat nie opgelos gaan word deur ’n bietjie geldeenheid-swakheid nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.