Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
China, Griekeland: Onseker tye lê voor vir markte
JSE ly weens Chinese krisis
In Europa was daar tekens dat die negatiewe sentiment oor die “nee”-stem getemper is deur die bedanking van Yanis Varoufakis as minister van finansies. Christopher Furlong, Getty Images

As Griekeland wel die eurogebied verlaat, sal die rand verder val en só inflasie opdruk.

Selfs as Griekeland onderhandelinge met sy krediteure hervat, lê ’n tydperk van groot wisselvalligheid voor, sê Annabel Bishop, ’n ekonoom by Investec.

Suid-Afrikaners moet egter verder oos as Griekeland kyk vir ’n ewe groot bron van onsekerheid op die JSE.

Die meeste aandelebeurse het Maandag gedaal, maar daar was nie verspreide paniek omdat Grieke “nee” gestem het in Sondag se referendum nie.

Lees ook:

​Beroepswedders wed toe verkeerd op Griekse referendum

​Omstrede Griekse minister bedank

​Grieke stem oorweldigend 'nee' vir besuiniging

Die JSE is afgerem deur die 4,7%-daling in Naspers se aandeelprys, wat toegeskryf kan word aan drastiese maatreëls wat die Volksbank van China, die land se sentrale bank, die naweek aangekondig het om die skerp daling in die Sjanghaise aandelebeurs die afgelope drie weke te stuit. Naspers, wat 34% van die internetmaatskappy Tencent besit, volg dikwels dié maatskappy se aandeelprys na.

Groot Chinese makelaarsfirmas is gevra om 15% van hul netto kapitaal – altesame nagenoeg 120 miljard yuan – in ’n “markstabiliseringfonds” te stort vir die aankoop van aandele om pryse te ondersteun. Hulle gaan ook nie enige aandele wat hulle self besit, verkoop totdat die Sjanghai- saamgestelde indeks weer hoër as 4 500 punte is nie.

Nie die begin van nog ’n finansiële krisis nie

Alle nuwe noterings is tydelik opgeskort.

Die Sjanghai- saamgestelde indeks het Maandag effens gestyg, wat die verlies op die aandelebeurs sedert 12 Junie op 27% te staan bring.

Die indeks het in die 12 maande tot 12 Junie met meer as 150% gestyg.

“Griekeland is nie ’n dryfveer van die aandelemarkte soos dit in 2012 was nie,” sê Tristan Abet, ’n makelaar van Parys. “Vandag, in 2015, is daar nie meer sistemiese risiko nie,” sê Abet. Hy reken markte is nou meer “veerkragtig”.

“Dis nog vroeg en groter bewegings kan dalk in die nabye toekoms opduik, maar ek verwag nie die begin van nog ’n finansiële krisis nie,” beaam Jan von Gerich van Nordea Bank in Helsinki, Finland.

“Die Chinese risiko lyk asof dit ’n groter probleem gaan word as Griekeland,” reken Will Yun, ’n kommoditeite-ontleder in Seoel, Suid-Korea.

“Dis situasie is ietwat kommerwekkend, aangesien daar nou ’n aandeleborrel bo-op dalende vraag sit.”

Ek sal die krediteure se walging met trots dra.
Yanis Varoufakis

Griekse “nee”-stem het ’n sielkundige uitwerking

Die euro het Maandag teen 14 van sy 16 groot eweknieë gedaal.

Die pryse van koper (in ’n stadium -4,2%) en nikkel (-4%) het die grootste dalings in ses maande beleef. Commerzbank van Duitsland sê hoewel Griekeland irrelevant is vir die metalemark, het die Griekse “nee”-stem ’n sielkundige uitwerking en beleggers is besonder skrikkerig vir risiko.

In Europa was daar tekens dat die negatiewe sentiment oor die “nee”-stem getemper is deur die bedanking van Yanis Varoufakis as minister van finansies.

Die Stoxx 600-indeks in Londen het byvoorbeeld teen middagete net 0,8% verloor nadat dit die oggend met tot 1,6% gedaal het.

Noodberaad Dinsdag gehou

Varoufakis was ’n opruiende lid van premier Alexis Tsipras se kabinet wat gereeld onderhandelinge met die Internasionale Monetêre Fonds, Europese Kommissie en Europese Sentrale Bank (ESB) – Griekeland se troika van krediteure – gesaboteer het.

Hy het Griekeland se krediteure al “aasvoëls” genoem. Selfs met sy bedanking Maandagoggend het Varoufakis die kans benut om kwaad te stook met die opmerking dat hy verneem onderhandelinge het ’n beter kans om te slaag as hy nie daar is nie: “Ek sal die krediteure se walging met trots dra.”

Meer as 61% van Grieke wat aan Sondag se referendum deelgeneem het, het gestem teen die voorwaardes vir ’n nuwe hulppakket aan Griekeland, selfs al is dié land op die rand van ineenstorting.

Suid-Europese aandelemarkte is die swaarste getref.

’n Noodberaad van Europese leiers, onder meer dr. Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, en pres. François Hollande van Frankryk, word Dinsdag in Parys gehou. Europese ministers van finansies kom vanaf 13:00 in Brussel, België, byeen.

- Bykomende inligting van Bloomberg, Reuters

Grieke, China trek Naspers af

Gebeure in die Ooste én die Weste het Maandag Naspers se aandeelprys met amper 5% laat daal tot R1 820,99.

Naspers dra die swaarste gewig in die JSE se indeks van alle aandele.

Avien Pillay, hoof van navorsing en beleggingsdienste van Old Mutual Wealth, sê die daling in Naspers se aandeelprys hou grootliks met die val in Tencent se aandeelprys Maandag verband.

“Ná die Grieke se nee-stem Sondag het die Asiatiese markte onder druk gekom, veral Hongkong, wat 3% laer is.

“Tencent was deur die dag tot 7% laer en het uiteindelik 5,5% laer gesluit.”

Tencent, wat in Hongkong genoteer is, het die afgelope twee weke skerp gedaal in die pas met ander Chinese aandele.

Pillay sê omdat Tencent so ’n groot deel van Naspers se waardasie verteenwoordig, is daar ’n baie sterk verband tussen die twee maatskappye se aandeelprysbewegings.

Tencent se aandeelprys het Maandag saam met dié van ander tegnologie-maatskappye gedaal terwyl die Sjanghai- saamgestelde indeks met 2,4% gestyg het.

 Sake is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. 

Sjanghaise indeks verloor baie

Die onsekerheid oor die volgende hoofstuk in die Griekse skuldsage is die vernaamste rede waarom markte Maandag geval het, sê Herman Lloyd, portefeuljebestuurder by PSG.

“Markte soek sekerheid en sal heel waarskynlik positief reageer as daar duidelikheid kom. ’n Baie groter bekommernis vir my, is wat tans in China gebeur.”

Die Sjanghaise aandelemark het in die afgelope drie weke 30%, oftewel $2,7 triljoen, van sy markwaarde verloor – dit is ongeveer tien keer die grootte van die Griekse bruto binnelandse produk (BBP), sê Lloyd.

Terwyl die Griekse skuldsage tans die nuus oorheers, is die wisselvalligheid in die Oosterse markte nie minder belangrik nie, meen Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur. Die Hangseng-indeks in Hongkong het byvoorbeeld in die afgelope maand met 7,6% gedaal.

Weens die wisselvalligheid in Europa en Oos-Asië het beleggers Maandag ’n toevlugsoord in die dollar gesoek. “Die sterker dollar het in ’n groot mate dalings in die oliepryse veroorsaak,” sê Du Plessis.

Die prys van Brent-ruolie het Maandag met byna 3% tot $58,60 per vat gedaal. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.