Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cobus Kellermann: ‘Dit is nié ’n Ponzi-skema’
Kellermann-hulle wys vinger na ‘ongegronde gerugte’
‘Daar is geen Ponzi-skema nie,” het Cobus Kellermann van ­Welgemoed in die Kaap, en sy sakevennoot David Cosgrove, van Mauritius, Woensdag in ’n onderhoud aan Sake gesê. Kellermann en Cosgrove slaan vure dood nadat daar in die internasionale media aantygings gemaak is dat hulle by ’n Ponzi-skema betrek word. Albei sê nee, hul werk is eerlik en hul inkomste is die gevolg van gewone harde werk.
David Cosgrove slaan vure dood nadat daar in die internasionale media aantygings gemaak is dat hy by ’n Ponzi-skema betrek word.

Hoekom lyk dit asof julle in die moeilikheid is?

Kellermann: Ek weet nie. Ek het nog nooit vantevore dié soort aantygings teen my gehad nie. Ek is ’n swart-of-wit- mens.

Daar is geen beleggers wat klagtes het dat hul geld weg is nie. Slegs ongegronde berigte op die webwerf Offshorealert.com wat ’n hele storm ontketen het.

Het jy ’n verbintenis met wyle Herman Pretorius?

Kellermann: Ek en my gesin woon in dieselfde woonbuurt (Welgemoed) as wat Pretorius gewoon het. Dit is toeval.

Ek het Pretorius een keer op ’n sosiale geleentheid ontmoet. Dit is al.

Die verbintenis met Julian Williams (wat deur Pretorius doodgeskiet is voor hy homself geskiet het) is omdat ons in dieselfde soort bedryf was.

Ek was as raadgewer betrokke by ’n maatskappy wat genoteerde BK One-aandele gekoop het.

Die beleggingspan het dit verkoop na aanleiding van ’n versoek van die besturende maatskappy om kontant in die portefeulje te verhoog.

Basileus, waar Williams die uitvoerende hoof was, was ’n mede-finansier van projekte tesame met BK One.

Daar word aangevoer julle beantwoord nie medianavrae nie?

Kellermann: Ek het nie die naweek my e-posse nagegaan nie. Ek kyk nie na my e-posse oor naweke nie. Teen Maandagoggend was ek in die middel van orkaan Katrina. Cosgrove: Soos ek gesê het. Hierdie is eintlik ’n baie vervelige vergadering. Ek het niks om weg te steek nie.

Volgens berigte is ek klaarblyklik in ’n vliegtuig op pad na Australië en hier sit ek.

Waar kom jul geld vandaan?

Kellermann: Ek het hard gewerk vir my geld. Ek het nie gesteel of myself verryk nie.

Hanteer julle self beleggers se geld?

Kellermann: Die Clarus-bate­bestuursmaatskappy (waar Kellermann tot onlangs eienaar en direkteur was voor ’n oorname) is ’n batebestuurder.

Ons hanteer nie en het nie toegang tot beleggers se geld nie. Die kliënt betaal geld in ’n bankrekening, waarna dit in die toegewysde bankrekening van ’n gereguleerder produk betaal word.

Die enigste geld wat ons kan kry as administratiewe bestuurder, is vasgestelde tariewe.

Binne die gereguleerde stelsels waarin ons werk, is dit nie moontlik om self ons hande op geld te lê nie.

So julle bedryf nié ’n Ponzi-skema nie?

Kellermann: Onthou net die bank hanteer die kontant. Ek wil dit verduidelik, want dit weerlê die aantygings van ’n Ponzi-skema. Die aantygings van ’n Ponzi-skema is baie skadelik.

Cosgrove: Ons bedryf nie ’n Ponzi-skema nie. Ja, die onderneming is kompleks, maar al ons kliënte is tevrede.

Wat gaan dan aan?

Dit is wat ons probeer uitvind. Ons vermoed dit is ’n mededinger wat probeer om ons reputasie skade te berokken.

Hoe werk jul onderneming?

Ons kliënte is batebestuurders van oor die wêreld heen wat fondse bestuur. Ons lewer die administratiewe stelsels en word ’n vasgestelde administratiewe tarief betaal. Ons verkoop nie produkte aan beleggers nie en weet nie wie se geld dit is nie.

Aan Kellermann: Het jy ’n rooi Ferrari?

Ek is lief vir klassieke motors. Ek is ook lief vir kuns. Dit is nie omdat ek hou van die vinnige lewe nie. Ek self het nie ’n klassieke motor nie.

En trusts wat jy het, besit dit enige klassieke motors?

Dit kan wees. Ek verstaan nie die relevansie nie. Ek is die kaalvoet ou wat plakkies dra.

 Die Werksmans-regsfirma verteenwoordig Kellermann en Cosgrove. Die gesprek met albei is in Werksmans se kantoor in Stellenbosch gevoer.

Die ander kant van die munt:

■ Fin24 gesels met David Marchand, die ondersoekende joernalis wat die probleme by Belvedere oopgevlek het. Lees ​Meet Belvedere Ponzi buster David Marchand - Kellermann's nemesis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.