Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Douw Steyn se paleis is die duurste huis in SA
Palazzo Steyn. Dis nie seker wat die oorspring van dié foto, wat op verskeie webwerwe gebruik word, is nie.

Johannesburg. – Die versekeringsmagnaat Douw Steyn se huis – gepas genoem Palazzo Steyn – is die duurste in die land.

Dit het R250 miljoen gekos om te bou, min of meer soveel soos pres. Jacob Zuma se omstrede Nkandla.

Die woning, wat verlede jaar voltooi is, beslaan meer as 3 000 m² – die grootte van ’n geriefswinkelsentrum – en het drie nywerheidskombuise, ’n wynkelder en sewe slaapkamersuites. Die tuine strek oor drie hektaar en die motorhuis het plek vir 33 motors.

Dit is die eerste residensiële eiendom wat voltooi is in Steyn se Steyn City-leefstyllandgoed in Fourways, noord van Johannesburg, wat in 2015 amptelik bekend gestel word. Net die infrastruktuur sal sowat R6 miljard kos.

Die miljardêr-stigter van Auto & General het in 1992 na Brittanje verhuis, maar bring steeds tyd in Suid-Afrika deur. Hy sê op Steyn City se webwerf dat hy in ’n luukse residensiële eiendom in Europa of die VSA kon belê het, maar Suid-Afrika verkies het omdat hy vertroue in die land het.

Hy sê mense vra altyd hoekom die ontwikkeling na hom genoem is. “Vra iemand ooit vir Donald Trump hoekom hy sy gebou in New York Trump Tower genoem het?”

Die vorige duurste residensiële eiendom was Noordhoek Manor in die Wes-Kaap wat ’n paar jaar gelede vir £12 miljoen – toe R140 miljoen – van die hand gesit is.

Nog ’n superduur eiendom is die Enigma Mansion in Kampsbaai aan die gesogte Atlantiese Kus, wat al die afgelope drie jaar vir R300 miljoen in die mark is.

Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding, sê superduur-eiendomme is vir die vernuftige koper en die tipe transaksies is dikwels kompleks, wat beteken dat eiendomme lank in die mark kan bly.

Ronald Ennik van Ennik Estates sê die mark vir superluukse eiendoms is nou op die beste vlak sedert die finansiële krisis. “Die groot vraag is egter wat die impak van die dreigende resessie op dié mark sal wees.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.