Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuwe navorsing toon dat daar is sowat 750 000 emigrante
Geen einde aan breinkwyn
...maar dit skep ook geleenthede vir Suid-Afrika
Nuwe navorsing toon dat Suid-Afrikaans-gebore emigrante verlede jaar sowat 750 000 bereik het. Volgens Adcorp was daar in 2013 sowat 830 000 vakante poste vir vaardige mense in Suid-Afrika – dit is aansienlik meer as die getal Suid-Afrik

Nuwe navorsing deur die Suid-Afrikaanse instituut van professionele rekenmeesters (Saipa), toon dat die breinkwyn voortduur, ondanks berigte wat dié neiging weerspreek.

In 2013 het  Suid-Afrikaans-gebore emigrante in 23 lande sowat 750 000 bereik, aldus statistieke en beramings deur die ontleder dr. Thomas Höppli in sy navorsingstuk, Is the brain drain really reversing?  New evidence, March 2014. Die navorsingstuk is in opdrag van Saipa voltooi.

Die tradisionele vyf immigrasie-lande – Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Kanada en Amerika – asook meer onlangs die Verenigde Arabiese Emirate – is gasheer vir byna 90% van alle Suid-Afrikaanse emigrante.

Höppli sê die streng immigrasie-wette in die eerste vyf lande bevoordeel mense wat goed gekwalifiseer is en oor skaars vaardighede beskik.

Dit is hierdie mense wat die soort vaardighede het wat die plaaslike ekonomie kan gebruik.

“Maar sulke selektiewe en ­geteikende immigrasie kan ook vir Suid-Afrika voordelig wees.”

Hy lewer ’n sterk pleidooi dat Suid-Afrika ook die reuse-potensiaal van geskoolde immigrante moet raaksien en gebruik.

“Suid-Afrika behoort die internasionale beweeglikheid van hoogs vaardige mense baie meer in te span deur aktief buitelandse vaardigheid te werf, asook om ons eie vaardige Suid-Afrikaners terug te lok.”

Volgens sy navorsing het die aantal Suid-Afrikaans-gebore mense oorsee tussen die jare 2000 en 2010 gestyg – ondanks die wêreldwye finansiële krisis tussen 2008 en 2010.

Immigrasie kan die land help om sy ekonomiese en ontwikkelings-doelwitte te bereik, en sodoende ook meer werk vir ons laags geskoolde werkers skep.
DR. THOMAS HÖPPLI

Sedert 2010 het die getalle egter begin daal.

“Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika, maar selfs al sou alle geskoolde Suid-Afrikaners terugkeer, sal daar steeds ’n aan­sienlike vaardigheidstekort wees.”

Volgens Adcorp was daar in 2013 sowat 830 000 vakante poste vir vaardige mense in die land – dit is aansienlik meer as die aantal Suid-Afrikaners wat oorsee gaan werk het.

“Daar is ook bewyse dat wanneer hoogs vaardige mense emigreer, is dit diegene met die minste vaardighede wat uiteindelik na hul land van oorsprong terugkeer,” sê Höppli.

Die aanvraag vir geskoolde beroepslui sal styg namate die Suid-Afrikaanse ekonomie groei, en met ’n beperkte plaaslike aanbod maak dit sin om die vereiste vaardighede in die buiteland te gaan werf.

“Immigrasie kan die land help om sy ekonomiese en ontwik­kelingsdoelwitte te bereik, en sodoende ook meer werk vir ons laags geskoolde werkers skep.”

Höppli sê Suid-Afrikaanse emigrante speel ook ’n belangrike rol as ambassadeurs vir hul geboorteland.

Hul bydraes kan wissel van die oordrag van kennis, samewerking tussen organisasies en instellings, die skep en ontwerp van internasionale sakenetwerke tot ’n styging in direkte buitelandse beleggings in Suid-Afrika.

“Die Suid-Afrikaanse regering behoort gebruik te maak van die waarde wat Suid-Afrikaanse uitgewekenes tot die land kan voeg – in belang van ’n groeiende plaaslike ekonomie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.