Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Herstel in boubedryf van korte duur

Mense in die boubedryf is nie tevrede met saketoestande nie en dit lyk of die onlangse herstel in die bedryf vinnig tot ’n einde gekom het.

In die tweede kwartaal van 2014 het die bouvertrouensindeks van First National Bank (FNB) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek met 11 punte tot 41 indeks­punte gedaal.

Dit het in die eerste kwartaal die eerste keer sedert 2007 tot bo 50 punte gestyg.

Die huidige vlak dui daarop dat sowat 60% van respondente nie tevrede is met die heersende saketoestande nie, sê John Loos, verbruiker- en ­eiendomstrateeg van FNB.

Volgens hom wys dit ook dat die herstel in die boubedryf, wat onlangs weer momentum gekry het, van korte duur was.

Die indeks gee die vertroue van al die groot rolspelers in die boubedryf weer: argitekte, bourekenaars, kontrakteurs, subkontrakteurs, vervaardigers van boumateriaal en groot- en kleinhandelaars.

Die daling van 11 punte was grootliks weens ’n skerp daling in die vertroue van vervaardigers van boumateriaal, wat swakker plaaslike vraag ervaar het.

Hoewel uitvoer goed was, was dit nie goed genoeg om vertroue ’n hupstoot te gee nie, want uitvoervolumes was klein vergeleke met die plaaslike mark.

Die staking by die platinummyne het ook deels bygedra tot die verlangsaming in die plaaslike vraag.

Die swakheid van die plaaslike boubedryf is verder weerspieël in die aktiwiteite van hoofkontrakteurs, sê Loos.

“Boubedrywighede vir sowel residensiële kontrakteurs as nie-residensiële kontrakteurs het gedurende die kwartaal afgeneem,” sê hy.

Gevolglik het die vertroue van hoofkontrakteurs verswak van 49 tot 45 punte.

“Hoewel ’n verdere verswakking in residensiële boubedrywighede te verwagte was, was die verlangsaming in die nie-residensiële bedryf, wat tot nou toe die bedryf aan die gang gehou het, verrassend,” sê Loos.

Dit gaan ook swaar weeg op die vooruitsigte van die bedryf, sê hy.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.