Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kredietbedryf soek uitsluitsel
Hofsaak oor loonbeslagorders: Dís die strydvrae
Marius Jonker, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Skuldinvorderingsagente (Adra), woon die hooggeregshofsaak in Kaapstad oor besoldigingsbeslagbevele by wat Maandag begin het. Hy gee sy siening van die belangrikste punte.
Marius Jonker, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Skuldinvorderingsagente (Adra), by die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Liza van Deventer

Adra is ’n verteenwoordiger van ondernemings wat ’n direkte belang in skuldinvordering het. Ons het tot die saak toegetree weens die groot belang van ’n regverdige en gebalanseerde regsproses in die opdwinging van ooreenkomste waarin debiteure kontrakbreuk gepleeg het deur nie-nakoming van hul skuldverpligtinge.

Besoldigingsbeslagbevele

Die proses waardeur besoldigingbeslagbevele (BBB, oftewel loonbeslagorders) verkry word, as laaste uitweg in die opdwinging van kontraktuele verpligtinge, is ’n noodsaaklike meganisme in die ekonomie.

In pas met die Grondwet word krediet in Suid-Afrika aan ’n wye spektrum individue verleen, ook individue wat nie sekuriteit vir skuld kan bied nie. Dit is veral hier waar BBB’s as regsproses gebruik word as die enigste alternatief tot beslaglegging op die debiteure se roerende of onroerende bates.

Landdroshowe

Ingevolge die Wet op Landdroshowe kan ’n debiteur toestem tot ’n BBB as verstekvonnis (dus ’n vonnis wat in die afwesigheid van die debiteur gedoen kan word) in paaiemente wat die debiteur steeds in staat stel om sy maandelikse noodsaaklike verpligting teenoor homself en sy afhanklikes na te kom.

Die proses skep egter fundamentele vraagstukke, byvoorbeeld, in watter mate word individue se reg erken om besluite in hul eie belang te neem?

Maandag het die eerste applikant (die Universiteit van Stellenbosch se Regshulpkliniek) die grondslag vir sy argument gelê. Hoewel daar heelwat negatiewe opmerkings teenoor die 17de respondent (die regsfirma Flemix) gemaak is, was die argument van ’n regstegniese aard.

Hoofvraagstukke

Op ’n meer praktiese vlak is die hoofvraagstukke in die saak:

1. Is daar in die interpretasie van die wetgewing in terme waarvan ’n debiteur toestem tot ’n BBB en ’n BBB toegestaan word, voorsiening gemaak vir geregtelike oorsig (oorweging van die saak deur ’n landdros) oor die proses?

2. Indien relevante statutêre bepalings nie voorsiening maak vir sodanige geregtelike oorsig nie, moet sodanige wetgewing, aldus die applikant, ongrondwetlik verklaar word.

3. Mag ’n debiteur toestem dat ’n BBB toegestaan word in ’n area van jurisdiksie anders as die jurisdiksie van die hof waarin die debiteur se werkgewer (wat die BBB direk van die debiteur se salaris moet aftrek) se besigheid gesetel is?

4. Indien die hof die wetgewing uitlê as synde die debiteur se toestemming tot jurisdiksie te erken, moet sodanige bepalings ook ongrondwetlik verklaar word.

In wese moet daar dus eers bepaal word presies wat is die uitleg van die onderskeie statutêre bepalings. 

Die saak, ongeag welke party suksesvol is, sal ’n geweldige impak op die kredietbedryf en die ekonomie van die land in die algemeen hê.
Marius Jonker

Geen eenstemmigheid

Daar is tans geen eenstemmigheid in ons howe nie. Landdroste (selfs landdroste werksaam in dieselfde area van jurisdiksie) het teenstrydige interpretasies en die bepalings word nie konsekwent in alle howe toegepas nie.

Adra het toegetree tot die aansoek ten einde die hof behulpsaam te wees in die ondersoek en debat om die korrekte interpretasie van die onderskeie bepalings te vind.

Flemix

Die saak spruit voort uit die beweerde onregmatige optrede van die 17de respondent (Flemix and Associates). Die applikante vra vir die tersydestelling van die BBB’s ten opsigte van die tweede tot en met 16de applikante wat deur Flemix and Associates hanteer is.

Die aansoek om tersydestelling is gegrond op:

Die beweerde gebrek aan geregtelike oorsig oor die aansoeke om BBB’s, en/of

Die feit dat die onderskeie debiteure toegestem het tot die jurisdiksie van howe anders as die hof wat andersins jurisdiksie oor hul werkgewer sou hê.

Hoewel Adra simpatie met die applikante het, is sy toetrede ten behoewe daarvan om die korrekte uitleg vir die onderskeie statutêre bepalings te vind ten einde in die toekoms regsekerheid vir die bedryf en debiteure te bewerkstellig.

BBB’s

Volgens die applikante was daar nie voldoende geregtelike oorsig in die toestaan van die BBB’s nie aangesien die BBB’s deur die klerk van die hof en nie ’n landdros nie toegestaan is.

Die applikante verwys na die minister van justisie en korrektiewe dienste se verduidelikende beëdigde verklaring en betooghoofde waarin die minister beweer dat die howe bloot nie die kapasiteit het dat landdroste al die aansoeke om BBB’s hanteer nie en dat indien landdroste verplig word om die aansoeke te hanteer, dit die howe sal lamlê.

Die applikante argumenteer dat die individu se reg tot geregtelike oorsig nooit deur ’n gebrek aan kapasiteit geskend mag word nie.

Hulle argumenteer verder dat die 17de respondent (Flemix) sake na howe wat normaalweg nie jurisdiksie oor die werkgewers van die 2de tot 16de applikante se werkgewers sou hê nie, verskuif deur die gebruik van toestemming tot jurisdiksie as onregmatige metode om te verseker dat hul sake aangehoor word deur ’n hof wat meer goedgunstig teenoor die krediteure sal wees.

Die saak, ongeag welke party suksesvol is, sal ’n geweldige impak op die kredietbedryf en die ekonomie van die land in die algemeen hê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.