Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Investering: SA val van no. 13 tot... van die radar af
Hier voel beleggers die veiligste
  1. ​VSA
  2. China
  3. Brittanje
  4. Kanada
  5. Duitsland
  6. Brasilië
  7. Japan
  8. Frankryk
  9. Mexiko
  10. Australië

Die vertroue van senior bestuurslui van die wêreld se topmaatskappye in Suid-Afrika as ’n beleggingsbestemming is in die afgelope jaar verpletter.

Só wys A.T. Kearney, ’n globale konsultasiemaatskappy, se ​2015 ​FDI Confidence Index.

Suid-Afrika het vanjaar uit die top-25-lande in dié indeks gesak. Slegs die top-25 word gepubliseer.

Amptelike syfers dui reeds op ’n verlangsaming in Suid-Afrika se regstreekse buitelandse investering (FDI), sê Ilke van Zyl, ekonoom by RMB.

Die land se herstel in FDI sedert die 2009-resessie is nou in gedrang (sien grafiek).

Vir welbekende redes, soos arbeidsonrus en kragtekorte, het Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers gehalveer, wat die land minder aanloklik maak.

Die onlangse xenofobiese aanvalle gaan ook nie Suid-Afrika se beeld as ’n beleggingsbestemming help nie, sê Thabi Leoka, ekonoom by Renais­sance Capital.

“Die skerp daling in beleggersvertroue is kommerwekkend vir ’n land wat afhanklik is van buitelandse kapitaalinvloei om te groei,” sê Leoka.

Só het regstreekse buitelandse investering in Suid-Afrika die afgelope 20 jaar verander.

Verlede jaar het Suid-Afrika nog die 13de posisie op die indeks beklee en in 2012 was die land nog 11de.

Die indeks meet bestuurders se gretigheid om regstreekse beleggings in verskillende lande oor die volgende drie jaar maak.

Senior bestuurders in 27 lande van maatskappye met ’n globale inkomste van meer as $500 miljoen is in Januarie 2015 gepeil.

Ontluikende lande vaar swak

Ontluikende lande het vanjaar oor die algemeen swakker gevaar en daar is geen lande van Afrika en die Midde-Ooste in die top-25 nie.

FDI is gewoonlik ’n langtermynbelegging en hierdie lande vaar swak weens die siening dat hulle onstabiel is, sê Van Zyl.

Sy sê lae die olieprys is ook ’n ontmoedigende faktor vir investering in sekere Afrika- en Midde-Oosterse lande, wat groot olie-uitvoerders is.

Maarten Ackerman, ’n beleggingstrateeg by Citadel Batebestuur, sê ontluikende markte het onlangs in onguns verval by beleggers weens vrese oor die impak van die verwagte styging in Amerikaanse rentekoerse.

“Daar is kommer oor hierdie lande se vermoë om dollar-gedenomineerde skuld teen hoër rentekoerse terug te betaal,” sê Ackerman.

Hy sê Suid-Afrika se redding is dat die land ’n uitstekende finansiële mark het en daarom steeds as ’n handelspoort na die res Afrika beskou word.

Amerika en China, die wêreld se twee grootste ekonomieë, beklee vanjaar onderskeidelik die eerste en tweede posisie – onveranderd vir die afgelope drie jaar.

Brasilië (sesde) en Indië (elfde) is naas China die enigste ander Brics-lande wat in die top-25 is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.