Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Johan Fourie: Sal Europa se ‘stout seun’ nóú wakkerskrik?
Griekeland is die seun wat universiteit toe gaan en jaar ná jaar sy vakke sleep omdat hy te veel fuif. Pappa Europa weet, nes menige ouer, regtig nie wat die beste oplossing is nie
Dr. Johan Fourie

Hoe gemaak met ’n seun wat universiteit toe gaan en besluit om eerder te fuif as te swot? 

Sy swak middel-van-die-jaar-vorderingspunte word verduidelik as “dinge het te lekker gegaan, Pa, maar ek sal my sokkies optrek in die tweede semester”. 

Net om weer Desember huis toe te kom met meer vakke wat hy dop as slaag. Die rede vir Desember se mislukking? Die eerste rugbyspan, natuurlik.

Die jaar daarna is dit dieselfde storie: meisies, sêr en koshuisdinge. En die jaar daarna weer: huiskomitee en moeilike dosente wat nie die skyfies beskikbaar maak nie. Die verskonings klink beter, maar die punte word nie beter nie. 

Hoe nou gemaak? Moet die ouer aanhou klasgeld, koshuisgeld en drinkgeld betaal, in die hoop dat Seun sal grootword en die belangrikheid van ’n goeie universiteitsopleiding besef? Dis nie dat hy nie die vermoë het om suksesvol te studeer nie: Kyk net hoe goed was sy matriekpunte.

Miskien is bitter medisyne die enigste oplossing: As Seun nie al sy vakke vanjaar slaag nie, kan hy geen verdere finansiële ondersteuning verwag nie. 

As hy dus verder wil swot, sal hy ’n lening moet kry. 

“Maar Pa,” sal hy sê, “ek gaan nie nóú ’n lening kan kry nie. My studie­prestasie is te swak! Drie jaar gelede sou dit maklik gewees het, maar my enigste opsie as Pa ophou betaal, is om die universiteit te verlaat en ’n werk te gaan soek. Ek sal waarskynlik nooit weer die binnekant van ’n klaskamer sien nie.” 

En Pa weet Seun is waarskynlik reg.

So, hou Pa aan betaal en ondersteun nog ’n belofte van “hard werk hierdie keer”? Of sê hy genoeg is genoeg, nou is jy op jou eie, my kind?

Duitsland en die ander lede van die Europese Unie (EU) moes ’n soortgelyke besluit neem. Griekeland dop al sy spreekwoordelike vakke: Die regering bestee te veel en samel te min belasting in om sy massiewe staatskuld te delg. 

Dis nie ’n nuwe probleem nie. Herhaaldelike beloftes is al gemaak om onnodige besteding te besnoei, maar dit het nie vinnig genoeg gebeur nie. 

Die Griekse ekonomie het met 25% gekrimp, werkloosheid is hoër as 25% (jeugwerkloosheid is veel hoër) en die afgelope twee weke beperk banke die bedrag kontant wat Grieke mag onttrek. Daar is tekens dat hulle hul wil-wil reg­ruk, en natuurlik baie beloftes.

Dit is baie moeilik om te weet watter soort student Griekeland is. Net soos daar baie inge-wikkelde redes is hoekom ’n student nie slaag nie, so is daar ook baie redes wat voorgehou word hoekom Griekeland is waar hy is.

Die ekonomiese debat of Griekeland verdere ondersteuning van Pappa Duitsland moet kry, is fel. Een argument is dat Griekeland duidelik foute gemaak het, maar dat ’n verdere lening die enigste manier is om hom binne die EU te hou, wat die beste uitkoms vir Griekeland en vir die EU sal wees.

Of: Dat Seun besef hy het te rojaal met Pa se geld geleef, maar die enigste manier om te verseker dat hy graad kry – iets wat hy en sy pa tog albei wil hê – is vir Pa om hom nog ’n jaar of twee te ondersteun. Dit sal immers ook baie sleg vir Pa se ego wees as sy seun sy universiteitstudies moet staak.

Ekonome aan die ander kant van die debat sê Griekeland het genoeg kanse gehad, dat ander Europese belastingbetalers genoeg gehad het van sien hoe hul belastinggeld deur die spandabelrige Grieke verkwis word. Of, in ons metafoor: Pa moet ophou om drinkgeld vir Seun te stuur, sodat hy op sy eie bene kan leer staan.

Ná ’n dekade van werk by ’n universiteit weet ek dat daar nie ’n regte antwoord is nie. Sommige studente vat ’n paar jaar langer om te studeer en jaag só Pa se skuld op. Maar danksy Pa se goedhartigheid is hulle tog suksesvol. Hulle raak ouer en wyser en begin hulle meer op hul studies toespits, veral wanneer hulle sien hoe hul vriende wat reeds grade het, geld maak.

Daar is ander, natuurlik, wat heel gemaklik op Pa se goedhartigheid teer. Seun het geen dryfveer om ’n graad te kry nie. Hy weet hy sal ’n knus werkie kry iewers in Pappa se onderneming. Hy gaan lewenslank spandabelrig leef en al Pa se swaarverdiende spaargeld tap.

Die beste wat Pa’s vir hierdie soort student kan doen, is om hulle los te knip en hulle te dwing om op hul eie voete te staan.

Dit is baie moeilik om te weet watter soort student Griekeland is. Net soos daar baie ingewikkelde redes is hoekom ’n student nie slaag nie, so is daar ook baie redes wat voorgehou word hoekom Griekeland is waar hy is.

Maar die ooreenkoms wat in die afgelope week bereik is, gee Griekeland een laaste kans om deel van die EU te bly: Hy gaan besteding verder moet besnoei en belastinginkomste moet verhoog.

Dis soos Pa wat sê dat Seun ’n werk sal moet kry terwyl hy nog swot. Minder tyd vir al die ander ekstrakurrikulêre goed, maar ook minder tyd vir studies.

Griekeland is nie te opgewonde oor die besuinigingsmaatreëls van die ooreenkoms nie. Seun ook nie, want “ ’n mens moet mos darem nog lewe, Pa”.

Of dit die regte medisyne is, sal net die toekoms leer.

■ Dr. Johan Fourie is ’n senior dosent in die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.