Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mei-inflasie bring n bietjie goeie nuus
In Mei het jy 0,3% meer vir jou trollie inkopies betaal as in April - maar 4,6% meer as 'n jaar gelede. Foto: Reuters

Mei se inflasiekoers is dalk ’n goeie rede om vanaand ’n glasie te klink omdat dit skaars gestyg het.

Statistieke Suid-Afrika het Woensdagoggend bekend gemaak die verbruikersprysindeks (VPI), oftewel inflasie, was in dié maand 4,6%. Dit is net effens hoër as die 4,5% in April.

Dit beteken tussen Mei 2014 en Mei 2015 het die gemiddelde “trollie” goedere en dienste wat verbruikers aankoop, 4,6% duurder geword.

Die grootste rede vir die klein styging vergeleke met April is dat die petrolprys in Mei onveranderd gebly het.

Kosprysinflasie is ook meer in bedwang op 4,7% (vir kos en nie-alkoholiese drank), en daar was selfs ’n stewige daling in vrugte- en groentepryse in Mei. Jaar op jaar bly die styging in die prys van vis en melk, kaas en eiers egter ver bo die VPI.

Tussen April en Mei het die gemiddelde “trollie” goedere en dienste met 0,3% gestyg.

Die skraal styging in die inflasiekoers is goeie nuus vir mense met skuld omdat dit die Reserwebank dalk sal oortuig om rentekoerse nie te verhoog nie.

Daar is egter nog twee maande se VPI-aankondigings oor (Junie en Julie) voordat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, op 23 Julie aankondig wat die bank besluit. In Junie het die petrolprys met 47c per liter gestyg en die verwagting is dat ’n styging naby 50c ook in Julie voorlê.

Só styg kospryse

Jou mandjie kos en nie-alkoholiese drank het in Mei 0,6% meer gekos as in April, en was 4,7% duurder as in Mei 2014.

Daar was maand op maand ’n groot daling van 4,6% in die prys van vrugte. Vleis het nie in die maand duurder geword nie, maar is steeds 7,6% duurder as in Mei 2014.

Só het die prys van basiese voedsel jaar op jaar verander (met die maand-op-maand-veranderings in hakies):

  • Brood en graanprodukte: 3,8% (1,9%)
  • Vleis: 5,3% (0%)
  • Vis: 7,6% (2,6%)
  • Melk, kaas en eiers: 7,7% (0,7%)
  • Olies en vette: 0,6% (1,2%)
  • Vrugte:  3,1% (-4,6%)
  • Groente: -1,5% (-1,4%)
Só verskil inflasie van plek tot plek

Wes-​Kapenaars is gewoond daaraan dat hulle meer moet opdok vir die voorreg om tussen Tafelberg en die Karoo te woon, maar Vrystaters sal dalk verbaas wees dat hulle in Mei ook in die “duurste” provinsie gebly het, met inflasie van 5,1%

Limpopo het KwaZulu-Natal vervang as die “goedkoopste” provinsie, waar inflasie van net 3,4% gegeld het.

Só sien die provinsiale syfers daar uit:

  • Wes-Kaap, Vrystaat: 5,1%
  • Noord-Kaap: 4,8%
  • Gauteng: 4,6%
  • Noordwes: 4,5%
  • Oos-Kaap: 4,4%
  • Mpumalanga: 4,2%
  • KwaZulu-Natal: 3,7%
  • Limpopo: 3,4%

Op plattelandse gebiede was die inflasiekoers 3,7%. Dié koers is die afgelope paar maande laer as die oorhoofse VPI.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.