Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mikroleners sleep NKR hof toe
Die diensgeld van lenings is laas in 2006 verhoog en mikroleners is ongelukkig met die Nasionale Kredietreguleerder.

MicroFinance South Africa (MFSA) het ’n dringende hofaansoek teen die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) en die minister van handel en nywerheid gebring.

Dié bedryfsliggaam probeer keer dat die NKR sy lede vervolg vir beweerde oortredings van die regulasie oor hoeveel diensgeld mikroleners ingevolge die Nasionale Kredietwet mag vra.

Die MFSA beskuldig die NKR en minister van minagting van die hof. Meer as nege maande het verstryk sedert ’n regter in ’n ander hofsaak (teen Bitline SA) aangedring het op ’n hersiening van die diensgeld wat kredietverskaffers op kredietooreenkomste mag vra.

Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van die MFSA, sê as die “erkende stem” van mikroleners in die land kan hulle nie net “ledig toekyk terwyl ’n hofbevel wat die hele land raak, verontagsaam word nie”.

Ferreira sê die betrokke regulasie is nege jaar laas hersien en die NKR “is bewus daarvan dat dit ongeldig is”. Nietemin hou die NKR aan om mikroleners op grond daarvan te vervolg.

Die maksimum diensgeld van R50 is in Junie 2006 vasgestel. Die Kredietwet vereis dat dit minstens elke drie jaar hersien word, maar dis nog glad nie gedoen nie.

Ferreira sê die MFSA se pogings om met die NKR in gesprek te tree oor die hersiening het op niks uitgeloop nie.

Meer as 1 200 mikroleners is by die MFSA geregistreer. Die liggaam is in 1996 op die been gebring.

Die aansoek word op 7 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Lees nog:

■ ​Kredietamnestie: 2 miljoen leer nié hul les

■ ​5 mites oor kredietburo's hokgeslaan

■ ​Hofsaak oor loonbeslagorders: Dís die strydvrae

■ ​Emile Aldum van Bridge geskors

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.