Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Pickvest-groepsgeding gaan voort
‘n Belegger het dié foto van 'n verbleikte reklamebord vir PIC Investment (later hernoem na Pickvest) net buite Maclear in die Oos-Kaap geneem.

Die aansoek om ’n groepsgeding teen 22 individue en maatskappye van Pickvest se mislukte Highveld-eiendomsindikasies (HS) 15-22 gaan voort. Beleggers kan ook steeds ná die administratiewe afsnydatum van 31 Januarie 2015 vir aansluiting by die aksiegroep registreer.

Meer as 7 000 beleggers het reeds tot die aksiegroep toegetree wat die groepsgeding wil instel.

Die volgende stap in die proses is dat die respondente hul opponerende eedsverklarings moet indien, sê Marina Verdoes, ’n woordvoerder van die prokureursfirma Theron en Vennote in Stellenbosch. Dié firma is betrokke by die aansoeke wat in Oktober verlede jaar ingedien is om ’n groepsgeding in te stel.

Die beleggers wat die groepsgeding steun, hou onder meer die direkteure van die sindikasies, lede van die invloedryke Georgiou-familie in Bloemfontein en die sakereddingspraktisyn Hans Klopper verantwoordelik vir “bedrieglike en roekelose gedrag wat daartoe gelei het dat beleggers die grootste deel van hul belegging, indien nie alles nie, verloor het”.

Verdoes sê sommige van die respondente het inspeksie en afskrifte van sekere dokumente waarna daar in die aansoekstukke verwys word, aangevra. “Gemelde dokumente sal binne die volgende twee weke beskikbaar wees vir inspeksie, waarna die respondente se opponerende stukke geliasseer behoort te word.”

Intussen het Orthotouch, die maatskappy wat die HS 15 tot 22 vier jaar gelede as deel van ’n sakereddingsplan gekoop het, sonder die medewete van die beleggers of kennisgewing aan hul regsverteenwoordigers, aan die einde van November 2014 eensydig by die Suid-Gautengse hooggeregshof aansoek gedoen om ’n nuwe reëlingskema deur ʼn hofbevel te bekragtig.

“Stappe word tans gedoen om gemelde bevel te wysig of tersyde te stel, in soverre dit op die beleggers betrekking het,” sê Verdoes.

Hoewel die eerste aansoeke net betrekking het op HS19 tot 22, wat onderhewig was aan ’n keerdatum vóór 31 Oktober verlede jaar, word die aansoekstukke van HS 15-18 ook nou opgestel en sal die twee sake gelyklopend wees as een groepsgeding.

Die organiseerders van die groepsgeding, die Highveld Syndication Action Group, het in die afgelope week ’n webwerf, ​www. hsaction.co.za, bekend gestel waar beleggers wat hulle by die groepsgeding aangesluit het, die nuutste inligting oor die vordering met die groepsgeding kan lees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.