Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: ‘Ekonomie is swak, maar nie in resessie’
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Die Reserwebank sê Suid-Afrika sal nie vanjaar ’n resessie beleef nie, al is die ekonomie swak.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in Lima, Peru, in ’n onderhoud met Reuters gesê al gaan inflasie bo die teikenband styg, is dit onwaarskynlik dat hulle met monetêre beleid (dus hoër rentekoerse) daarop gaan reageer.

Kganyago en ander ministers van finansies is in Peru vir die jaarvergadering van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank. Dit word van 9 tot 11 Oktober gehou.

“Ons verwagting is dat inflasie in die eerste en vierde kwartaal van 2016 buite ons teikenband sal styg. Ons glo dit is tydelik.”

In September het die Reserwebank sy verwagting vir ekonomiese groei tot 1,5% verlaag – vergeleke met 2% in Julie. Inflasie sal na verwagting vanjaar op 4,4% eindig, veilig binne die band van tussen 3% en 6%.

Kganyago sê egter die risiko’s vir inflasie hou verband met die rand, wat vanjaar al met sowat 20% teenoor die dollar verswak het in navolging van ander ontluikende lande terwyl markte op hete kole sit oor die langverwagte rentekoersstyging in die VSA.

Die Federale Reserweraad (Fed) kommunikeer “duidelik oor waarna hulle uitkyk,” meen Kganyago.

Hy sê daar is benewens die rand drie risiko’s vir die inflasievooruitsig: hoë loonverhogings, kragtariewe en die verwagting in die mark dat inflasie handuit gaan ruk. Verskeie sake- en arbeidsgroepe voorspel glo selfs inflasie van 7% oor die volgende drie tot vyf jaar.

Kganyago sê hulle is “tegemoetkomend” met die bank se rentekoers op 6%. Vir eers voorspel hy nie dat dit nodig sal wees om rentekoerse te verhoog nie – ten minste nie tot die eerste kwartaal van 2016 nie.

Kganyago sê die land is “naby” stagflasie (hoë inflasie tesame met trae groei), “maar dis ’n ekonomiese begrip wat ons baie versigtig gebruik”.

Hulle sal die medisyne die een of ander tyd moet sluk.
Tito Mboweni

Tyd vir koersverhoging?

Intussen het Tito Mboweni, voormalige president van die Reserwebank (van 1999 tot 2009), in ’n onderhoud met Bloomberg gesê die Reserwebank sal êrens rentekoerse moet verhoog, ondanks die verlangsaming in die ekonomie.

“Hulle sal die medisyne die een of ander tyd moet sluk.”

Mboweni sê die vooruitsig vir die rand is nie goed nie en die geldeenheid gaan nie sommer herstel in die lig van die verlangsaming in China nie.

Mboweni sê Suid-Afrika doen die regte ding deur nie te probeer ingryp om die waarde van die rand te ondersteun nie.

Nigerië se sentrale bank het reserwes verkoop en beheer oor buitelandse valuta probeer instel, maar dit werk nie, sê hy.

■ Intussen het verskeie amptenare van die Fed gesê rentekoerse in dié land moenie vanjaar verhoog word nie omdat inflasie nog te laag is.

Lawrence Summers, die VSA se minister van finansies, reken ook ’n “oorlog teen inflasie sal op hierdie tydstip ’n ernstige beleidsfout wees”.

Die Fed vergader later vandeesmaand oor rentekoerse.

- Bloomberg, Reuters

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.